Die jongste navorsing deur die Namibiese Landbou-unie dui daarop dat Namibiese produsente in 2017 N$3,4 miljard uit die verkoop van beeste verdien het. Dit verteenwoordig 45% van die totale landbou-inkomste vir die jaar. Dit het drasties van N$2 miljard in 2016 verhoog.

Dit is noodsaaklik vir die Namibiese ekonomie dat hierdie bedryf gesond en volhoubaar is en bly. Volgens die Namibiese Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is dit in al drie markte wat tans bedien word, die uitvoermark na die Europese Unie (EU), die plaaslike mark vir beesvleis, asook die uitvoermark vir lewende beeste hoofsaaklik na Suid-Afrika van kritieke belang om ’n regverdige prys vir produsente te verseker.

Die LPO-bestuur het die Suid-Afrikaanse vleisbedryf vroeër besoek om die waardeketting waarvoor Namibiese speenkalwers gelewer word, beter te verstaan. Die Suid-Afrikaanse beesbedryf slag jaarliks sowat drie miljoen beeste, waarvan 87% A-grade is. Die beeste kom hoofsaaklik van voerkrale wat vertikaal geïntegreer is in die totale waardeketting en ’n finale produk aan die kleinhandel lewer.

Uitvoer nie meer mededingend

Sowat 50 000 ton beesvleis is in vorige jare in die droogte uit Suid-Afrika uitgevoer. As gevolg van die versterking van die rand is uitvoer nie meer mededingend nie. Na verwagting sal uitvoer baie in 2018 afneem en hierdie uitvoervleis sal in die Suid-Afrikaanse mark geabsorbeer moet word.

As gevolg van die relatief lae mielieprys is vleis wat onder intensiewe omstandighede geproduseer word, teen baie mededingende pryse in die mark beskikbaar. Die swak ekonomiese omstandighede dwing verbruikers om eerder goedkoper hoender- en varkvleis te koop.

Speenkalwers is egter steeds hoog in aanvraag weens ’n verkleining van die Suid-Afrikaanse beeskudde en na verwagting sal die speenkalfprys vir die volgende twee jaar mededingend bly. ’n Ooraanbod op die plaaslike Namibiese mark weens noodverkope kan pryse oor die kort termyn afwaarts druk.

Die LPO is baie bekommerd oor die volhoubaarheid van die uitvoermark van beesvleis uit Namibië en het reeds met beplanning begin om dit te verseker. Die LPO-bestuur ondersoek ’n optimale verwerking- en bemarkingsorganisasie wat oor die lang termyn volhoubaar is, en waarin produsente direk betrokke kan raak en seggenskap sal hê. Die planne is reeds ver gevorderd, maar ’n behoorlike lewensvatbaarheidstudie moet nog gedoen word. Lede sal ingelig word sodra meer inligting beskikbaar is. – NLU Nuusbrief