Die Nasionale Jeugskoukampioenskap wat vanjaar vir die 21ste keer aangebied sou word, is afgestel. Hierdie kampioenskappe lok jaarliks meer as 400 deelnemers uit al nege provinsies en sou vanjaar vir die eerste keer op Upington plaasvind.

Die impak van die koronavirus-pandemie op skole, skoolvakansies en buitemuurse aktiwiteite tesame met die huidige ekonomiese klimaat asook die verbod op geleenthede, het die uitvoerende bestuur genoodsaak om hierdie besluit te neem. So sê Breyton Milford, voorsitter van die Nasionale Landbou Jeugvereniging.

“Ons het ‘n verantwoordelikheid om op te tree in belang van die leerders en nie by te dra tot verdere onsekerheid nie. Vanjaar het bek-en-klouseer die meeste skoue aan bande gelê, waarna die verbod op geleenthede met meer as 100 mense gevolg het en nou ook die inperking. Ons glo dit is die regte besluit en wens alle leerders sterkte toe met hierdie uitdagende akedemiese jaar.”

Leerders word eerste gestel

Volgens Liza de Beer, waarnemende hoof van landbou by Old Mutual Insure, moet die leerders eerste gestel word en daarom ondersteun Old Mutual Insure as hoofborg van die Nasionale Jeugskoukampioenskap, hierdie besluit. “Dit is jammer dat die 21ste Nasionale Jeugskoukampioenskap nie hierdie jaar sal kan plaasvind nie, en ons weet dat hierdie besluit nie ligtelik geneem is nie. In die lig van die huidige situasie is dit die regte besluit.”

‘n Datum vir die 21ste Nasionale Jeugskoukampioenskap in 2021, sal later vanjaar bekend gemaak word. – Persverklaring, Nasionale Landbou Jeugvereniging