NAMPO Kaap was die afgelope twee jaar ’n uiters suksesvolle landbougebeurtenis in die Overberg, maar die COVID-19-pandemie het die hele wêreld gedwing om nuwer en meer innoverende maniere te vind om besigheid te doen.

Read it in English

As vennote van Bredasdorp Park NWM (nie-winsgewende maatskappy) is dit ongelukkig dat Graan SA die kansellasie van NAMPO Kaap 2020 aankondig. Die aanvanklike besluit rakende die NAMPO Kaap Landbouskou sou aanvanklik eers aan die einde van Julie bekend gemaak word, maar die moeilike, dog verantwoordelike besluit, moes noodgedwonge vroeër geneem word.

Die kansellasie van NAMPO Kaap 2020 volg slegs enkele dae na die 2020 NAMPO Oesdag gekanselleer is. Beide organiseerders, Bredasdorp Park NWM en Graan SA, is van die oortuiging dat die onsekerhede rondom die toelating van massabyeenkomste moontlik nog lank onder bespreking gaan wees as gevolg van die COVID-19-pandemie.

Virtuele NAMPO 2020

Graan SA wil egter steeds ’n geleentheid aan al sy uitstallers bied om ’n aanlynplatvorm te benut waar die bemarking van produkte kan plaasvind en besigheid met produsente en die wyer publiek gedoen kan word. Indien u belangstel om deel te wees van NAMPO Virtueel, wat vanaf 9 tot 12 September 2020 van 09:00 tot 19:00 en Saterdag vanaf 09:00 tot 14:00 sal plaasvind.

Elke NAMPO Kaap-uitstaller word hartlik uitgenooi om deel te wees van ’n landbou-eerste en gebruik te maak van dié nuwe geleentheid. Vir meer inligting stuur ‘n e-pos aan info@grainsa.co.za. – Persverklaring, Graan SA