Die omstredenheid rondom onteiening sonder vergoeding is onlangs op die spits gedryf met ’n verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou.

Suid-Afrika se landbougemeenskap gaan sedert die ANC se nasionale kongres in Desember 2017 gebuk onder beleidsonsekerheid. Sekere besluite is ter elfder ure by die kongres geneem om die weg te baan vir wat sedertdien bekendstaan as onteiening sonder vergoeding, en die meegaande beoogde wysiging van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996, oftewel die Grondwet).

Na die besluit is landswye openbare verhore gehou oor die voorgenome wysiging van die Grondwet. Die proses het uitgeloop op ’n parlementêre besluit om die Grondwet te wysig.

Voorgenome wetgewing

Intussen is konsepwetgewing vir ’n nuwe Onteieningswet ook op die tafel geplaas om, gelyklopend met die wysiging van die Grondwet, die omstandighede te bepaal waaronder onteiening sonder vergoeding mag plaasvind.

Hierdie omstandighede is soos volg bepaal in Artikel 12(3) van die voorgenome wetgewing:

  • Waar die grond deur huurarbeiders bewoon of gebruik word, soos omskryf in die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders), 1996 (Wet 3 van 1996).
  • Waar grond uitsluitlik vir spekulatiewe doeleindes/redes besit word.
  • Waar grond deur ’n korporasie of entiteit besit word waarin die belange deur die staat gehou word.
  • Waar die eienaar van grond afstand gedoen het daarvan.
  • Waar die markwaarde van die grond gelyk of minder is as ’n direkte staatsbelegging of subsidie vir die verkryging van die grond of enige voordelige kapitale verbeterings op die grond.

Ongelukkig word sekere belangrike woorde wat in hierdie voorgestelde bewoording vervat is, nie in die definisieklousule omskryf nie.

Uiteenlopende standpunte

Die adviespaneel se verslag bevat uiteenlopende standpunte oor die interpretasie van die Grondwet. Dit sal sonder twyfel die onderwerp van toekomstige litigasie word indien die toekomstige bewoording van Artikel 25 van die Grondwet (ook bekend as die Eiendomsklousule) nie versoenbaar is met die res van die bepalings en oogmerke nie.

Hou veral in gedagte dat die aard en strekking van regstellende maatreëls waartoe in die Grondwet ooreengekom is, daarop geskoei was dat sodanige maatreëls herstellend was en uit staatsfondse vergoed sou word. Die oogmerk was allermins dat individuele grondeienaars die las sou dra of dat die kriteria van bewese historiese ontneming van grondregte met ras vervang sou word.

Riglyne vir onteiening

Die paneel se aanbevelings oor die omstandighede waaronder onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, is die volgende:

  • Waar die eienaar afstand gedoen het van grond.
  • Eiendom wat hopeloos met skuld belas is.
  • Grond wat uitsluitlik besit word vir spekulatiewe doeleindes/redes.
  • Ongebruikte grond waarvan staatsinstellings die eienaar is.
  • Grond wat deur misdaad bekom is.
  • Grond wat reeds bewoon en gebruik is deur huurarbeiders of voormalige huurarbeiders.
  • Informele woongebiede.
  • Stedelike geboue waar die eienaars afwesig is of nie beheer uitoefen nie.
  • Grondskenking (as ’n bepaalde verskynsel van onteiening sonder vergoeding).
  • Plaasekwiteitskemas.

Verder beveel die adviespaneel aan dat die kantoor van die waardeerder-generaal se werksaamhede onder die Wet op Eiendomswaardasies, 2014 (Wet 17 van 2014) hersien word. Volgens die aanbevelings moet die betrokke funksionaris nie net na eiendom se markwaarde kyk by die vasstelling van vergoeding aan grondeienaars by grondhervormingstransaksies nie, maar moet vergoeding regverdig en billik volgens ’n vergoedingsbeleid plaasvind.

Grondeisehof se magte

Die paneel beveel aan dat die huidige Grondeisehof vervang word met ’n nuwe ‘Grondhof’ met uitgebreide funksies rondom die implementering en hantering van onteiening sonder vergoeding. Die hof se magte moet ook uitgebrei word om te verseker dat die bestaande grondeise ingevolge die Wet op Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) vinniger hanteer kan word.

Die aanbevelings wat betrekking het op onteiening sonder vergoeding is maar net een van talle omvattende maatreëls in die verslag. Sommige voorstelle word verwelkom, maar ander voorstelle doen baie min om die huidige onsekerheid uit die weg te ruim.

Ten slotte kan gevra word of daar nie te min klem geplaas word op die redes waarom grondhervorming die afgelope 25 jaar misluk het nie. ’n Mens wonder of die nuwe maatreëls en strukture daadwerklik ’n verskil aan wanadministrasie en korrupsie gaan maak, en of dit nie bloot nog moeiliker gaan wees om beheer oor ’n uiters sensitiewe saak uit te oefen nie. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.