Daar word dikwels met die tong in die kies gesê dat die beste speenkalf die goedkoopste een is. Dit is egter nie die geval nie. Baie voerkraaleienaars sal vir jou sê hulle verkies ’n gesonde speenkalf uit ’n goed versorgde kudde, want dít is die tipe speenkalwers wat goed in die voerkraal presteer.

George Schoonbee, junior produkbestuurder by De Heus, sê voerkrale verkies ’n gesonde speenkalf, omdat dit beter as ’n swak of siek kalf presteer. Deur gesonde diere aan te koop, verlaag jy die kans op vrektes en is jou medisynerekening ook minder.

Daar is ook ander faktore wat ’n ideale speenkalf bo die res laat uitstaan:

  • Genetika wat tussen rasse én binne rasse verskil. Dit beïnvloed die groei, voeromsetverhouding en uitslagpersentasie van die kalf.
  • Ouderdom: Hoe jonger die kalf, hoe beter sy voerdoeltreffendheid. Die meeste word op sewe maande of op ’n sekere gewig gespeen.
  • Gewig: Die ideale aankoopgewig van speenkalwers is tussen 220 en 260kg.
  • Geslag: Oor die algemeen verkies voerkrale bulkalwers bo verskalwers.

Gesondheid begin op die plaas

Voerkrale beywer hulle daarvoor om ’n naspeurbaarheidstelsel van die voerkaal na die verbruiker te vestig, maar dié stelsel moet eintlik reeds op die plaas van oorsprong begin. Volgens George sal ’n goeie inentings- en doseerprogram, wat deur die plaaslike veearts voorgeskryf word, tot die gesondheid en prestasie van die kalf bydra.

Omdat daar egter ’n lae naspeurbaarheid in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf is, word alle speenkalwers wat by voerkrale aankom oor dieselfde kam geskeer, asof daar geen gesondheidsplan op die plaas was nie.

Volgens George verskil elke plaas en dit is raadsaam om die hulp van ’n veearts in te roep om ’n gesondheidsplan te ontwikkel. Hy sê daar is nie juis ’n standaard gesondheidsprogram vir speenkalwers voordat hulle na die voerkraal moet gaan nie, maar daar is ’n paar riglyne, soos om kalwers op ses maande teen milt-, lam- en sponssiekte en twee weke vóór speen teen respiratoriese siektes in te ent.

Kort voordat hulle gelaai word, kan die diere ontwurm en teen ektoparasiete behandel word. Dit is wenslik om kalwers eers te speen voordat hulle na die voerkraal gaan. Om die diere direk ná speen te vervoer, verhoog hul risiko vir speenskok.

“Afgesien van ’n goeie inentings- en doseerprogram, kan die beesboer verdere prestasie in die voerkraal verbeter deur die kalf se rumen te begin ontwikkel en met hoër styselrantsoene aan te pas. Kruipvoer kan aan kalwers gegee word. Dit bevoordeel nie net die voerkraal wat beter aangepaste kalwers kan koop nie, maar die produsent kry ’n beter speengewig op ’n vroeër ouderdom, en die koeie word gespaar,” verduidelik hy.

Meer as medikasie

’n Goeie gesondheidsplan behels egter meer as net medikasie. Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het in sy Kode van Beste Praktyk riglyne vir dieregesondheid en -welsyn daargestel. Beter versorging van vee lei tot verhoogde produktiwiteit en ekonomiese voordele.

Die bekende ‘vyf vryhede’ gee waardevolle bestuursriglyne in dié verband:

  • Vryheid van dors, honger en wanvoeding.
  • Vryheid van vrees en ontsteltenis.
  • Vryheid van fisiese en temperatuurgebaseerde ongerief.
  • Vryheid van pyn, besering en siektes.
  • Vryheid om normale gedragspatrone uit te leef.

Bepaalde wetgewing oor veegesondheid raak ook elke veeteler. Onder meer moet gesondheids- en siektebeheerprogramme op die plaas deur bevoegde en ervare persone uitgevoer word, of onder toesig van die veearts. Voorkomende gesondheidsmaatreëls moet toegepas en inentings teen miltsiekte en beesbrusellose moet streng volgens wet gedoen word.

Biosekuriteit

Biosekuriteit behoort ook deel van die gesondheidsplan op die plaas te wees. Volgens die RPO se dokument is daar proaktiewe stappe en maatreëls wat op ’n permanente of tydelike basis toegepas moet word om die verspreiding en gevolge van aansteeklike siektes te voorkom.

Hierdie program kan verskillende vorms aanneem, soos roetinetoetse vir tuberkulose en beesbrusellose, wat altyd teenwoordig is. Dit kan ook inentings wees teen siektes, of bewegingsbeperkings, soos die geval was met bek-en-klouseeruitbrekings in die groen sone.

Vir voerkrale is naspeurbaarheid baie belangrik. Daarom is dit nodig dat al hierdie aksies gedokumenteer word, sodat die voerkraal kan weet wat reeds vir die diere gedoen is en wat nog ontbreek. Met die nodige dokumentasie kan ’n produsent begin onderhandel vir ’n beter premie op sy speenkalwers, omdat hy die versekering kan gee dat hy gesonde diere aan die voerkraal lewer. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak George Schoonbee
by 031 785 1575 of 073 644 1956.

speenkalwers