Die situasie van die Namibiese suiwelbedryf het verder versleg. Op 23 Februarie 2018 het die bestuur van die Suiwelprodusentevereniging (SPV) en verteenwoordigers van die verwerker vergader oor ’n verlaging van 10c per liter vir Namibiese produsente en nog ’n moontlike verlaging van 10c teen die einde van April.

Hierdie is die tweede verlaging vir produsente die afgelope sewe maande. Dit kan moontlik beteken dat sommige produsente hul besighede sal moet sluit. Buiten ’n prysverlaging word ’n sekere gedeelte van die betaling aan produsente op ’n maandelikse grondslag uitgestel. Produsente is ook gewaarsku om nie melkproduksie te verhoog nie, aangesien dit waarskynlik nie in die mark opgeneem sal kan word nie.

Die kritieke situasie in die Namibiese suiwelbedryf word hoofsaaklik toegeskryf aan die instroming van goedkoop UHT-melk en verwante produkte na Namibië. Die afgelope twee weke was UHT-melk, meestal van Suid-Afrika af, so goedkoop as N$10,99 per liter op Namibiese winkelrakke. Dit is selfs goedkoper as ’n liter water in dieselfde winkel. Die ernstige vraag ontstaan hoe dieselfde suiwelproduk op Namibiese winkelrakke goedkoper is as in Suid-Afrika op dieselfde dag.

Die situasie in die Namibiese suiwelbedryf vereis onmiddellike en ernstige aandag. Die langverwagte konsepwet (om die invoer en uitvoer van suiwel en suiwelprodukte te reguleer) is broodnodig en moet vanjaar by die Parlement ingedien word. – NLU Nuusbrief