In die landbou het die term “naspeurbaarheid” ’n baie wye toepassing. Dit strek aan die een kant vanaf die eerste registrasie van ’n pasgebore dier, insluitende sy afkoms en herkoms, tot reg aan die ander kant van die waardeketting, by die produk wat, dalk in ’n ander land, in ’n verbruiker se hande beland.

Tussen hierdie twee uiterstes is ’n diverse verskeidenheid toepassings, afhangende van die betrokkenes se spesifieke fokus. Rachelle Cloete van GMP Basic definieer die term as volg: “Naspeurbaarheid is die vermoë om ’n dier of artikel te merk vir identifikasie, alle toevoegings, veranderings en bewegings aan te teken sodat onder andere eienaarskap bewys kan word in geval van ’n dispuut, diere geïdentifiseer kan word in geval van ’n biosekuriteitsuitbreking of erosiesiektes wat finansiële verliese tot gevolg kan hê, en om die dag-tot-dag bestuur van individuele diere te doen om die swakkes uit te wys en verliese te beperk.”

Daarteenoor word naspeurbaarheid in die Suiwelstaandaard-agentskap (SSA) se gedragskode vir melkverwerkers as volg beskryf: “Produk-identifisering en naspeurbaarheid verseker dat die produk in die mark nagespeur word tot terug by die vervaardiger en die roumateriale wat gebruik is daarom te vervaardig en om te identifiseer hoeveel van daardie produk wel vervaardig is. Hierdie inligting is uiters belangrik in die geval van ’n herroeping van die produk. Die maatskappy behoort alle roumateriale voldoende te identifiseer en behoort produkte-in-proses asook klaar produkte na te speur tydens enige stadium van vervaardiging, stoor, versending en, waar toepaslik, verspreiding na die verbruiker.”

Rol in die voedselketting

Kyk ’n mens na die verskillende terreine waar naspeurbaarheid ’n rol in die voedselketting speel, kom die volgende na vore:

  • Teling en seleksie (afkoms en herkoms).
  • Identifikasie (van die individuele dier).
  • Aanspreeklikheid en risikobestuur.

In elkeen van hierdie segmente van die waardeketting van ’n produk, speel die boer ’n integrale rol in die instandhouding van betroubare naspeurbaarheidsdata. En elkeen van hierdie segmente kos ook geld.

Noodsaaklike hulpmiddel

bok boerbok
Oorplaatjies is maar een element van die groter naspeurbaarheidsprentjie. (Foto met vergunning van GMP Basic-bestuursagteware).

Die vraag is dus: Hoeveel kos naspeurbaarheid die bedryf? En is dit die moeite werd? Volgens Rachelle is dit egter die verkeerde vraag. Die vraag is eerder: Kan jy dit bekostig om nie naspeurbaarheidsmaatreëls in te stel nie?

“Op die basiese vlak behels naspeurbaarheid twee dinge wat onlosmaaklik inmekaar geweef is, naamlik voedselveiligheid en voedselsekerheid. Met hierdie twee aspekte as basis, kan baie ander uiters waardevolle funksionaliteite op die naspeurbaarheidsinfrastruktuur gebou word, maar die basis, naamlik voedselveiligheid en voedselsekerheid, mag nooit uit die oog verloor word nie.”

Voedselveiligheid en -sekerheid

Voedselveiligheid gaan in wese daaroor dat die kos wat aan verbruikers beskikbaar gestel word, veilig en voedsaam sal wees, verduidelik sy. Voedselsekerheid, daarenteen, gaan in die konteks van vee in die eerste plek oor die gesondheidstatus van die nasionale veestapel en in die tweede plek oor die gesondheidstatus van individuele produsente se kuddes.

“Uitbrekings soos bek-en-klouseer, ’n beheerde en aanmeldbare siekte, beïnvloed die hele bedryf en die land. Brusellose, ’n soönotiese siekte wat van dier na mens oordraagbaar is, veroorsaak produksie- en reproduksieverliese. Hierdie en ander erosiesiektes kan winsgewendheid beïnvloed, wat tot die einde van ’n individuele boer of selfs ’n distrik se boere kan lei,” sê sy.

Doeltreffende identifikasiestelsel

Naspeurbaarheid begin op die plaas met ’n doeltreffende identifikasiestelsel en sluit basiese inligting soos geboortegewig, speengewig, ouerskap, inentingsprogram, siektebehandeling, onthoorningsdatum, speendatum, seleksiestatus en bemarkingsgeskiedenis (byvoorbeeld watter voerkraal) in. Daarna sluit dit prestasie in die voerkraal in, asook die finale uitslagpersentasie en gradering, en die beweging van die karkas deur die waardeketting tot by die eindverbruiker.

Wat rooivleisprodukte betref, is daar ongelukkig selde ’n ononderbroke inligtingslyn van ’n dier van die plaas van oorsprong tot by die kleinhandelpunt waar die eindproduk verkoop word. Sy glo dit is ’n leemte in die bedryf wat dringend aandag moet kry.

“Voerkrale hou noukeurig rekord van die diere wat hulle inneem, maar by inname word die boer se inligting nie noodwendig met die voerkraal se stelsel geïntegreer nie. As jy nie op die een of ander manier ’n unieke nommer aan elke dier in die stelsel kan toeken wat met daardie dier geassosieer bly regdeur die waardeketting nie, is doeltreffende naspeurbaarheid net ’n droom.”

Beskerming teen vervolging

Rachelle waarsku dat, in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming, 2008 (Wet 68 van 2008), al die rolspelers in die waardeketting betrek kan word as nalatigheid met ’n produk bewys word. Die enigste beskerming teen vervolging is ’n noukeurige naspeurbaarheidstelsel.

Dis ook belangrik om te besef dat, net soos die boer se produk naspeurbaar moet wees, elke inset wat hy op die plaas gebruik, soos entstowwe, ook nagespeur moet kan word. Die koue ketting is in die geval van entstowwe byvoorbeeld uiters belangrik en boere moet absoluut daarop bedag wees.

“Naspeurbaarheid kan eintlik beskryf word as ’n netwerk van rekords van al die elemente wat ’n spesifieke bedryf laat werk. En alles begin by die doeltreffende identifisering van die roumateriaal,” sê sy.

Een so ’n projek is die Wagyu-bedryf wat Brian Angus, ’n boer van Arlington, op die been gebring het. Omdat hy die egtheid van sy produk kan bewys, het hy ’n Europese Unie (EU) geakkrediteerde vleisverwerkingsaanleg gebou om sy nismark te bedien.

Kommunale boerderystelsels

’n Voorbeeld van waar die gebrek aan naspeurbaarheid beperkend is vir toetrede tot ’n mark, is die kommunale boerderystelsels in groot dele van die platteland. Maar ook hier is hoop.

Die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch het met prof Erwin Schwella se hulp met ’n inisiatief genaamd die Stellenbosch Good Governance Forum (SGGF) begin. Verskillende fokuspunte word helikse genoem, en so is daar die landbou-heliks. Dit is in die landbou-heliks dat ’n gedagte tot uitvoer gebring word om aan veral beeste uit kommunale gebiede toegang tot die hoofstroom bemarkingsomgewing te bied.

Ronel Fourie, koördineerder van hierdie projek, sê dit is die oorspronklike gedagte van Mpumelelo Ncwadi, ook van die Skool vir Publieke Leierskap.

Beter omstandighede en produkte

“Sy gedagte was om boere in kommunale gebiede se omstandighede te verbeter. Beter toegang tot markte was ’n onmiddellike fokuspunt, en die eerste vereiste is ’n individuele identifikasiestelsel waarvolgens elke dier gemerk kan word sodat afkoms en herkoms, nie net ten opsigte van die ras en ouerskap nie, maar ook ten opsigte van die gebied, op rekord geplaas kan word.

“Die mikpunt is om met doeltreffende gesondheids- en voedingstelsels ’n beter produk te skep sodat dit ’n beter vraag in die hoofstroom sal geniet.

“Afgesien hiervan, is daar ook die moontlikheid om nismarkte te skep vir hierdie vleis, maar ook daarvoor is ’n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel nodig. Die uiteinde is dat die SGGF, in samewerking met die bedryfsingenieurswese-afdeling van die Department Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, ’n navorsingsprojek begin het waarbinne al die elemente van ’n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel, insluitend harde- en sagteware en bekostigbaarheid, ondersoek word.

“Ongeag wat die teikenmark van ’n produk is, die voorvereiste vir die doeltreffende bemarking daarvan is ’n doeltreffende identifikasiestelsel waarop ’n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel gebou kan word,” sê sy. -Izak Hofmeyr

 

 

 

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here