Die COVID-19-uitbreking is ‘n ongekende voorval, en die wêreldwye pandemie het organisasies in ‘n kort tydperk op talle maniere beïnvloed. Ons leef te midde van groot onsekerheid en dinge rondom ons verander baie vinnig.

Na die streng maatreëls wat deur die Suid-Afrikaanse presidensie ingestel is, wat onder meer byeenkomste van meer as 100 mense verbied, het Graan SA die verwikkelinge rondom COVID-19 deurlopend gemonitor en, onder leiding en aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie, die presidensie en die Departement van Gesondheid, die moeilike besluit geneem om die 2020 NAMPO Oesdag wat vanaf 12 tot 15 Mei op NAMPO Park net buite Bothaville sou plaasvind, uit te stel.

Besoekers se gesondheid die hoogste prioriteit

Die 2020 NAMPO Oesdag word na 11 tot 14 Augustus 2020 uitgestel, gegewe dat die regering se beleid en riglyne die uitgestelde datum toelaat. Graan SA sal die voorgestelde datum teen die einde van Junie 2020 evalueer en hersien indien dit deur aangepaste regeringsregulasies genoodsaak word.

Graan SA is daartoe verbind om toepaslike aksieplanne met betrekking tot die ontwikkeling van COVID-19 te implementeer. “Die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap tydens die NAMPO Oesdag is uiters belangrik, en ‘n gebeurtenis van hierdie omvang hou té groot ‘n risiko in om voort te gaan tydens die oorspronklike datums. Aan die hand van ons prioriteite en beste praktyke, was die besluit om die geleentheid uit te stel ‘n noodsaaklike besluit,” sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Ekonomiese belangrikheid van NAMPO Oesdag

Die NAMPO Oesdag het in verlede jaar 81 345 besoekers oor vier dae ontvang, met 775 uitstallers en ‘n rekord getal van 376 vliegtuie en 63 helikopters het op NAMPO Park neergedaal. Die ekonomiese belangrikheid van die NAMPO Oesdag is absoluut noodsaaklik vir die korporatiewe, medium- en kleiner ondernemings van regoor Suid-Afrika wat aan die skou deelneem. Boonop het besoekers en uitstallers aan die 2019 NAMPO Oesdag ‘n gemiddeld van R28 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra, veral in die Vrystaat- en Noordwes-dorpe van Bothaville, Klerksdorp, Orkney, Potchefstroom en Stilfontein, met baie kleinsake-eienaars wat afhanklik is van die inkomste-inspuiting wat hierdie landbouplatform inhou.

“Terwyl ons voorsorg tref en dinge op ‘n ander manier doen, is ons doel om steeds ‘n gediversifiseerde landbouhandelskou aan te bied waarby ons getroue en jarelange vennote, die plaaslike gemeenskappe en die breër landbousektor, sal baat. Terwyl ons aanpas by die plaaslike impak van COVID-19, sal Graan SA toegewyd bly om risiko-ingeligte besluitneming toe te pas en alle belanghebbendes op hoogte te hou,” sê Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking.

Toewyding tot die landboubedryf

Graan SA sal voortgaan om aan te pas en saam die situasie as ‘n span en meer belangrik, as ‘n gemeenskap, te navigeer. Ons besef dat dit vir almal ‘n uitdagende tyd is, en ons toewyding tot die veiligheid van die landbousektor bly uiters belangrik.

Ons moedig almal aan om vriendelik en bedagsaam te wees, en selfs te midde van sosiale distansie, mekaar te ondersteun. Kom ons span saam om die kurwe af te plat en diegene wat dit die nodigste het, by te staan. – Persverklaring, Graan SA