Nat toestande ’n uitdaging vir saadmielieprodusente in Noordwes

220
Saadmielieprodusente
Dolf van Wyk en Pieter Laing wat met ’n Robinson44 oor Piet en Ettienne Oussoren se saadmielie-aanplantings vlieg om bestuiwing te bevorder. Foto: Christal-Lize Muller.

Saadmielieprodusente langs die Mooirivier buite Potchefstroom stoom voort, ondanks vele uitdagings wat hulle die hoof moet bied. Ettienne Oussoren boer sedert 2011 voltyds saam met sy pa, Piet, op die plaas Groengoud in die Haaskraal-gebied. Hul fokus is hoofsaaklik saadmielieproduksie, maar hulle plant ook koring, sowel as sonneblom- en sorghumsaad aan.

Hierdie pa-en-seunspan beskik tans nie oor genoeg landerye om kommersiële mielies ekonomies aan te plant nie, en het daarom besluit om op saadmielies te konsentreer om hul boerdery meer lewensvatbaar te maak. Hulle meen die prys van saadmielies bly konstant, terwyl kommersiële mielies se prys wisselvallig kan wees. Die produksie van saadmielies verg harde werk, intense beplanning, geduld en baie deursettingsvermoë. “Om meer waarde toe te voeg, moet ons meer intensief boer,” sê Ettienne.

Hoë reënvalsyfers wat die afgelope seisoen aangeteken is, is ’n seën vir boere in Noordwes, maar té veel reën hou vir saadmielieprodusente, soos die Oussorens, groot probleme in. Volgens Piet moes hulle al van die aanplantings per hand doen, want dit was net té nat. Hierdie proses was duur, tydrowend en arbeidsintensief.

Uitdagings van saadmielieproduksie

Wat saadmielieproduksie verder uitdagend maak, is dat plantinstruksies na gelang van variëteite verskil. Daar word van produsente verwag om die daaglikse minimum- en maksimumtemperature te monitor, sienende dat die verskillende aanplantings volgens hitte-eenhede bepaal word. Nog ʼn uitdaging vir saadmielieprodusente wanneer dit te veel reën, is om toe te sien dat oppervlaktewater nie landerye oorspoel en die saadmielies versuip nie. Om dit te verhoed, maak die Oussorens slote om landerye sodat oortollige water weggevoer word.

Ettienne Oussoren, Wimpie Jacobs, veldbestuurder by Bayer, en Piet Oussoren by ’n saadmielieland. Foto: Christal-Lize Muller.

Ettienne sê dit is verder moeilik om werknemers in nat- en reëntoestande te motiveer om die wyfieplante se pluime te trek. Hoewel die grootste gedeelte van die pluime meganies gesny en getrek word, moet die oorblywende pluime met die hand getrek word. Indien ’n selfaangedrewe plukker tydens nat toestande nie in landerye kan ry nie, moet al die pluime met die hand getrek word. Dit kan tot soveel as 65 000 pluime per hektaar wees. Piet reken hulle is goed ingerig om die saadmielies tydens droër toestande te besproei, maar ongelukkig kyk hulle magteloos toe as dit te veel reën.

Die rol van windtoestande

Windtoestande speel ook ’n groot rol. Die wind is nodig vir die bestuiwingsproses vanaf die mannetjie- na die wyfieplante. Daarby moet daar droë baarde op die wyfieplante wees om die stuifmeel te kan ontvang en as die wind nie waai wanneer bestuiwing moet plaasvind nie, is die bestuiwingsproses nie doeltreffend nie. Dit is juis daarom dat Piet en Ettienne die hulp van ʼn helikopter ingeroep het om laag oor die plante te vlieg. Om siektes en insekte te bestry, word ʼn hoogloopspuit gebruik, maar in uitsonderlike nat toestande kan ’n spuitvliegtuig ook hiervoor gebruik word.

Die Oussorens is vol moed dat hierdie seisoen, hoewel dit baie nat is, steeds positiewe resultate sal lewer.

Intussen sê prof Johan Rautenbach, ʼn weerkundige, dat die bogemiddelde reënval wat hierdie seisoen in die binneland van Suid-Afrika voorkom, die gevolg van ʼn La Niña-weersverskynsel is. Tydens ʼn La Niña-weerverskynsel kom minder reën in die voorsomer en meer reën vanaf Januarie tot selfs April en Mei voor. “Die verwagting vanjaar is dat hierdie nat seisoen nog ʼn hele ruk kan voortduur.” – Christal-Lize Muller, AgriOrbit