Die vierde sybokhaarveiling van die 2018-verkoopseisoen, wat op 17 April deur CMW by die Sybokhaarbeurs in Port Elizabeth gehou is, het op meer as een manier ’n opskudding veroorsaak. Dit was ’n uitstekende veiling met ’n 5% opwaartse tendens.

Read it in English.

Bennie Conradie van die CF Conradie-trust in die Murraysburg-distrik het ’n nasionale rekordprys behaal vir ’n gemiddelde prys van R358,42/kg vir ’n volledige skeersel, wat ongekend is en die hoogste gemiddeld nog is.

Voordat so ’n gemiddeld gekwoteer word (gewoonlik anoniem), word deeglik nagegaan of die skeersel volledig is en alle tipes haar insluit om ten volle verteenwoordigend te wees. Daarby moet die skeersel ook meer as 500kg weeg.

Conradie skryf die uitsonderlike sukses van die skeersel toe aan – merkwaardig genoeg – die droogte, wat die haar baie fyner gemaak het, ofskoon dit veroorsaak het dat heelwat aan gewig ingeboet word. Die hele skeersel ondergaan die EGT-proses, waar elke dier vooraf deur die CMW-laboratorium (die vesel-tak van OVK) in Port Elizabeth vir fynheid getoets word.

Volgens Pierre van der Vyver, bestuurder vir sybokhaar by OVK, het hulle al groot verwagtinge gehad toe die toetsresultate beskikbaar gestel en deur hulle ontleed is om ’n aanbeveling aan Conradie te maak. Die skeersel se gemiddelde totale fynheid het op 25,51 mikron te staan gekom – ’n peil wat op sigself nog nooit behaal is nie.

Die feit dat hierdie droogte-skeersel steeds aan die standaarde vir goeie gehalte kon voldoen, het baie te make met die feit dat die Anogorabok oorspronklik ’n woestyndier was en dié goeie eienskappe steeds in sy gene is. Die Angora staan ook bekend as die dier met die beste omset ten opsigte van kos ingeneem teen vesel geproduseer. – Persverklaring