Nasionale Merinoramveiling 2018: Elite-geleentheid om die draai

1036

Vanjaar se Nasionale Merinoramveiling en Nasionale Veldramveiling vind op Vrydag, 17 Augustus, vanaf 11:00 tot ongeveer 14:00 plaas. Dit vind weer op Graaff-Reinet se Botaniese Sportgronde plaas, met ‘n aanbod van 75 Merino-ramme, sowel as 30 Merino-ramme uit die nasionale veldramprojek.

Die wye spektrum van top stoetramme tot goeie kudderamme, maak dit juis ‘n besonderse geleentheid vir produsente wat die veiling bywoon. Volgens Merino SA se bestuurder, Danie Vorster, dui die goeie wol- en vleispryse asook veilingsgemiddeldes wat heelwat hoër as verlede jaar s’n is, daarop dat dit ‘n baie opwindende dag gaan wees.

Besigtiging

Al die ramme kan vooraf by die Botaniese Sportgronde besigtig word, op:

  • Donderdagmiddag, 16 Augustus, vanaf 14:30; en
  • Vrydagoggend, 17 Augustus, vanaf 08:00.

BKB gaan die veiling behartig en die afslaer is Gert Jordaan, bestuurder van die streekskantoor op Cradock.

Verkopers op die Merinoramveiling

Groep 3 / Wellwood / Trumps / Charmac / Kinko / Diepfontein / Grootaar / Klein Zuurfontein / Montevideo / Phoenix / Zuiderkruis / Goedeverwagting / Wildewater

Verkopers op die Nasionale Veldramveiling

Karooveld / Klein Zuurfontein / Grootfontein studente / Brighton / Vida / Trumps / Grootaar / Slypfontein / Goedeverwagting

 Elite veilingsdinee

Op Donderdagaand, 16 Augustus, word ‘n elite veilingsdinee met ‘n indrukwekkende spyskaart om 19:00, ook by die Botaniese Sportkompleks, aangebied. Die semi-formele geleentheid se gaskunstenaar is die veelsydige vermaaklikheidskunstenaar, Andries Vermeulen.

Merino SA se president, Gert Smit, sal ‘n kort toespraak lewer en volgens Danie Vorster is ‘n erelidmaatskaptoekenning ook op die kaarte. “Merino SA nooi almal hartlik uit om die dinee en veilingsdag saam met ons te kom geniet.”

Enigiemand wat die elite veilingsdinee wil bywoon, of enige navrae aangaande die veiling het, kan die Merino SA kantoor by 049 892 4148 skakel, of ‘n e-pos na merinoram@eastcape.net stuur. – Carin Venter, Veeplaas