Die Merino-skaapras, wat ook bekendstaan as die draer van die goue vag, kom as gevolg van sy aanpasbaarheid vandag wydverspreid in Suid-Afrika voor.

Giepie Calldo, tegniese bestuurder by BKB, het met Veeplaas gesels oor waarom dié skaapras se gewildheid in die land steeds aan die toeneem is.

Suid-Afrika produseer ongeveer 15% van die wêreld se kleedwol en saam met die reproduksie-verhoging, neig die skaal in die rigting van die Merino-skaapras.

Die eerste gedagte wat by Giepie opkom, is dat die ekonomie marktendense bepaal. “Die netto boerdery-inkomste moet dus ’n produsent se grootste oorweging wees of hy met Merino’s wil boer of nie. Die vraag na die Merino en sy wol het toegeneem, danksy Merino-produsente wat besluit het om ’n skaap te produseer waarvoor daar ’n aanvraag in die mark is.”

Hy verwys na die Merino-tipe van die 1950’s, toe wol in vetwol aangekoop is. “Die plooitipe-Merino is toe geteel, wat die ras se vrugbaarheid negatief beïnvloed het. Dit het tot laer reproduksie en minder winsgewendheid gelei, maar het ook die ommeswaai na ’n gladder en meer aanpasbare Merino-skaap teweeggebring.”

Streng seleksiedoelwitte

Daar word gesê dat, benewens vleis- en wolpryse wat ’n beduidende rol tot die positiewe inspuiting speel, die Merino-skaapras die beste voeromsetter van dubbeldoelrasse is.

Giepie stem 100% hiermee saam en voeg by dat van al die ondersteunende seleksiehulpmiddels, soos prestasietoetsing en BLUP-teelwaardes, gebruik gemaak moet word ten einde die beste ekonomies aanpasbare Merino te teel en steunkrag aan seleksiedoelwitte te gee. “Ek glo dié benadering van telers werp deurlopend positiewe vrugte af, hoewel die BLUP-teelwaardes in konteks toegepas moet word en nie slegs net ’n oordrewe enkele eienskap moet najaag nie.”

Balans vir volhoubaarheid

Die balans tussen bouvorm en wol moet ’n maatstaf vir volhoubare sukses wees. Giepie staaf dié stelling deur te verwys na die uiteenlopende en wisselvallige produksiegebiede in Suid-Afrika.

“Dit is waarom die aangepaste Merino se liggaamsgrootte en wolproduksie van streek tot streek verskil. Die gehardheid wat almal nastreef, word in die ooi se vermoë om te produseer en reproduseer, en haarself in haar omgewing te handhaaf, weerspieël. Die term wat Merino-produsente hiervoor gebruik, staan bekend as ‘konstitusie’,” verduidelik hy.

Giepie merk op dat ’n Merino wat gemiddeld 70kg en meer weeg, ’n vagmassa van 6,5 tot 7kg het. “Die reël is om na wolproduksie van 8 tot 10% van die liggaamsgewig te streef. Dit is egter beter om dit in vleis- en wolproduksie per hektaar uit te druk. In ekstensiewe gebiede is ’n ooi van 50 tot 52kg voldoende, want die omgewing sal die grootte bepaal en ’n ooi sal steeds haar potensiaal moet lewer.”

Beste tipe wol

Die vraag wat altyd op almal se lippe is, is wat die beste is: Fyn-, medium of sterkwol? Volgens dr Buks Olivier, ’n kleinveekenner, is ’n produsent in die kol as die ooie 170g skoonwol per mikron produseer. Die wolkoper koop wol op grond van die volgende eienskappe: Mikron, lengte, treksterkte, skoonopbrengs en voorkoms. Gebalanseerde voeding in belangrike tye, soos lamtyd, speel veral ’n rol in die uitkoms van dié eienskappe, wat dan ook die prys kan beïnvloed.

Giepie meen dat ’n Merino-ooi as ’n reproduksiemasjien beskou kan word. “Dit is uit hierdie oogpunt noodsaaklik om enige tekorte in die verskillende fases van dragtigheid aan te vul.

“Die meeste produsente besef dat die primêre wolfollikels van ’n ongebore lam alreeds van so vroeg as 40 dae van dragtigheid begin ontwikkel. Sowat 72% fetusgroei en uierweefselontwikkeling vind ses weke voor geboorte plaas en as dit alles in plek is, is die grondslag vir produksie en reproduksie gelê,” sê hy. Hy voeg by dat die aanvullingsrantsoen 68% totale verteerbare voedingstowwe (TVV) met 16% proteïene moet wees.

Moedereienskappe en voeding

Merino-produsente se bestuur het verbeter ten opsigte van moedereienskappe en voeding, wat hand aan hand loop. Hulle gee tydens lamtyd beter voeding, wat melkproduksie stimuleer, en gevolglik word meer lammers gespeen.

Giepie is van mening dat ongeveer 99% van goeie moedereienskappe in voeding opgesluit is.

Giepie sê dat ’n produsent moet weet hoeveel kilogram vleis in totaal op sy plaas loop om die drakrag korrek te bepaal en volhoubaar te boer. “Lewendehawe soos perde, beeste en springbokke word soms buite rekening gelaat, en dan produseer ’n Merino-skaap nie na wense nie.”

Hy stel die volgende som voor: “Die behoefte van ’n 60kg-ooi om 135%, met ander woorde ’n sonarpersentasie van 150 tot 158, te speen, is sowat 870kg kos. ’n Produsent moet vra hoeveel bakkievragte kos daar op die plaas is om hierdie doelwitte te bereik.”

Kyk na jong ooilammers

Giepie glo dat vandag se Merino-produsent besef dat die sorg en gewigstoename van jong ooilammers, van speen tot paring, die belangrikste komponent op die plaas is.

“Gedurende hierdie tydperk vind eierselvorming plaas, wat die ooi se reproduksie oor haar leeftyd bepaal. Die ideale paargewig van ’n jong ooi in ekstensiewe gebiede is gemiddeld tussen 48 en 51kg, wat sowat 94% van haar volwasse gewig is. In ’n intensiewe omgewing moet die lam 48 tot 51kg op twaalf maande behaal, wat sowat 82% van haar volwasse gewig sal wees,” sê hy.

Dit is belangrik dat lammerooie goed versorg word, veral vanaf lamdag tot drie weke na lam. Giepie skryf die rede hiervoor daaraan toe dat dít die tydperk is wanneer die baarmoeder herstel – met ander woorde, 180 dae voor die volgende paring. “Dit bepaal die volgende besetting en lampersentasie. Lamtyd het ook gewoonlik ’n groot invloed op die wol se treksterkte. Daarom is goeie gebalanseerde voeding, met ’n TVV van 68% en 16% proteïene, nodig.”

Vrugbaarheid en gesondheidsaspekte

Merino SA se bestuurder, Danie Vorster, is dit eens dat dit die afgelope paar jaar bewys is dat die Merino-ras een van die vrugbaarste skaaprasse ter wêreld is. Hy sê ook dat daar min produsente is wat vandag nog minder as 100% lammers speen.

“Suid-Afrika is ver voor die res van die wêreld wat die teling van gladdelyf-tipe skape vir hoër vrugbaarheid betref, asook ’n vag wat nie so dig is nie. Vanuit ’n gesondheidsoogpunt het die geplooide Merino’s in die verlede ook erg onder brommeraanvalle deurgeloop.”

Hy verwys na die wol-vleisverhouding, waar dit voorheen meer sin gemaak het om vir vleis, wat in verhouding met wol duurder was, te produseer. “Dit het daartoe gelei dat produsente op die vrugbaarheid van hul skape gekonsentreer het om sodoende meer uitskotlammers en ou ooie te verkoop.” Danie stem saam met Giepie dat die bestuursaspekte en regte tipe Merino die vrugbaarheid van Merino-skape drasties verhoog het en die ras bo-aan die lys van dubbeldoelrasse geplaas het. Beide glo dat die vraag na teelmateriaal tans ongekend is, danksy die groeivermoë en gehalte van die ras se wol. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Danie Vorster by 049 892 4148 of merinoram@eastcape.net, en Giepie Calldo by 082 772 4541 of giepie@rfid-experts.co.za.