Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se Graaff-Reinet bedryfskamer het op 23 Julie ‘n inligtingsdag op die historiese Oos-Kaapse dorp gehou.

Die geleentheid wat verskeie sprekers en sowat 80 gaste verwelkom het, het by die welbekende Coldstream Restaurant oorkant die 130-jaar oue kerkgebou plaasgevind. ‘n Groep wildbestuurstudente van Nelson Mandela Universiteit wie aktief by die Oos-Kaapse bedryfskamers betrokke is, het die geleentheid ook bygwoon.

Indrukwekkende sprekers sê hul sê

Die sprekers vir die dag was Gerhard Heyneke (WRSA-direkteur), Elizabet Pienaar (Departement Wildlewe, Ekologie en Bewaring by die Universiteit Florida in die VSA), Doug Stern (president van Agri Oos-Kaap), Stephen Palos (uitvoerende hoof van die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika), en Angus Shotlo-Douglas (WRSA-direkteur). Neil Dodds en Hennie Barnard van Summit Wildlife het ook ‘n voorsmakie van die komende jaarlikse veiling gebied.

Eenheid kan ‘n verskil maak

Gerhard Heyneke het die inisiatiewe waarby WRSA op nasionale en provinsiale vlak betrokke is uitgelig, en meer lig gewerp op verskeie aktiwiteite wat agter die skerms in die wildbedryf plaasvind. Hy het die gehoor verseker dat WRSA skouer aan die wiel sit namens sy lede en die wildbedryf en het gesê: “Die belangrikste aspek wat ons almal in gedagte moet hou, is dat ons as ‘n eenheid ‘n reuse verskil in die bedryf kan maak. Die enigste manier om vooruitgang te verseker, is om die genetika van ons wild te verbeter.”

‘n Nuwe WRSA Graaff-Reinet bestuur is daarna verkies met Katjana Ott van die plaas Glen Harry Game Reserve wat as voorsitter verkies is. Joseph Ott is as ondervoorsitter verkies en dié egpaar-span sal spoedig ‘n komitee aanwys om hulle by te staan.

Internasionale mededinging is moontlik

Elizabet Pienaar, ‘n oud-Suid Afrikaner, het vertel van die navorsing wat in die buiteland oor wildsvleis in Suid-Afrika gedoen word. Sy het die belangrikheid van die opvoeding van die gemeenskap om hierdie seldsame en gesogte produk op die plaaslike en internasionale mark te ontgin, beklemtoon. Sy meen ook dat die Suid-Afrikaanse wildsvleisbedryf beslis met soortgelyke produkte in die vleismark oorsee kan meeding.

Positiewe boodskappe

Doug Stern het ‘n baie positiewe boodskap vol hoop en vertroue gedeel en almal het sy pittige aanbieding geniet. “Die landbou is die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie,” het hy gesê, “Belê in u boerdery, ontgin u besigheid en onthou dat die toekoms helder is.”

Angus Sholto-Douglas het die gehoor aan sy voete gehad met ‘n inspirerende en insiggewinde voordrag. Hy het dit onder almal se aandag gebring dat al vier pilare van die wildsbedryf – jag, vleisprodukte, wildteling en eko-toerisme – gesamentlik ontwikkel moet word om sukses te behaal. Met sy vraag: “What is your brand?” het hy die gehoor aan die dink gesit.

“Ons as wildboere moet dit wat ons in die land het, met ‘n bietjie meer jaloesie bewaak, en ons moet besef hoe ‘n groot voorreg dit is om ons grond en leefwyse te beskerm,” het Angus gesê.

Jagbedryf en veilings

Stephen Palos het klem daarop gelê dat die jagbedryf in Suid-Afrika ‘n gekonsentreerde mark vir die lang termyn is. Hy het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse wildbedryf ‘n lewensvatbare en volhoubare bedryf is waarop landsburgers trots moet wees.

Neil Dodds en Hennie Barnard van Summit Wildlife het ‘n kort vooruitskouing van die komende Summit Wildlife-veiling gegee, en gesê dat die liefdadigheidslotte by die veiling hulle veral na aan die hart lê.

Hierdie inspirerende inligtingsdag was moontlik gemaak deur borgskappe van Summit Wildlife, Karoo Taxidermy, Grootbaas, en Hellspoort Meat Products. – Anneke Erasmus en Ankie Stroebel, WRSA

Vir enige navrae, stuur gerus ‘n e-pos na info@wrsa-ec.co.za of besoek www.wrsa-ec.co.za.