Artikel verskaf deur Afrivet

Minstens 860 spesies bosluise is al geïdentifiseer. Heelwat van hierdie spesies is in Suid-Afrika teenwoordig, maar baie van hierdie bosluise is spesie-spesifiek. Dit beteken dat hulle net op ’n skilpad, renoster, olifant, hond, rooikat, jakkals en ander diere sal aanheg en voed.

Suid-Afrika het ’n wye verskeidenheid bosluisspesies. Bosluisbevolkings ontplof ná die eerste goeie reën van die seisoen en vermeerder teen ’n geweldige tempo as hulle nie beheer word nie. Bosluisbesmettings lei tot siektes, sere, kondisie- en produksieverliese by vee.

Bosluise is spesifiek in die siektes wat hulle oordra. Die bloubosluis dra galsiekte en rooiwater oor. Die multi-gasheer bruinoorbosluis en rooipootbosluis dra Theileriosis, Ooskuskoors en buffelsiekte oor, en die bontbosluis dra hartwater oor. Ander bosluise, soos die Karoo-verlammingsbosluis, hondehokbosluis en bontpootbosluis, wat sere en veral sweetsiekte veroorsaak, is van groot ekonomiese belang in Suid-Afrika.

Hoë bosluisladings

Strategiese bosluisbeheer verwys na bloubosluisbeheer op plase waar groot probleme met hoë bosluisladings in die laatsomer en herfs ondervind word. Dit is belangrik om te onthou dat die normale multigasheer-bosluisbeheer (dip/sproei of opgietmiddels) saam met strategiese bloubosluisbeheer moet geskied.

In sekere somerreënvalgebiede was dit die vorige somer buitengewoon nat en ’n ontploffing van bloubosluisgetalle word gevolglik op baie plase verwag. Die bloubosluissiklus het tot laat in die winter aangehou en getalle het ná die droogte drasties toegeneem.

Dit beteken dat ’n groot aantal bloubosluiseiers in die komende lente op die veld teenwoordig gaan wees. Die eiers gaan ná die eerste lentereëns uitbroei en as die eerste generasie bosluise nie beheer word nie, sal dit tot nog ’n ontploffing van bloubosluise in die laatsomer en herfs lei.

Figuur 1: Parasietbevolking en aantal bosluise in die veld.

         

Vroegtydige beheer

Dit is baie belangrik om strategiese beheer vroeg in die lente toe te pas om ’n ontploffing in die bloubosluisbevolking in die laatsomer en herfs te vermy – voordat die eerste generasie volwasse bosluise aanleiding gee tot ’n groot getal larwes in die tweede en daaropvolgende generasies.

Dit is baie belangrik om te onthou dat hoewel opgietmiddels uitstekende doeltreffendheid teen bosluise het (behalwe natuurlik in die geval van bloubosluisweerstand), kan ’n hele paar aanwendings van hierdie formulasies nodig wees voordat volkome verspreiding van die produk oor die dier bereik word.

Veral die onderlyn van die pens kan moontlik nie genoeg bedekking van die produk ná die eerste aanwending hê, om ’n swaar uitdaging van bloubosluisbesmetting te beheer nie. Diere se haarkleed is in die laatwinter nog dig en opgietmiddels kan moeilik versprei.

Eerste behandeling

’n Kombinasie van ’n makrosikliese laktoon soos Ecomectin 1% Inspuitbaar en ’n opgietmiddel soos Afrivet Redline word vir die eerste strategiese behandeling aanbeveel. Hierdie kombinasie is nie net die doeltreffendste manier om bloubosluise in die lente te beheer nie, maar sal ook voldoende beheer van multigasheerbosluise verseker. Die aktiewe bestanddeel in Afrivet Redline, flumetrien, veroorsaak steriliteit by wyfiebosluise en help dus om die eerste generasie bloubosluise te verminder.

Sodra die boer ’n toename in die eerste generasie bloubosluise waarneem, sal die toediening van ’n kombinasie die bosluisbevolking baie doeltreffend verminder. Neem in ag dat nuwe larwes sal wag om op die beeste te klim wanneer beeste na nuwe kampe geskuif word. Dit word dus aanbeveel dat beeste weer behandel word wanneer hulle na nuwe kampe geskuif word.

Dit word aanbeveel dat beeste deur die lente maandeliks behandel word, met ander woorde drie inspuitings een maand uitmekaar. Langer tussenposes kan gebruik word as beeste nie na nuwe kampe geskuif word nie, maar beeste moet behandel word sodra die eerste volwasse bloubosluise waargeneem word. Hierna kan normale bosluisbeheer toegepas word, met inagneming van hoeveel bosluise die diere besmet.

Begin dus vroeg in die seisoen om bosluise doeltreffend te beheer en skade te beperk.

Vir meer inligting, skakel Afrivet by 012 817 9060 of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.