Lees die nuutste berig.

Graan SA het die uitstel van die 2021 NAMPO Oesdag na 17 tot 20 Augustus 2021 aangekondig, vol hoop dat die regeringsbeleid en -riglyne die uitgestelde datum sal toelaat. Graan SA sal die datum op 1 Junie 2021 hersien indien dit deur die nasionale ramptoestand genoodsaak word. Aangesien die Covid-19-pandemie onophoudelik in Suid-Afrika voortwoed, het Graan SA voortgegaan om op groot skaal met alle belanghebbendes oor die pad vorentoe te konsulteer.

Read it in English

Die potensiële risiko van verdere golwe van infeksie in die komende maande kan nie geïgnoreer word nie en Graan SA moes weer die moeilike, maar verantwoordelike besluit neem om die 2021 NAMPO Oesdag, wat van 11 tot 14 Mei 2021 op NAMPO Park net buite Bothaville sou plaasvind, uit te stel. Graan SA is daartoe verbonde om toepaslike aksieplanne in verband met die voortgesette ontwikkelinge van Covid-19 te implementeer.

Veiligheid bly prioriteit

“Die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap tydens die NAMPO Oesdag is van die grootste belang en word deur hierdie prioriteite en beste praktyk gelei. Die besluit om die geleentheid uit te stel was noodsaaklik,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA gesê.

Om aan te pas by die veranderinge wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het en van nuwe tegnologie gebruik te maak, was die 2020 NAMPO Oesdag eenmalig virtueel aangebied. Meer as 31 500 besoekers het die aanlyn NAMPO-virtuele uitstallingsplatform van 9 tot 12 September 2020 besoek om die beste en nuutste innovasies van meer as 93 van die nuutste uitstallers te sien.

Die NAMPO Kaap-skou, geskeduleer vir 8 tot 10 September 2021 in Bredasdorp, Wes-Kaap, en die NAMPO ALFA-skou, wat vir 30 September tot 2 Oktober 2021 op NAMPO Park, Bothaville, beplan is, sal op hierdie bevestigde datums voortgaan. – Persverklaring, Graan SA