Met die keuse van die regte kultivars en die aanpassing van besproeiingsregimes in jong wingerde, kan wingerdboere die verwagte effek van klimaatsverandering in komende jare teenstaan. So reken dr Hanlé Theron, wat haar doktorsgraad in Wingerdkunde onlangs aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het.

Haar studie is onder leiding van dr Kobus Hunter by die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvoorbij op Stellenbosch gedoen.

“Onlangse navorsing dui daarop dat die totale area waar wyndruiwe in Suid-Afrika in die toekoms verbou kan word, heel moontlik weens klimaatsverandering gaan krimp. Die wynbedryf is ‘n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie en daarom is dit belangrik om navorsing te doen wat die industrie kan help om die impak van klimaatsverandering te versag,” vertel dr Theron, ‘n lektor in die Departement Landbou aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

Die impak van hoë CO2-vlakke op wyndruifproduksie

Na verwagting sal wyndruifproduksie veral geaffekteer word deur stygende vlakke van atmosferiese koolstofdioksied (CO2), hoër gemiddelde temperature en veral ‘n afname in reënval. “Die meeste van ons wingerdboustreke ervaar alreeds minder reënval as waaraan hulle in die verlede gewoond was en dit is reeds nie genoeg om in die behoeftes van wingerde te voorsien nie,” sê sy.

“Dis ‘n duur oefening om ‘n wingerd te vestig en boere wil so gou moontlik hê dat dit goed groei en in volproduksie kom,” vertel dr Theron. “Die aanvanklike groei van ‘n nuutgeplante wingerd het ‘n direkte effek op die langtermyn-wingerdprestasie en lewensduur van die blok. Jong stokkies is uiters sensitief vir omgewingstoestande en daar word verwag dat toekomstige klimaatsomstandighede vegetatiewe groei in die eerste groeiseisoen sal beïnvloed.”

Dr Theron het in haar navorsing gefokus op die eerste paar maande nadat jong Merlot- en Shiraz-stokkies geplant is. Sy sê die effek van verhoogde CO2-vlakke en temperatuur op die groei van wingerde word al etlike dekades deur wingerdboukundiges ondersoek. Dr Theron het tot bestaande kennis bygedra deur die algehele effek van ‘n kombinasie van omgewingsfaktore (CO2, temperatuur en watervoorsiening) op die groei en funksionering van jong stokkies te bestudeer.

Shiraz is gekies omdat dit tot dusver goed aard in warm, droër wynproduserende streke, terwyl Merlot heelwat meer sensitief is vir uiterste toestande, veral waterstres en hoë temperature.

Om dit te doen, het sy ‘n totaal van 1296 Shiraz- (SH 470) en 864 Merlot- (MO 348) stokkies met 101-14 Mgt as onderstok (oor die algemeen beskou as sensitief vir ‘n watertekort) in potte geplant en vir twaalf weke lank laat groei in ‘n glashuis by die LNR se Nietvoorbij-kampus. Sy het onder meer die fisiologiese aktiwiteit van die stokkies, hul aanvanklike groei, die mate waartoe minerale opgeneem en vervoer word, asook die vervaardiging en interne verspreiding van metaboliete, fyn bestudeer.  

Resultate uit die studie

Sy het onder meer bevind dat stokkies wat aan hoër CO2-vlakke en min water blootgestel was (mits die watertekort nie uitermate straf was nie), steeds goed gefotosinteer het en die beskikbare water en stikstof doeltreffend gebruik het. 

“Die nadelige gevolge van ‘n tekort aan water op die plante se fisiologiese aktiwiteit is tot ‘n mate deur verhoogde CO2-vlakke teengewerk,” verduidelik sy. Dit is dus moontlike goeie nuus in terme van klimaatsverandering, met die verwagte styging in CO2-vlakke en verlaging in hoeveelheid besproeiingswater wat beskikbaar gaan wees in die toekoms. 

Dr Theron het ook bevind dat Merlot-stokkies meer sensitief was vir watertekorte as Shiraz-stokkies. Daarteenoor het Merlot-stokkies beter reageer op verhoogde CO2-vlakke as Shiraz. “Ons kan dus nie verwag dat alle bo- en onderstokkultivars in alle gevalle dieselfde gaan reageer op klimaatsverandering nie,” reken sy.

Dr Hanlé Theron het haar doktorsgraad in Wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.

Praktiese raad vir wingerdboere

Volgens dr Theron kan wingerdboere met slim keuses rondom die bo- en onderstokke moontlik die effek van klimaatsverandering op hul boerderybedrywighede en veral nuutaangeplante wingerde verminder.

Sy bied ook die volgende raad aan wingerdboere:

  • Wingerdgronde moet so diep moontlik voorberei word. So kan plantwortels die grond so diep as moontlik binnedring op soek na vogtigheid. Dit sal help om wingerde te buffer in tye van droogtes.
  • Besproeiïngspraktyke moet aangepas word om dieper, wyer wortelgroei en digter wortelverspreiding by jong stokkies te bevorder. Dit kan gedoen word deur besproeiingsiklusse verder uitmekaar te skeduleer en dan groter volumes water op ‘n keer te besproei.   
  • Daar is waarde daarin om verbouingspraktyke in veral jong wingerde te herevalueer. Dit sal byvoorbeeld beter wees as dekgewasse nie onnodig met die groeiende wingerde vir water en voedingstowwe kompeteer nie. 
  • Boere sal in die toekoms moet besin oor die hoeveelheid voedingstowwe wat hulle tans as ‘n reël vir veral jong stokkies in nuutaangeplante wingerde toedien. ‘n Wingerdstok sal byvoorbeeld net ‘n sekere hoeveelheid stikstof uit die grond opneem en dan sal dít wat oorbly uitloog en waterbronne moontlik besoedel. – Engela Duvenage, Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit van Stellenbosch