AGCO, ’n wêreldwye vervaardiger en verspreider van die Challenger-, Fendt-, Massey Ferguson- en Valtra-handelsmerke, het ’n tweevlak-verspreidingsmodel aanvaar. Suid-Afrikaanse handelaars sal met ingang van 1 Oktober 2020 regstreeks vanaf die streekhoofkantoor in Johannesburg sodanig bedien word.

To read this post in English, please click here.

Die stap om alle aspekte van verspreiding self te hanteer, spruit uit ’n hernude kliëntgefokusde benadering namate AGCO nader aan sy handelaarsnetwerk beweeg. Die herstrukturering bied ’n gulde geleentheid om meer waarde in die verspreidingsketting te ontsluit, aangesien dit handelaars in staat stel om ’n meer doeltreffende diens aan boere te lewer.

Tot op hede is die plaaslike verspreiding van AGCO se Challenger-, Fendt- en Massey Ferguson-handelsmerke deur BHBW, ’n gesamentlike onderneming van Barloworld en BayWa, hanteer, terwyl die Valtra-handelsmerk deur Valtrac (Edms) Bpk versprei is. Die verspreidingsmodel word in fases gewysig. Eers migreer Massey Ferguson- en Challenger-handelaars na direkte verspreiding vanaf AGCO. Daarna sal ’n plaaslike handelaarsnetwerk vir AGCO se premium handelsmerk, Fendt, gevestig word. Valtra-produkte sal steeds deur AGCO se vennoot, Valtrac, versprei word.

’n Verspreidingsproses wat doeltreffendheid verhoog

Die besturende direkteur van AGCO Africa, dr Dominik Reus, verduidelik: “Met Suid-Afrika wat meer as 40% tot die Afrika-mark bydra, was dit tyd om die besigheidsmodel hier te hersien. Die nuwe verspreidingsmodel skep ’n regstreekse kommunikasiekanaal na ons handelaars. Dit sal ’n vinnige en doeltreffende verspreidingsproses, van bestelling tot produklewering, verseker. Dit terwyl AGCO sy vinger hou op die pols van marktendense en die reaksie op ons produkaanbod.”

Luister hier na ‘n onderhoud op RSG Landbou met dr Dominik Reus.

Die kern van die hersiene verspreidingsmodel is groter winsgewendheid vir AGCO-handelaars, sodat hulle ’n beter diens aan boere kan lewer. Die direkte roete na handelaars sal hul mededingendheid verhoog en gehalte dienslewering bevorder.

“Handelaars sal meer beheer oor hul handelsbedrywighede hê, met die gerusstelling dat hulle die volle ondersteuning van die ontwerper, vervaardiger en nou ook verspreider van hul vertroude landboumasjinerie en -oplossings geniet.”

AGCO sal tydens die oorgangsfase verseker dat daar ’n bestendige vloei van nuwe heelgoedere- en onderdelevoorraad uit sy internasionale fabrieke is. ’n Oproep om aansoeke is gerig aan alle meganisasiehandelaars wat die waarde van die Fendt-handelsmerk besef en bereid is om hulle handelaarskap te posisioneer om aan die vereistes van AGCO se strategiese groeiplanne te voldoen.

Ondersteuningsnetwerk vir ’n robuuste landboubedryf

AGCO se hersiene verspreidingsmodel word ingestel in ’n tyd wanneer die wêreld met ’n uitdagende ekonomiese omgewing met ’n al groter vraag na voedselsekerheid en kos gekonfronteer word. Dit bied aan AGCO die geleentheid om by te dra tot die groei van ’n robuuste landboubedryf in Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor AGCO Verspreidingsbestuur in Suid-Afrika, kontak die span by [email protected].

Kyk hier na ‘n gesprek met dr Dominik Reus op Plaas TV.

Oor AGCO 
AGCO (NYSE:AGCO) is ’n wêreldleier in die ontwerp, vervaardiging en verspreiding van landbou-oplossings en bied hoëtegnologie-oplossings aan voedselprodusente deur ’n volledige reeks toerusting en verwante dienste. AGCO-produkte word verkoop onder vyf kernhandelsmerke, naamlik Challenger®, Fendt®, GSI®, Massey Ferguson® en Valtra®, en word deur Fuse®-slimboerdery-oplossings ondersteun. AGCO, wat in 1990 gestig is met sy hoofkantoor in Duluth, Georgia in die VSA, het in 2019 netto verkope van $9 miljard behaal.

Besoek http://www.AGCOcorp.com vir meer inligting. Vir maatskappynuus, -inligting en -geleenthede, volg ons op Twitter @AGCOCorp. Vir finansiële nuus op Twitter, volg die #AGCOIR hutsmerk.