’n Moeilike somergewas-seisoen lê voor

0
744
mielieprodusente

Plantdatums, reënval en vordering met aanplantings is die afgelope weke op almal se lippe. Hoeveel somergewasse kan geplant word en hoe gaan die oes lyk?

Volgens Graan SA is dit ’n baie moeilike produksiejaar weens hitte en droogtetoestande wat tydens planttyd voorgekom het en in baie plekke steeds voortduur. “Hoewel produsente in die westelike dele van die land se optimale planttyd vir mielies middel November begin het, het aanplantings grotendeels eers begin Januarie afgeskop, wat meebring dat produsente nie die hektare kan aanplant wat hulle beplan het nie,” sê Petru Fourie van Graan SA.

Luan van der Walt, ook van Graan SA, sê dat baie van die aanplantings buite die optimale plantvenster gedoen is. “Dit beteken dat al dié mielies met ’n groot produksierisiko geplant is en dat die opbrengspotensiaal van die mielies belemmer word.”

Volgens Van der Walt gaan dit beslis ’n moeilike seisoen wees, juis as gevolg van die groot persentasie laat aanplantings. “Dit is op dié stadium regtig moeilik om te sê wat die totale impak op produksie gaan wees. Produsente se uitdaging is om beide die produksie- en prysrisiko te bestuur. ’n Moeilike tyd lê beslis voor. Die aanduiding is dat die produksierisiko hierdie seisoen ’n groter bron van kommer as die prysrisiko gaan wees.”

Van der Walt sê dat mieliepryse tans baie wisselvallig is. “Dit is ’n tipiese weermark-situasie. Die pryse behoort in die volgende paar weke steeds baie wisselvallig te bly totdat daar meer sekerheid in die markte is rakende moontlike produksievlakke vir die seisoen. Die onsekerheid in die markte bring groot prysbewegings, wat beide geleenthede en risiko’s in die mark skep.”

Produksietoestande

Volgens Graan SA se jongste oorsig oor produksietoestande (soos op 7 Januarie), staan sake so in die verskillende streke:

Noordwes-provinsie

Die meeste aanplantings het eers buite die optimale plantvenster begin. Die huidige beraming is dat tot op datum ongeveer 50 tot 60% van dié provinsie se mielies aangeplant is. Daar is ook sprake dat produsente tot die einde van hierdie week (11 Januarie 2019) nog sal poog om mielies te plant.

Wat sojabone betref, is die skatting dat slegs die helfte van die streek se sojabone weens baie droë toestande aangeplant kon word. Tyd is nog oor vir sonneblomaanplantings en die beraming is dat sowat 10 tot 20% reeds geplant is.

Noordwes-Sentrale Vrystaat

Droogtetoestande het somergraan-aanplantings in dié omgewing baie negatief beïnvloed. Reën het sedert einde Desember en begin Januarie kol-kol voorgekom en die aanplantings is dus baie wisselvallig. Die skatting is dat slegs sowat 25 tot 35% van die beplande mielie-hektare geplant is. Baie min sojaboon en sonneblom- aanplantings is tot dusver gedoen. Daar is nog tyd vir sonneblom-aanplantings en as goeie reën val, sal produsente nog poog om sonneblom te plant.

Noord-Kaap

In dié provinsie vertoon mielies en sojabone baie goed, en die skatting is dat produsente 100% van hulle voornemende aanplantings kon plant. Minimale grondboon-hektare is egter aangeplant weens die moeilike grondboonseisoen wat produsente verlede jaar ervaar het. Toestande is ook oor die algemeen baie droog in die provinsie, met geen tot baie min reën wat voorgekom het.

Oos-Vrystaat

 VKB-bedieningsgebied

Hoewel sowat 70% van die mielie-aanplantings buite die optimale plantvenster gedoen is (twee tot drie weke later as normaalweg), word beraam dat produsente hul beplande mielie-hektare grotendeels aangeplant het. Baie lae ondergrondse vogtoestande veroorsaak dat gewasse baie swaarkry en opvolgreën is noodsaaklik. Verder het hael in sekere gebiede voorgekom, wat skade aan gewasse veroorsaak het.

Skattings dui ook daarop dat minder sojabone en droëbone aangeplant is. Daar is nog geleentheid vir produsente om sonneblom te plant.

OVK-bedieningsgebied

As gevolg van uitdagende toestande tydens planttyd weens die droogte, is die verwagting dat minder mielies en sojabone in die gebied geplant is as wat oorspronklik beplan is. Opvolgreën is ook noodsaaklik in die gebied aangesien gewasse baie swaar kry. Daar is nog geleentheid vir sonneblom om geplant word en die verwagting is dat meer sonneblom aangeplant kan word as wat oorspronklik beplan is.

KwaZulu-Natal

Die stand van gewasse in dié provinsie wissel van mielies wat al in saad kom tot baie jong saailinge wat laat geplant is. Gewasse vertoon wel oor die algemeen mooi. Toestande in die provinsie is baie uiteenlopend. Dit is baie droog in die Bergville/Winterton-omgewing, terwyl dit baie mooi in Noord-Natal (die Vryheid-omgewing) gereën het. Vir veral mielies wat in saad kom, is opvolgreën baie belangrik. Hael het plek-plek in die provinsie voorgekom.

Mpumalanga

Die grootste nuus uit die provinsie was erge hael in die Stofberg/Groblersdal-omgewing, wat gewasse erg beskadig het. Gewasse het in dele van die provinsie baie swaar gekry, maar vertoon sedert Kersfees gemiddeld tot goed. Droogtestremming is tot ’n erger mate in die Amersfoort/Morgenzon-omgewing ervaar.

Limpopo

Baie boere in die noordelike besproeiingsgebied het oorbeweeg na die plant van katoen, eerder as mielies en sojabone. In die droëland-gebied het goeie reën sedert die begin van 2019 voorgekom en is produsente volstoom besig om mielies en sorghum te plant. Daar is nog heelwat tyd vir sonneblom-aanplantings. Daar is in kontras met ander provinsies sprake dat landerye in sekere dele van die provinsie te nat is, wat aanplantings vertraag.

Boere kry swaar

Jannie de Villiers van Graan SA sê indien al die inligting in ag geneem word, lyk dit beslis asof ’n rowwe tydperk vir produsente voorlê. “Soos reeds genoem, is dit moeilik om nou reeds te voorspel, maar die kanse vir ’n te klein oes word by die dag groter. Die meeste boere was tydens die 2016-droogte nog in die posisie om die droogte te oorleef, maar hierdie keer is dit nie die geval nie en baie boere is glad nie in ’n oorlewingsposisie nie.”

De Villiers sê ’n misoes beteken dat ’n graanboer eers in Julie 2020 weer die geleentheid tot inkomste sal hê, terwyl vaste koste en insetkoste vir die seisoen steeds gedek moet word. “Graan SA sal met insetverskaffers, finansiële instansies en die regering in gesprek tree om oplossings vir die ondersteuning van dié boere te vind.” – Marike Brits, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here