Sean Hobson is die sesde geslag wat op die plaas Martyrsford boer. Hier bedryf hulle al die afgelope 150 jaar ’n Angora-stoet.

Die Martyrsford Angora-stoet kan met trots terugkyk op ’n nalatenskap van 150 jaar, gekenmerk deur ’n benadering waarvolgens hulle deurlopend ’n goue middeweg volg.

Read it in English.

Sean Hobson is die sesde geslag Hobson wat op die plaas Martyrsford in die Jansenville-distrik in die Oos-Kaap boer. Hy boer met skape, beeste en Angora-bokke. Laasgenoemde was een van die eerste Angora-stoeterye wat in Suid-Afrika gevestig is.

Sean se oupa, Arthur Blake Hobson, het lank gelede oor boerdery gesê: “Mense beoordeel jou volgens jou integriteit. Integriteit is alles.”

Op ’n skip na Suid-Afrika

Sean se voorvaders het in die 1820’s per skip uit Engeland na Suid-Afrika gekom nadat hulle ernstige godsdienstige vervolging ervaar het. Hulle was Metodiste terwyl die oorheersende godsdiens in Brittanje in daardie stadium die Kerk van Engeland was.

Sean vertel meer oor die inligting in hul familie-argiewe: “David en William Carey Hobson was ons familie-pioniers in Suid-Afrika. Volgens rekords het die twee broers saam met die 1820-Setlaars na Suid-Afrika gekom nadat hul moeder, wat ’n formidabele matriarg was, besluit het om hulle hierheen te stuur.

“Hulle het per skip in die destydse Algoabaai aangekom en na Grahamstad getrek, waar hulle begin boer het. Hulle het in die laat 1820’s na die Karoo verhuis en in die Jansenville-omgewing nesgeskop, waar die Hobson-familie uitgebrei het en sedertdien boer.

“Martyrsford het in 1837 ontstaan en my familie bly en boer sedertdien hier, waar hulle deurlopend werk en die boerdery met elke geslag verbeter.”

Skaapkudde en beeste

Behalwe vir die Angora-stoet, boer Sean en sy pa, AB, ook met ’n Merino-kudde en beeste. “Ons geniet die skape en is trots op die wol wat ons produseer. Ons boer ook met Bonsmaras en het begin om hulle met Tuli-bulle te kruis vanweë dié ras se gehardheid onder droogtetoestande.”

Die Angora-stoet op Martyrsford is een van die eerste Angora-stoeterye in Suid-Afrika.

Sean glo daaraan om die beskikbare veldtipes te benut deur ’n gebalanseerde benadering, waarvolgens hy tot ’n geringe mate die veld laat onderbewei, omdat dié gebied meer droë as nat seisoene ken. Dit veroorsaak dat die veld se langslewendheid tot ’n mate ’n “droë tydperk” ervaar.

“Ons geniet dit om in hierdie omgewing te boer en ons veld is nogal soet. Amper al die veldspesies op Martyrsford is smaaklik. Die vee het ’n wye verskeidenheid veldplante en grasse tot hul beskikking.”

Oudste oorlewende familiestoet

Die Martyrsford Angora-stoet is tans die oudste oorspronklike stoet in familiebesit in die land. “Ons teel al vir 150 jaar aaneenlopend Angora-bokke en ek voel bevoorreg om die sesde geslag te wees wat hier op Martyrsford boer. Ek hoop om hierdie nalatenskap voort te sit en sover moontlik op alle vlakke van die boerdery te verbeter.

“Ons Angora-stoet is in 1871 gevestig. Ons hooffokus is om waarde toe te voeg en te help om die genepoel in dié bedryf te verbeter. Ons is uiters passievol en trots op wat ons sover met ons stoet vermag het.”

Angora-bokke is bekend vir hul gehardheid onder droogtetoestande en is dus uiters geskik vir die Karoo-omgewing.

Bly weg van tendense

Martyrsford se teelfilosofie was nog altyd om ’n goue middeweg te volg en om spesifieke tendense sover as moontlik te vermy.

Sean verduidelik: “Ons het nog altyd daarna gestreef om goeie en produktiewe kommersiële diere te produseer. Wanneer ’n mens tendense najaag, verloor jy egter fokus van jou kern-teelfilosofie.”

Die Martyrsford-stoet fokus op die teel van diere wat hoë-gehalte genetika en ekonomiese waarde aan enige teler of kuddeboer in die land sal bied. “Ons filosofie is om ’n goed-geboude dier met goeie reproduktiewe eienskappe en sybokhaar met goeie lengte en soliditeit te teel. Dit beskerm die vesel teen stof en afval wat in die dorre Karootoestande opgetel word, en maak die vagte ook swaarder vir skeertyd.”

Hulle het oor die jare gevind die konsekwentheid van die vagte werp oor die lang duur vrugte af. “Ons wil seker maak dat ons kliënte elke jaar dieselfde vlak van konsekwentheid en gehalte kry, by ramverkope sowel as wanneer ons ons vesel verkoop.”

‘n Edel vesel

Soos enige ander bedryf, het die sybokhaarbedryf ook al talle hoogte- en laagtepunte beleef. Een onvergeetlike hoogtepunt was die sybokhaar-oplewing in die 1980’s. “Wanneer ’n mens al die hoogte- en laagtepunte oor die jare in ag neem, besef jy dat jy jou in ‘n langtermyn verbintenis bevind. Die sybokhaarbedryf is ’n wonderlike bedryf om in te deel. Angora-bokke is uiters geskik vir ons toestande en is met behoorlike bestuur ’n uitstekende toevoeging tot enige boerdery.”

Sean sê sybokhaar staan as die “diamant-vesel” bekend. “Dit is ’n uiters gesogte vesel vir die vervaardiging van topgehalte klere, omdat kleurstowwe so goed daarop werk. Sybokhaar is bekend vir sy wonderlike glans. Dit hou ’n mens koel in warm weer en warm in koue weer. Sybokhaar meng uitstekend met ander vesels soos wol en kasjmier-sy.”

Die Angora-stoet se hoofdoelwit is om diere met uitstekende genetika, sybokhaar, reproduktiewe eienskappe en bouvorm te produseer.

Terwyl die warm Karooson se strale op die blommeveld van Martyrsford skyn, som Sean die wese van Suid-Afrika se sybokhaarbedryf op: “Sybokhaar is ’n uitstekende en veelsydige produk. Dis ’n eer om te weet dat Suid-Afrika die grootste sybokhaarproduserende land in die wêreld is. Ons produseer sowat 55% van die wêreld se sybokhaar.

“Ons Angora-stapel is weliswaar kleiner as sommige van die ander veerasse in Suid-Afrika, maar dit vorm deel van die sjarme en persoonlike aard van dit wat ons doen. Dit was baie opwindend om die afgelope paar jaar die groei van die Angora-bok as ’n ras waar te neem. Suid-Afrika se status as beste sybokhaarprodusent in die wêreld is voorwaar iets om op trots te wees.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Sean Hobson by 079 057 0557. Foto’s deur Kerryn Ross, Farm Girl Photography.