’n Besige week en ’n half met baie lekker weer – dit is hoe vanjaar se Bloemskou, wat van 26 April tot 5 Mei 2018 gehou is, beskryf kan word. Vanjaar se monstertema het groot aftrek gekry, veral onder die kinders, en die is tema goed deur die onderskeie uitstallers in hulle stalletjies uitgebeeld.

’n Vol landbouprogram was weereens deel van die skou se kern en het verskeie hoogtepunte ingesluit, wat insluit een wêreldskou, sewe nasionale en 17 streeks- en provinsiale landboukampioenskappe van perde, beeste en kleinvee. Sowat 5 000 diere is gedurende die Bloemskou op die Bloemfontein-skougronde geakkommodeer.

Veeplaas was daar en deel ’n paar foto’s van hoogtepunte tydens die skou. Lees ook hier en hier oor die SA Stamboek 2018 Elite-toekennings en die streekrondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, wat tydens die skou aangebied is.

Foto’s deur Brent Jammer, André Ferreira, WA Lombard en Michelle Verster

Veeplaas-skolekuddes by Bloemskou

Die Veeplaas Skolekudde-projek is nou reeds drie jaar aan die gang, en dit was verblydend om te sien dat diere uit dié kuddes ook aan nasionale en streekskampioenskappe by die Bloemskou deelgeneem het. Dié diere het ook goed presteer.

Die volgende prestasies is behaal:

  • Veeplaas Blouskool Santa Gertrudis-stoet (Hoërskool Kroonstad (Blouskool): Bul (15-18 maande klas) tweede plek en reserwekampioen in die bulkalfkompetisie.
  • Veeplaas Unicom Braunvieh-stoet (Unicom Landboukollege): Koei (ses jaar en ouer) eerste plek, bul (ses tot twaalf maande klas) tweede plek, vers (24-36 maande klas) tweede plek.
  • Veeplaas Reddersburg Dexter-stoet (Hoërskool Hendrik Potgieter): Bul (ses tot nege maande) derde plek.
Die span van Hoërskool Kroonstad (Blouskool) saam met een van  hulle skoubulle.
Die Unicom-span was baie trots op hulle beeste en uitstalling.
Daniel Lombard van Hoërskool Hendrik Potgieter op Reddersburg saam met die skool se eerste eie bulkalf.

Interras-aksie in die ring

Die jaarlikse Absa vleis- en dubbeldoelbees-interraskompetisie is een van die groot hoogtepunte by die Bloemskou. Vanjaar se interraskampioen is ’n Sussex-bul van die Platdrif-stoet van Nollie Stofberg van die Worcester-omgewing. Van links is Felix Titus, hanteerder, Nollie Stofberg van Platdrif Sussex by Worcester, wenner, Maláni Stofberg en Phillip Lee van Hinterland. Phillip het die eienaar se uitnodiging na die Hinterland Nasionale VleisbeesInterraskampioesnkap by ALFA 2018 aan hom oorhandig. As wenner by die Bloemskou, kwalifiseer die bul vir dié kampioenskap.

Die beeste in die ring by die Absa vleis- en dubbeldoelbees-interraskompetisie.

Hoor meer oor die nasionale Sussex-kampioenskappe

Groei- en voeromsettoets van Suffolk-ramme getoets

’n Suffolk-ram van Carel Greyling van Makwassie is by die Bloemskou as die beste ram in die intensiewe groei- en voeromsettoets vir Suffolk-ramme aangewys. Die toets is ’n inisiatief wat deur SA Stamboek gekoördineer is, met Siebert Vermeulen aan die stuur van sake. Luister wat Carel Greyling op RSG Landbou te sê gehad het.

Die visuele voorkoms en rasstandaarde word ook tydens die beoordeling van die klas in ag geneem, met ander woorde daar word  gestreef om ’n mooi en  goeie dier te identifiseer. Daar word beplan om in die toekoms ook ander skaaprasse, wat ook vir die doeltreffende gebruik van voer geselekteer word, in die toets te akkommodeer. Hoor wat Siebert Vermeulen oor die kompetisie te sê gehad het.

Agter van links is Derick Strauss, dr Japie van der Westhuizen van SA Stamboek, Carel Greyling, Abraham Greyling, Jaco van Wyk van Nupro en Siebert Vermeulen van SA Stamboek. Voor is Theuns Barnard van BKB, Oompie Moshlabae en Mianell Greyling.

Die Suffolk nasionale kampioenskap is ook tydens die Bloemskou gehou. ’n Ram van die Twee Seuns Suffolk-stoet van Barkly-Oos is tydens die kampioenskap as die senior en grootkampioen-ram aangewys. Die senior en grootkampioen-ooi was ook een van die Twee Seuns Suffolk-stoet se diere.

Agter van links is Henry Naude van BKB en Boetie en Tjaart Steenekamp van die Twee Seuns Suffolk-stoet. Voor is Fuks Ntiee, wat die kampioen-ram hanteer

Dorpers by Bloemskou

Die Dorper en Witdorper-wêreldkampioenskap het vir groot opwinding by die Bloemskou gesorg. Die senior grootkampioen-ram tydens die skou was Bolt Junior van Mickey Phillips van Tarkastad. Van links is Mickey Phillips, Skapie Kokora, Vanessa Phillips, Phakamane Bhalimani en Ashley Phillips. 

By die Witdorpers was die senior grootkampioen-ram V8 (regs), en die reserwe-grootkampioen en reserwe-seniorkampioen Safari (links). Die eienaar is Peet Cilliers van Vergesig naby Upington. Van links is Stiaan von Wielligh van KLK, Tromp Cilliers, Jafta Olyn, Peet Cilliers, Nicolaas Wessels en Ernest King van Nutri Feeds.

Veldmerino-kampioenskap

Die nasionale Veldmerino-kampioenskap is ook tydens die Bloemskou gehou. Van links is Abrie Griesel en Andries Moteudi van Springfontein by die poenskop-kampioen van die jaar.

Theron Swanepoel van Smithfield wys trots die Vrystaat-ram van die jaar. 

Jandré en Christo Marais van Pylkop Merino’s naby Edenburg by die langwol-ooilam wat as wenner aangewys is.

SAVM Super 10-ramkampioenskap

SAVM Super 10-ramkampioenskap is tydens Bloemskou gehou. Die junior kampioen-ram, 7080 GZ, is deur Van Aardt Greyling van Ricksuhill by Lady Grey en Laurens Kalipa vertoon. Links is John Melville van OVK.
Die junior kampioen ligte ramlammers, 7228 GM en 7239 GM, is deur Andre en Michelle Malherbe van die Gert Malherbe-boerdery by Hertzogville vertoon. Links is Jonas Kula en regs is Ben Lefu.
Die kampioen swaar ramlam, 7084 GZ, is deur Van Aardt Greyling van Ricksuhill by Lady Grey en Pietman Lande vertoon. Links is Theuns Barnard, BKB-borg.