Johan van der Schyff is einde verlede jaar as Toyota Agri SA se Nasionale Jongboer van die Jaar aangewys. Veeplaas het meer oor sy kleinvee-vertakking in die Karoo gaan uitvind.

Johan glo in spanwerk en skaar hom aan die kant van Suid-Afrika se jonger produsente wat volgens hom, ’n baie groot verantwoordelikheid op hul skouers dra om voedselsekuriteit te verseker. Hy sê met die intrapslag dat dit baie belangrik is dat die land se produsente positief moet bly en in hulself moet glo.

Johan van der Schyff op Ouplaas met ’n Dorper-tweeling.

“As ek kan raad gee aan enigeen wat ’n nuwe projek van die grond af wil aanpak, dan is dit om eers deeglike marknavorsing te doen wat jou sal help om die regte besluite te neem. Maak byvoorbeeld doodseker daar is ’n mark vir jou produk. Dit beteken ook nie noodwendig dat iets suksesvol gaan wees net omdat dit vir jou bure werk nie.”

Alhoewel Dagbreek Eiers, sy eierproduksie-eenheid naby Plettenbergbaai, baie van sy tyd in bestek neem, koester Johan al sy lewe lank ’n liefde vir kleinvee en om daaraan uiting te gee, bedryf hy twee aparte boerderye in die Karoo. Die eerste is ’n ten volle geoutomatiseerde voerkraal op die plaas Ouklip, sowat 50km vanaf Willowmore, waar ongeveer 1 500 lammers per maand gevoer word. Die tweede is JJ Boerdery, wat hy in vennootskap met Johan du Pisani op Ouplaas in die Aberdeen-distrik bedryf.

Voerkraal en vennootskap

Johan het in die verlede ’n voerkraal op ’n kleiner skaal by Plettenbergbaai bedryf, maar die nat en koue weer het te veel skade aangerig en daarom het hy in 2012 na Willowmore uitgebrei. Hierdie voerkraal word onder dieselfde naam as Dagbreek Eiers bestuur. ’n Groot gedeelte van die voerkraal word opgeneem deur vee wat Johan op veilings koop, terwyl aanteelvee ook vanaf die plaas op Aberdeen aangery word.

Die twee Johan’s het gesamentlik ’n kommersiële skaap- en Angoraboerdery, asook ’n Angorastoet, op Ouplaas. Die boerdery bestaan uit sowat 4 000 stuks kleinvee wat grootliks intensief bestuur word en sluit in Dorpers, Dohne Merino’s en Angorabokke vir kommersiële doeleindes, asook die JJ Boerdery Angorastoet, wat deel vorm van Karoo Angoras.

Die voerkraal voer ongeveer 1 500 lammers per maand.

Volgens Johan is die enigste rede waarom hulle met soveel diere in moeilike ekstensiewe omstandighede kan boer, die 110ha aangeplante weiding. Dit word vir wisselweiding gebruik. “Wat baie goed werk is dat daar kleiner kampies is wat tussen 30 en 50 skape of bokke op ’n slag kan akkommodeer. Die kleinste kampe is gemiddeld ’n halwe hektaar groot en die grootste kampe sowat twee hektaar.”

Daar is ’n hele aantal gronddamme op die plaas wat gedurende die droogte leeggeloop het, maar gelukkig het hulle redelike sterk ondergrondse water, met boorgate wat die boerdery gedurende die uitdagende tyd gedra het. “Ons moes die diere ’n hele paar maande lank voer en het ook gedurende die droogte geleer dat streng seleksie betaal. Dit betaal nie om ’n ooi wat nie die eerste maal ram vat ’n tweede kans te gee nie.”

Die Angorastoet word kunsmatig geïnsemineer aangesien dit voordelig is vir goeie genetika en tweelinge.

Intensief maak sin

Hoewel kleinbokkie- en grootbokhaar op die plaas geproduseer word, is dit JJ Boerdery se visie om soveel as moontlik kleinbokkiehaar per jaar te produseer, omrede dit tans die winsgewendste kommoditeit in die bokhaarbedryf is.

“Ons probeer om die jaarlikse aanteelsyfers so hoog as moontlik te hou, wat ’n uitdagende taak onder droogtetoestande kan wees,” sê Johan. “Daarom boer ons meer intensief op aangeplante weiding waar die ooie lam. Daarna word beide die ooie en hul lammers in ’n lamhokstelsel geplaas waar hulle vir twee of drie weke gepamperlang word. Hulle gaan dan terug na die aangeplante weiding totdat die bokkies gespeen word.”

Die ramme word gewoonlik gedurende Maart en April by die ooie gesit. Hulle begin meestal dan in Augustus en September lam en, afhangend van die behoefte daarvoor, word die kleinbokkies twee tot drie weke na geboorte vir die eerste maal gedoseer. Johan voeg by dat ’n mens die kleinbokkies se eerste skeersel gewoonlik rondom Januarie kan verwag; daarna skeer hulle ongeveer elke vyf maande.

Dit is vir die vennote belangrik om skoon wol te produseer. Dit is egter nie altyd ’n maklike taak nie, veral as die wind stof en fyn takkies begin rondwaai. Hulle probeer ook om ’n fyn wol, gewoonlik 18 mikron, af te skeer.

Ooie en hul lammers word vir twee of drie weke in ’n lamhokstelsel gepamperlang.

Koue weer en plae wat pla

Die grootste probleem op die Aberdeen-plaas is wanneer die Angora’s en hul kleinbokkies geskeer is en daar binne ure ’n skielike koue kom, veral vanuit die ooste. As ’n voorsorgmaatreël teen onverwagse ongure weer, word die bokke nadat hulle geskeer is, vir enkele weke op die aangeplante weiding staangemaak voordat hulle weer kan terugkeer veld toe.

In die kategorie van parasiete, is haarwurm hul grootste kopseer. Johan sê hulle sukkel maar van tyd tot tyd met dié lastige parasiete vanweë die intensiewe stelsel op die plaas. “Die plaas het verder ook redelik baie rante. Veral aan die suidelike kant van die bergrante is die verlammingsbosluis gewoonlik in April ’n groot probleem as ons die vee nie betyds spuit nie,” sê Johan.

So tussen al die projekte deur gee dié agtermekaar jongboer nuwe betekenis aan die gesegde, ‘klein begin, groot gewin’. Veeplaas volg met belangstelling dié jongboer se vordering.

Vir meer inligting, kontak Johan van der Schyff by 082 928 6690 of dagbreekeiers@vodamail.co.za. – Carin Venter, Veeplaas