Hulle sê soms daar is niks nuut onder die son nie. Is dit dalk ook so met kuilvoer?

Ek het onlangs die voorreg gehad om met ’n boer van Jacobsdal, oom Kobus Nel, oor sy ervaring met kuilvoer te gesels. Oom Kobus is op 10 Februarie 1944 gebore. Hy het vier bladsye uit sy persoonlike geskrewe boerderyhandleiding met my gedeel. Daarin het hy op 8 Junie 1960 oor kuilvoer geskryf. Dit was na aanleiding van ’n lesing oor kuilvoer by die landbouskool op Jacobsdal en hy was toe slegs 16 jaar oud!

Wat my die meeste opval uit hierdie wonderlike blik op die verlede, is hoe ons boere soms vandag nog sukkel met sekere basiese beginsels, wat volgens hierdie inligting uit 1960, eintlik toe alreeds algemeen erkende konsepte was.

’n Raak beskrywing

Oom Kobus skryf: “Kuilvoer word gemaak deur groenvoer op so ’n wyse te bewaar en op te berg, dat die sappigheid onveranderd bly. Dit word ook verwag dat die voedingswaarde dieselfde sal bly, en dit word moontlik gemaak deur die groenvoer in kuilvoertorings te bewaar, waar die lug uitgesluit word en gewenste sure gevorm word wat dit teen bederf bewaar. Goeie kuilvoer is sappig, smaaklik, het ’n hoë voedingswaarde, die kleur wissel van liggeel tot groen en donkerbruin, en dit moet ’n aangename, effens suur, vrugtige reuk hê.”

Hierdie paragraaf kan amper net so as ’n definisie en beskrywing van kuilvoer gebruik word. Kuilvoer gaan alles oor die bewaring van ’n plant in ’n sekere groeistadium, om dit dan later in die jaar te gebruik. Almal weet vandag dat die voedingswaarde ongelukkig nie ‘onveranderd’ bly nie, omdat kuilvoer ’n proses van verliese is. Maar produsente streef steeds daarna om die voedingswaarde so na as moontlik aan dié van die oorspronklike gewas te behou.

Kuilvoer word oor die algemeen nie meer in kuilvoertorings gemaak nie, maar baie plase regoor Suid-Afrika het nog ou torings wat hiervoor gebruik was. Produsente het hoofsaaklik na bunkers, hope en silosakke oorgeslaan weens die oprigtingskoste van sulke torings, asook die snytempo en groot hoeveelhede wat so toegeneem het, dat torings nie meer sin maak nie.

Die reuk van kuilvoer

Oom Kobus is 100% reg met die feit dat sure, en natuurlik hoofsaaklik melksuur, kuilvoer preserveer. Sy beskrywing van goeie kuilvoer se reuk is ook in die kol. Selfs vandag nog word kuilvoer se reuk in die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie met presies dié beskrywing geëvalueer en onderskei.

Oom Kobus skryf verder oor die sogenaamde ‘gisting’, wat vandag bekendstaan as primêre fermentasie. Die woord ‘gisting’ kan misleidend wees, want gis is juis die hoofgroep bederforganismes in kuilvoer en speel ’n groter rol nadat kuilvoer oopgemaak/uitgehaal is as tydens die aërobiese onstabiliteit daarvan.

Ek haal hom aan: “Soort gisting wat die ingekuilde groenvoer ondergaan: Die gistingsproses begin onmiddellik nadat die groenvoer ingekuil is en die kuilvoer se sukses hang af van hoe hierdie gisting verloop. In dié opsig is daar twee groepe faktore wat die deurslag gee, naamlik die rol van plantselle en die rol van organismes.”

Primêre fermentasie

Die woord ‘onmiddellik’ staan hier uit, en ek kon dit self nie beter gesê het nie! Primêre fermentasie begin so vinnig, dat ek persoonlik al binne 24 uur ’n daling van tot onder 4 in die pH van mieliekuilvoer gemeet het – en dit was nog nie eers klaar gekompakteer nie. Dit is ook baie waar dat die kuilvoer se sukses van dié proses afhang, en waarom enigiets wat ’n mens in hierdie tyd suboptimaal doen tot groter verliese en swakker gehalte lei.

Die rol van die plantselle verwys na die vogvlak tydens snytyd en die voortdurende sellulêre respirasie, wat tot groter verliese lei as dit nie reg bestuur word nie. Die organismes verwys natuurlik na die bakterieë wat fermentasie bemiddel, asook al die bederforganismes wat dit probeer teenwerk.

Ek bespreek dié twee onderwerpe volgende maand verder. Dankie aan oom Kobus Nel vir hierdie insig en kuilvoerles uit 1960! – Richardt Venter, Agsci Unlimited