Westend Landgoed van Hannes en Hano Lombard naby Morgenzon in Mpumalanga, het in September verlede jaar die 2017 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie gewen met die beste punte wat nóg in die vier jaar van die kompetisie behaal is.

Die boerdery bestaan uit verskeie vertakkings – akkerbou, ’n melkery en ’n bees- en skaapafdeling. Hulle produseer jaarliks ongeveer 20 000 ton kuilvoer in die melkery, waar met 1 000 koeie in koeihuise geboer word. Westend Landgoed is deur Vitam International vir die kompetisie ingeskryf.

Hano sê hulle het nie ’n enkele groot geheim vir hulle sukses met kuilvoer nie. “Ons het deurgaans vir ons ’n mikpunt gestel om elke vertakking so doeltreffend as moontlik te bedryf en elke proses so doeltreffend as moontlik te bestuur. Dit sluit ook in om die beste moontlike voer vir die diere te maak. Volgens my lê die geheim dus daarin om aan elke klein detail aandag te gee en elke ding wat jy doen, so goed as moontlik te doen.”

Hano Lombard en James Sutherland by een van die kuilvoerbunkers.

Fokus op elke aspek

Die span het daarop gefokus om elke aspek van die kuilvoermaakproses optimaal aan te pak. “Solank die somme klop, moet geen moeite of koste ontsien word om te verseker dat daar 100% doeltreffend na elke klein detail in die kuilvoermaakproses omgesien word nie.”

Hulle het AgSci Unlimited se kundigheid ingeroep en daar noukeurig aan elke faset van die kuilvoermaakproses aandag gegee.Ons het belangrike vrae gehad, en dit was baie belangrik dat ons kundige hulp inkry om dit te beantwoord. My raad aan ander produsente is om nie te skroom om kundige hulp te kry nie,” sê James Sutherland, wat aan die stuur van die melkery staan.

Verskeie aanpassings is gemaak om Westend se kuilvoermaakproses te optimaliseer. “Om die proses te optimaliseer, is deeglike beplanning noodsaaklik. Ons het om ’n tafel gesit en elke detail sorgvuldig beplan. Met die ekstra moeite wat gedoen is, het ons ’n nuwe standaard gestel waaraan ons onsself elke jaar kan meet. Ek is selfs oortuig dat ons nóg beter kan doen,” sê Hano.

Dis alles of niks

Hano meen ’n mens kan nie goeie kuilvoer met swak grondstowwe maak nie. “Die span by Westend Landgoed het dit besef en daarom is deurgaans gefokus om ’n droëmateriaalinhoud (DM-inhoud) van 35% of meer te handhaaf. As ons begin het om ’n land te sny, en ons sien die land is te nat en die DM begin lol, het ons eers daardie land laat staan. Die tydsberekening van sny is baie belangrik en ook een van die redes waarom dit voordelig is om soveel as moontlik beheer oor jou kuilvoermaakproses te hê.

“Met sny is dit byvoorbeeld voordelig om ’n eie masjien te hê sodat jy nie hoef te wag nie en op presies die regte tyd kan sny. Dit is een voorbeeld waar die uitgawe beslis die moeite werd is. Die keuse van kultivar wat ’n mens vir kuilvoer plant, is ook baie belangrik. Die algemene beginsel is dat ’n kultivar wat goeie graanopbrengs gee eintlik ook ’n goeie kuilvoerkultivar is, eerder as ’n kultivar met baie blare.”

Baie aandag is aan die voorbereiding van die bunker, asook die toemaakproses, gegee. Die bunkers se vloere is van beton, maar die wande is met kuilvoerseile uitgevoer om suurstof- en vogindringing te voorkom. Baie moeite is ook met die toemaakproses gedoen. Dit sluit in bolaagbehandelings om verliese te voorkom, asook dat die seile inmekaar gevou is op die nate en dat bande skouer teen skouer regoor die bunker gepak is. Dit alles is natuurlik om suurstof- en vogindringing te voorkom.

Die Westend-span het geen moeite of koste gespaar om te verseker dat die kompaksie maksimaal is nie. “Die kompaksie is deurgaans gemeet en wanneer die kompaksietempo nie bygehou het met die snytempo nie, is die snytempo vertraag deur waens terug te hou of is nog ’n kompaksietrekker bygesit,” vertel James.

Kompaksie is deurgaans gemeet en wanneer die kompaksietempo nie met die snytempo bygehou het nie, is die snytempo vertraag deurdat waens teruggehou is of nog ’n kompaksietrekker bygesit is.

Die waarde van kuilvoer

James sê kuilvoer is die grootste komponent van hul voervloei. “Ons het danksy die topgehalte van dié jaar se kuilvoer, asook die goeie opbrengs, reeds van 18,5kg tot 24,5kg kuilvoer per koei in melk per dag beweeg. Ons kon dit doen omdat ons weet dat ons goeie kuilvoer beskikbaar het. So word baie stabiliteit na die voervloei gebring en kon ons deurgaans beter beplan.”

Hano sê die feit dat dit ’n uiters goeie landbouseisoen was, was ’n groot bydraende faktor tot die sukses van die seisoen se kuilvoer. “Deur ’n uiters doeltreffende kuilvoermaakproses te volg, kon ons die seisoen se goeie oes optimaal benut en vir so lank as moontlik soveel as moontlik daaruit put.”

Westend Landgoed produseer op die oomblik mieliekuilvoer en sorghumkuilvoer, maar oorweeg ook ander moontlikhede. “Ons het al in die rigting van graskuilvoer en sojakuilvoer gedink, en is besig om ons huiswerk hieroor baie sorgvuldig te doen.”

Ontleed en weet

Volgens Hano lê die waarde daarvan om aan die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie deel te neem, daarin dat ’n mens jouself teen ander kan meet en dat jou kuilvoer in soveel detail ontleed word. “Dit is ’n uitstekende manier om die standaard van jou kuilvoer te bepaal, asook om jou swak punte te identifiseer.

“Ons het niks ongewoon gedoen om sulke uitstekende resultate te behaal nie. Ons het bloot elke faset so goed as moontlik probeer doen en deurgaans gevra: Doen ons dit goed genoeg? As die antwoord nee was, het ons daarby aangepas. Daar is geen twyfel nie, ons kan selfs nog beter doen!”

Vir meer inligting, skakel Hano Lombard by 083 630 1273 of stuur ’n epos aan hanowestend@gmail.com.

********************************************************

Oorsig van kompetisieresultate

Bolaagkompaksie is die moeilikste deel van die hele bunker se kompaksie. Die gemiddeld van die kompetisie was 173,6kg/m³ droëmateriaal (DM). Westend Landgoed se syfer was 260,7kg/m³ – die hoogste meting in die kompetisie. Dit is ’n besondere hoë kompaksie vir ’n bolaag.

Westend se kompaksie binne-in die bunker was ook baie hoog teen 333,2kg/m³. Dit was die tweede-hoogste meting in die kompetisie (die hoogste was 333,7). Die organiese materiaal (OM) verliesmeting was ook baie goed. Daar is op al drie parameters vir OM-verliese – bolaag, tweede laag en vyf-dag aërobiese monster – zero verliese (0%) gemeet.

Westend Landgoed se mieliekuilvoer was ’n uitstekende voorbeeld van goeie gehalte mieliekuilvoer. Dit het ’n lae NDF-verteerbaarheid (37,9%), goeie ruproteïen (8,1%), wat verwag kan word van 38,7% DM-kuilvoer, baie goeie stysel (35,6%) en hoogs degradeerbare stysel (sewe ure toets) van 72,9%. Die pH was 3,81. Selfs ná vyf dae was die pH steeds stabiel op 3,85, wat beteken dat die kuilvoer aërobies stabiel is.

Die 2017 Santam Landbou kuilvoerkoning is Westend Landgoed. Van links is Richardt Venter, mede-koördineerder van die kompetisie, Gerhard Diedericks, hoof van Santam Landbou, hoofborg van die kompetisie, en Hano en Imke Lombard van Westend Landgoed.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here