’n Wildboer is nié ’n prysnemer nie

1064
Die habitat maak dit moontlik om ’n verskeidenheid bokspesies geslaagd aan te hou. Hier is een van die swartwitpensbulle op die plaas.

Met trofeejag bepaal die wildboer self die prys van sy produk. Aangesien die prys in Amerikaanse dollar of euros vasgestel is, help die dalende ruilwaarde van die rand en Namibiese dollar dat sy inkomste stelselmatig styg. Sodoende kan hy met minder op sy grond steeds winsgewend en volhoubaar boer.

Meerderwaardige diere wat vir bemarking in die telersmark geskik is, is ’n bonus. Só ’n stelsel maak dit moontlik om droogtes se angel te trek, omdat gras en vreetbare bosse optimaal benut word. Minder diere moet gevolglik voortdurend by die beskikbare voedselbron aangepas word.

Hannes en Geraldine du Plessis se wildboerdery en trofeejag-gasteplaas is in 2017 met die Namibiese wildboer van die jaar-toekenning bekroon. Hulle is ook in Suid-Afrika as Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se groen ekonomie wildboer van die jaar aangewys.

Die voorlopers van die Bergzicht-span is, van links, Hannes en Geraldine du Plessis en Stephan Joubert, ’n beroepsjagter.

Hy het dié toekennings verwerf danksy sy knap veld- en weidingsbestuur, volhoubare wildbestuur, die sosio-ekonomiese bydrae wat sy onderneming tot die plaaslike gemeenskap maak en die mate waarin hy die waardeketting van die bedryf benut.

Die begin van groot dinge

Hannes se pa, Hendrik, was ’n staatsamptenaar, wat in die vorige bedeling vir die Suid-Afrikaanse Departement van Finansies gewerk het. Hy het in 1961 Namibië toe gegaan. In 1977 het hy die winkel op Dordabis gekoop, wat grootliks in al die boere van die omgewing se behoeftes voorsien het.

Teen die einde van 1980 het hy die plaas Bergzicht, sowat ’n uur se ry oos van Windhoek, gekoop. Hannes het tydens sy weermagdae met ’n deel van sy soldy sy eerste wild, blesbokke en twee sebras gekoop. Ná sy opleiding by Neudam Landboukollege is hy plaas toe en het hulle die beesboerdery geleidelik na ’n wildboerdery oorgeskakel.

Die voorlopers van die Bergzicht-span is, van links, Hannes en Geraldine du Plessis en Stephan Joubert, ’n beroepsjagter.

’n Prysmaker

Hannes sê hy het nog altyd van wild gehou. “Ek het veral ná 1996 se droogte besef dat wild beter as beeste gaan werk. Dit was vir my baie belangrik om my eie prys vir my produk te maak, eerder as om ’n prysnemer te bly.

“Dit was sedert 2004 nie nodig om my daggelde vir trofeejagters aan te pas nie, aangesien die verandering in die ruilhandel van die Namibiese dollar jaarliks vir ’n goeie verhoging gesorg het. Afgesien van geringe aanpassings in die trofeepryse van eksotiese wildspesies, kon ek my jagpryse ook feitlik onveranderd laat. Hoewel my inkomste styg, raak dit al goedkoper vir oorsese jagters as inflasie in ag geneem word.”

Aanvanklik het hy net met trofeejag begin, maar hy het uiteindelik besluit om die volle potensiaal van die wild te benut. Vandag boer Hannes volhoubaar op 15 000ha grond met 25 trofeebokspesies.

Weidingsbestuur en drakrag

Vir sy veld- en weidingsbestuur kyk hy basies na twee faktore: hoeveel van ’n grasvreterspesie hy volhoubaar kan aanhou (volgens die grasweiding se drakrag) en hoeveel trofeë jaarliks geskiet word, teen gemiddeld 10% van die tropgrootte. As hy dus tien trofeegemsbokke moet laat jag, behoort hy ’n trop van sowat 100 gemsbokke aan te hou.

Die drakrag van die vreetbare bosse word bepaal volgens die aantal blaarvreters wat aangehou kan word. As 20% van die plaas bosweiding is, moet 20% van die wildgetalle blaarvreters wees. Hulle word dan nie in berekening gebring ten opsigte van die vlakteweidings nie. Met dié berekenings word die getalle so aangepas dat die plaas in normale reënjare teen sowat 65% van sy drakrag belaai word.

Belading volgens habitat

Volgens Hannes bereik die wildtroppe met normale aanwas ná sowat drie jaar ’n belading van 100% en meer. “Teeltroppe (maar geen potensiële trofeediere nie) word dan lewend verkoop om die belading op 65% te hou. Dit is ’n bonus vir die onderneming, want die sowat 10% trofeë wat per jaar afgehaal word, laat die somme nog goed klop.

“Wanneer die droogte toeslaan, word die belading afgebring tot sowat 40% van die plaas se normale drakrag. Dit word gedoen deur die verkoop van teeltroppe, nie trofeediere nie. Só word verseker dat daar voldoende trofeediere is vir vyf jaar se jagtogte.

Bergzicht
Die uitgestrekte grasvlaktes is een van die omgewingskenmerke waarvan trofeejagters hou.

“Die diere kry geen lek of byvoeding nie, maar slegs klipsout. Ondanks die knellende droogte van die afgelope sowat vyf jaar, is die diere nog in goeie kondisie. Die spesies waarmee ek boer, is besonder goed in die woestynagtige omgewing aangepas,” vertel hy.

Die plaas bestaan uit verskillende habitatte – van bergagtige dele en uitgestrekte grasvlaktes tot savannaveld, rantjies en dele waar natuurlike bosse voorkom. Dit maak dit moontlik om suksesvol en volhoubaar met ’n verskeidenheid wildspesies in hulle natuurlike habitat te boer.

Wye verskeidenheid spesies

Naas die 25 bokspesies is daar ook sewe kleurvariasies vir trofeejagters beskikbaar, naamlik goue gemsbokke, goue wildebeeste, wit blesbokke, swart impalas, asook koper, swart en wit springbokke.

Hannes sê die kleurvariasies raak al gewilder onder sy kliënte. “Jagters wil graag in Namibië jag, waar dit polities baie bestendig is. Indien kleurvariasies ook beskikbaar is, verseker dit dat hulle gereeld terugkom en buitelandse valuta na Namibië bring.

“Die trofeejagters se behoeftes wissel baie. Daar is dié wat net in horinglengte geïnteresseerd is (duimjagters). Ander wil graag so ’n groot verskeidenheid diere as moontlik jag.

“Op Bergzicht word die beginsel van jonger trofeediere se teelwaardes gedurig deur beroepsjagters beklemtoon. Trofeejagters verstaan ook waarom ouer diere eerder geskiet moet word. Hulle word dus deel van die proses om kuddes se genetiese teelmateriaal te verbeter. Sowat 85% van my jagters kom uit Amerika en die meeste van hulle is nie duimjagters nie.”

’n Omvattende ervaring

Volgens Hannes dra sy trofeejagbedryf ook beduidend by op sosio-ekonomiese gebied. “Trofeejagters is nie in die karkas (vleis) van die bok geïnteresseerd nie. Die vleis is dan as ’n tweede produk beskikbaar en die jagter word na die skool op Dordabis gebring, waar hulle ’n gedeelte van die vleis aan die skool skenk.”

’n Trofeejag-herberg, waarin net een jaggeselskap van tot twaalf mense op ’n keer gehuisves kan word, is op die plaas gevestig. “So kan besoekers die volle aandag van Bergzicht se bekwame personeel ervaar vir ’n uitmuntende Namibiese jagervaring. Die onderneming bied werksgeleentheid aan 25 mense,” verduidelik hy.

Hulle het ook onlangs begin om van die wildvleis te verwerk. ’n Groot skuur gaan opgerig word vir dié projek, wat nog in sy kinderskoene is.

Hannes het met sy onderneming daarin geslaag om ’n beduidende bydrae tot sy land en omgewing te maak, en talle wildspesies volhoubaar te benut en te bewaar. Die Bergzicht-span is baie trots op hulle bydrae tot die Namibiese ekonomie.

Vir meer inligting, skakel Hannes du Plessis by +264 81 128 4825 of stuur ’n epos aan hannesd@africaonline.com.na. –Andries Gouws, Veeplaas