Die Suid-Afrikaanse landbousektor is omvattend en kleurvol, en geen bedryf kan oor dieselfde kam geskeer word as die ander nie. Landbou word dikwels uitgewys as ‘n sektor wat anders is en anders benader moet word, veral as dit by finansiering kom. Maar hoekom sou dit die geval wees?

Dawie Maree, die hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê dat dit juis die uiteenlopende behoeftes binne die sektor self is, wat maak dat finansiering vir landbou hemelsbreed van die ‘normale’ finansiering vir ander besighede verskil.

Finansiering verskil van bedryf tot bedryf

Produsente uit die verskillende landbouvertakkings se uitgawes, inkomstes en kontantvloei verskil. ‘n Graanboer het byvoorbeeld gemiddeld een keer per jaar ‘n inkomste – na oestyd. Sy uitgawes strek egter regoor die jaar met pieke soos wanneer insette aangekoop word. Hy het ook ‘n vaste koste waarvoor hy maandeliks verantwoordelik is.

Hierdie prentjie lyk heeltemal anders vir ‘n vrugteprodusent wat vir gemiddeld twee tot drie maande ‘n hoër inkomste het, maar ook regdeur die jaar uitgawes het. In sommige van hierdie bedrywe, soos die sitrus- of pekanneutbedryf, sien produsente gewoonlik eers na drie tot selfs sewe jaar ‘n inkomste.

Groentegewasse kan produsente maandeliks van ‘n inkomste voorsien en ‘n veeboerdery, afhangend van die boerderymodel, kan ongeveer een tot twee maal per jaar ‘n inkomste oplewer.

Die kontantvloei-faktor

Die belangrikste faktor by die oorweging van finansiering, is kontantvloei. Hier verskil die graan- en veebedryf aansienlik. Mielieboere ontvang gewoonlik hul inkomste in Julie ná oestyd, en dit moet hom normaalweg vir die res van die jaar dra. Sy groot uitgawes is in Oktober of November wanneer hy aanplantings doen.

In die veebedryf, daarenteen, is speentyd gewoonlik tussen Oktober en Januarie, en dit is wanneer inkomste op sy hoogste is. Die twee vertakkings vul mekaar dus goed aan en die meeste graanboere het daarom ook ‘n veekomponent en andersom.

Die finansierder se fokus

Met kredietwetgewing en verskillende bankwette wat reguleer hoe finansiële instellings hulle besigheid doen, is ‘n boer se terugbetaalvermoë baie belangrik. “Hierdie terugbetaalvermoë word hoofsaaklik uit ‘n boer se kontantvloeistaat bepaal. Hierdie state is dus van kritiese belang vir ‘n finansieringsaansoek,” sê Dawie.

Sekuriteit, verduidelik hy, is steeds die basis waarop lenings toegestaan word. Wat egter al hoe belangriker word, is die vaardighede en vermoëns van die boer of produsent wat aansoek doen. “Die bank wat die lening toestaan moet seker wees dat ‘n boer werklik oor die vermoë beskik om dit werklik te kan terugbetaal. Is hy dus ‘gekwalifiseer’ om suksesvol te boer, wins te genereer en sy skuld af te los.” – Elmarie Helberg, AgriOrbit

FNB verstaan die sikliese aard van ‘n boerdery en bied daarom pasmaak finansieringsoplossings vir produsente. Besoek agric@fnb.co.za om meer uit te vind oor FNB se korttermyn-, mediumtermyn-, en langtermyn finansieringsopsies.