Agritoerisme is ’n relatiewe nuwe konsep in Suid-Afrika en min produsente weet wat presies dit behels. Agritoerisme is die samesmelting van die landbou- en toerismebedrywe. Dit word op ’n plaas aangebied, maar oorvleuel met verskeie ander toerismesektore soos ekotoerisme, landelike toerisme, wildlewe- en jagtoerisme, avontuurtoerisme, geotoerisme, kulturele en erfenistoerisme, asook wyntoerisme.

Die meeste van hierdie bedrywe het ’n natuurelement en word op ’n volhoubare wyse benader. Van die grootste voordele van agritoerisme sluit ’n bykomende inkomste vir die produsent, meer werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap, ekonomiese voordele vir die gebied, bewaring van natuurlike en kulturele elemente, asook die diversifisering van boerdery-aktiwiteite, in.

Agritoerisme word gedefinieer as enige aktiwiteit wat ’n toeris toelaat om ’n werkende plaas te besoek vir opvoeding, genot of om aktief by die plaas se daaglikse bedrywighede betrokke te wees.

Navorsers aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het die grootte en omvang van agritoerisme in Suid-Afrika ondersoek deur na die agritoerisme-produkte (aktiwiteite en trekpleisters) wat boere op hul plase aanbied, te kyk. In dié artikel word die demografiese profiel van die respondente (produsente), asook die agritoerisme-produkte in elke provinsie uiteengesit, voordat die hoofbevindings uitgelig en aanbevelings daaroor vir die bedryf gemaak word.

Navorsingsagtergrond

Die navorsing is deur die universiteit se Skool vir Toerismebestuur en die navorsingseenheid Tourism Research in Economic Environs and Society (TREES) onderneem.

Die vraelys is tussen Julie 2017 en Junie 2018 by verskeie landbougeleenthede onder plaaslike produsente versprei, insluitend by die Agri SA-kongres, Agri Wes-Kaap se streekvergaderings, Agri Noord-Kaap se voorsittersvergadering, NAMPO Oesdag, AGRI 5 se kommoditeitswerkswinkel en -uitstalling, Agri Vrystaat se Jongboer-kongres, en die Aartappels SA-kongres.

Dit is ook aanlyn deur verskeie organisasies, soos Agri SA, TLU, Agri Wes-Kaap, Agri Mpumalanga, Agri Gauteng, Agri Limpopo, Agri Vrystaat, die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK), Vrystaat Vroue Landbou-unie (VVLU), Farmer’s Weekly en Agri-tourism South Africa, beskikbaar gemaak. Ander organisasies en platforms sluit Grootplaas (kykNET), RSG, NWU TREES en OVK se nuustydskrif in. ’n Totaal van 557 bruikbare vraelyste is van regoor die land ingesamel.

Resultate van die studie

Die respondente was hoofsaaklik mans tussen die ouderdom van 30 en 59 jaar met ’n diploma of graad. Hulle is op ’n gemiddelde ouderdom van ses vir die eerste keer aan boerdery blootgestel en het op ’n gemiddelde ouderdom van 14 besluit om ’n boer te word. Die meeste respondente is derdegenerasie-produsente of meer en boer aktief vir ’n gemiddeld van 19 jaar.

Verskillende tipes boerderye is aangedui, hoofsaaklik veeboerdery, gemengde boerdery (vee en gewasse), saaiboerdery, tuinbougewasse (bv. gedroogte vrugte, bessies, sjerrie, vonkelwyn en kelderprodukte) en wildboerdery.

Vanuit die 557 respondente het 148 aangedui dat agritoerisme tans op hul plase aangebied word. Respondente beskou die volgende as die belangrikste redes waarom hulle agritoerisme-produkte aanbied:

  • Volledige benutting van hulpbronne.
  • Addisionele inkomste.
  • Bewaring van natuurlike hulpbronne en die ekosisteem.
  • Ontspanningsaktiwiteite vir besoekers.

Die gewildste agritoerisme-produkte is plaasverblyf, jag, stap- of natuurroetes, wildlewebesigtiging en -fotografie, fietsry, plaastoere, visvang, voëlkyk, troues en spesiale geleenthede, piekniek, kampering, diereritte soos perdry, restaurante, bergklim, wateraktiwiteite en 4×4-roetes. Figuur 1 beeld die top 17 agritoerisme-produkte uit.

Uitskieters per provinsie

Die data wat deur middel van die vraelyste ingesamel is, is verder verwerk om die uitskieters in elke provinsie aan te dui. Persentasies word getoon in verhouding tot die aantal respondente per provinsie wat agritoerisme-produkte aanbied.

Wes-Kaap
Respondente uit dié provinsie bied 44 van die 47 geïdentifiseerde agritoerisme-produkte aan. Die gewildste produkte sluit in plaasverblyf (76%), plaastoere (19%), stap- of natuurroetes (43%), fietsry (43%), voëlkyk (36%), troues en spesiale geleenthede (33%), wildlewebesigtiging en -fotografie (29%), visvang (26%), restaurante (26%), wateraktiwiteite (24%), jag (24%) en piekniek (24%).

Noord-Kaap
Hier is 24 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer en die gewildste is jag (67%), plaasverblyf (53%), wildlewebesigtiging en -fotografie (47%), diereritte (33%), kampering (33%), plaastoere (33%) en 4×4-roetes (27%).

Noordwes
In dié provinsie is die volgende agritoerisme-produkte geïdentifiseer: plaasverblyf (79%), jag (64%), diereritte (29%) en wildlewebesigtiging en -fotografie (21%). Dit blyk dat agritoerisme nie buitengewoon in die Noordwes uitgebrei het nie.

Vrystaat
Hier is 25 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waarvan die meeste op buitelug-ontspanning fokus, terwyl min vermaak en direkte verkope op plase aangebied word. Die volgende agritoerisme-produkte is baie gewild: plaasverblyf (65%), jag (55%), visvang (30%), fietsry (25%), stap- of natuurroetes (20%), wateraktiwiteite (20%), piekniek (20%), wildlewebesigtiging en -fotografie (15%) en voëlkyk (15%).

Mpumalanga
Hier is slegs 22 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, wat die volgende insluit: plaasverblyf (55%), visvang (45%), jag (45%), wildlewebesigtiging en -fotografie (36%), plaastoere (36%), stap- of natuurroetes (27%), en selfpluk- of oes-aktiwiteite (27%).

Limpopo
In dié provinsie is 29 verskillende soorte agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waarvan jag (79%), plaasverblyf (79%), sosiale geleenthede (43%), stap- of natuurroetes (36%), wildlewebesigtiging en -fotografie (36%), plaastoere (36%), en troues en spesiale geleenthede (36%) die gewildste is.

Gauteng
Interessant genoeg bied baie min (7%) van die respondente wat plase in Gauteng besit, enige vorm van agritoerisme op hul plase. ’n Mens sou dink dat daar meer plase met toerisme-produkte is, aangesien hulle so naby aan stede soos Johannesburg en Pretoria geleë is. Daar was slegs twee respondente en hulle het die volgende aangedui: verfbal (paintball), 4×4-roetes, kleilatskiet, voëlkyk, jag, en stap- of natuurroetes.

KwaZulu-Natal
Hier is 36 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waaronder stap- of natuurroetes (83%), plaasverblyf (83%), wildlewebesigtiging en -fotografie (67%), visvang (67%), slagveldroetes (67%), jag (50%), historiese gedenktekens (50%), troues en spesiale geleenthede (50%), bergklim (33%), diereritte (33%), wateraktiwiteite (33%), fietsry (33%), voëlkyk (33%), piekniek (33%), 4×4-roetes (33%), museums (33%), plaastoere (33%) en restaurante (33%).

Oos-Kaap
Respondente uit dié provinsie bied 34 verskillende agritoerisme-produkte, waarvan die belangrikste plaasverblyf (89%), stap- of natuurroetes (67%), wildlewebesigtiging en -fotografie (56%), jag (56%), piekniek (44%), plaastoere (44%), bergklim (33%), fietsry (33%), voëlkyk (33%), hansdieretuin (33%), sosiale geleenthede (33%) en pad- of plaasstalletjies (33%) is.

Belangrikste bevindings

Jag is steeds die nommer een of twee aktiwiteit in die provinsies wat tradisioneel daarmee geassosieer word (Limpopo, Noordwes en Noord-Kaap). Die gewildste trekpleister, andersins, is plaasverblyf. In KwaZulu-Natal is historiese gedenktekens op die voorgrond terwyl wyntoerisme in die Wes-Kaap oorheers.

In terme van toekomstige uitbreidings het respondente wildlewebesigtiging en -fotografie, stap- of natuurroetes, fietsryroetes, voëlkyk en kampering as prioriteite genoem.

Die top vyf mediums wat respondente gebruik om hul plase mee te bemark is webwerwe, mondelingse aanbevelings, Facebook, epos-kommunikasie en telefoon of selfoon.

Die drie belangrikste bevindings van die studie is die volgende:

  • Die vraag ‘wat is dit?’ het baie tydens die opname opgekom. Daar is talle produsente wat nie van agritoerisme en die potensiaal wat dit inhou, bewus is nie. Inligting is relatief beperk en die konsep is nog nie so gewild soos in Europese lande nie.
  • Die gewildste produkte wat produsente in Suid-Afrika aanbied is verblyf, jag, staproetes, en wildlewebesigtiging en -fotografie.
  • Die meeste produsente fokus tans op die plaaslike mark om Suid-Afrikaanse toeriste na hul plase te lok. Daar is egter ’n baie groot internasionale mark vir agritoerisme, veral met die oog op spesifieke landbou-aktiwiteite, soos Amerikaanse produsente wat kom kyk hoe ons sekere produkte verbou of met sekere beesrasse teel. NAMPO is ’n goeie voorbeeld van agritoerisme waar buitelanders by plaaslike produsente kom leer.

Aanbevelings

Vanuit hierdie bevindings kan sekere aanbevelings vir Suid-Afrikaanse produsente gemaak word. Produsente moet hulself vergewis van die potensiaal en geleenthede wat agritoerisme kan bied. Dit kan maklik bereik word deur by organisasies soos Agri SA en Agritourism South Africa aan te sluit of aktief betrokke te raak in dié verband.

Produsente moet die hulpbronne wat reeds op hul plase is, krities evalueer om te bepaal wat reeds in plek is vir agritoerisme. Op baie plase is daar ’n tweede of selfs derde huis wat leeg staan, of mooi natuurervarings wat hulle kan bemark.

Produsente moet tyd en geld in die bemarking van hul agritoerisme-produkte belê. Die internet en sosiale media is as die top mediums van bemarking aangedui. Produsente kan die volgende voorbeelde van aanlynbemarking oorweeg:

  • Skep ’n gratis (of betaalde) webtuiste vir die plaas en agritoerisme-produkte.
  • Skep ’n gratis Facebook-blad en vind baat by die plasing van geborgde advertensies om ’n spesifieke teikenmark te bereik.
  • Afhangende van die plaas of agritoerisme-produkte se beeld, teikenmark en bemarkingsveldtog, kan verskillende sosiale media-platforms gebruik word, soos Instagram, Twitter, Tumblr, LinkedIn, en so meer.
  • Maak gebruik van toerisme-webwerwe vir die bemarking van verblyf, byvoorbeeld LekkeSlaap, Where to Stay, Afristay, Trip Advisor en ander.

Uit hul ondersoeke glo die navorsers dat daar groot potensiaal vir agritoerisme in Suid-Afrika bestaan en dat produsente dit ten sterkste as ’n tweede bron van inkomste behoort te oorweeg. – Christelle van Zyl en prof P van der Merwe, Skool vir Toerismebestuur, Noordwes-Universiteit

Vir meer inligting, kontak Christelle van Zyl by 076 499 6069
of prof Van der Merwe by 082 926 9240.