’n Wêreldklas tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse veebedryf en sy waardeketting wag op besoekers aan die vyfde Agri-Expo Livestock, wat vanjaar van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018 op Sandringham buite Stellenbosch plaasvind.

Read it in English.

’n Eerste by vanjaar se Agri-Expo Livestock is die SA Holstein Nasionale Kampioenskappe, waartydens besoekers diere van hoogstaande gehalte van regoor Suid-Afrika in die ring te sien sal kry.

Grootste van sy soort

Agri-Expo Livestock is die afgelope vier jaar gevestig as die toonaangewendste veetentoonstelling in die land. Die skou is die gasheer van die grootste suiwelskou in Suid-Afrika én die grootste vleisbees-interraskampioenskap van sy soort, met die kroning van die FNB-suiwelkoningin en die BKB-rooivleiskoning/in op Saterdag 13 Oktober as die hoogtepunt.

Andrew Masterson van die Oos-Kaap het verlede jaar geskiedenis gemaak deur beide kampioenskappe te wen. Masterson beskryf dit as ’n groot eer, eerstens omdat die gehalte by Agri-Expo Livestock baie hoog is en tweedens weens die blootstelling aan die meeste besoekers nóg wat hy al by ’n beesskou ervaar het.

Fokus op opvoeding

Agri-Expo Livestock se gewilde gratis melkbok- en vleisbeesinligtingsdae, wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Standard Bank ondersteun word, sluit vanjaar interessante sprekers soos Llewellyn Angus en dr Faffa Malan in.

Sowat 2 500  laer- en hoërskoolleerlinge van skole sover as Kleinmond besoek jaarliks die ekspo vir ’n gratis skoleprogram, wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou ondersteun word. Die program sluit elf interaktiewe stasies in waar leerlinge onder andere kan sien hoe koeie gemelk word, diere kan aanraak en meer oor beroepsgeleenthede in die landbou kan leer.

Die program sluit ook die Old Mutual Insure Streekjeugskou, die Landbouweekblad-uitdaging vir versorgers en hanteerders, die Wes-Kaapse Boerboelskou, die Cape Rabbit Club se Lenteskou, skaaphondveilings en ’n verskeidenheid ander aktiwiteite in. Verskeie stalletjies sal plaaskos, wyn en boetiekbier verkoop as deel van die Groot Plaasproe. Die Broers en ander gewilde kunstenaars tree op Saterdag 13 Oktober op.

Agri-Expo Livestock vind daagliks van 08:00 tot 18:00 plaas. Besoek www.livestock.org.za vir die volledige program. Kaartjies is by Computicket en by die hek beskikbaar.

Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za. – Persverklaring