“As jy nie om die tafel sit nie, is jy op die menu.” Só het Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, op die onlangse Agri Gauteng-kongres gesê oor die belangrikheid daarvan dat georganiseerde landbou baie nou met die regering moet saamwerk en aktief aan gesprekke moet deelneem. “Ons as Agri SA wil seker maak ons het ’n stem en dat nie namens die boere besluite geneem word nie.”

Van Zyl het Agri SA se strategie en aksies oor onteiening sonder vergoeding (OSV) onder die vergrootglas geplaas. “Die volgende drie maande gaan kritiek wees wat die bestuur van hierdie strategie betref.”

Volgens die politieke ontleder, Theo Venter, kan onteiening sonder vergoeding nie tans grondwetlik plaasvind nie, hoewel onteiening wel moontlik is. Hy het benadruk dat hy vermoed daar gaan wel aan die Grondwet verander word, maar dat die omvang van die wysiging baie beperk gaan wees. “In ’n sekere sin het die ANC hulle daartoe verbind om die grondwet te wysig, maar ek verwag dat dit op so ’n manier gedoen gaan word dat dit so min as moontlik skade veroorsaak.”

Hy sê hoe langer dié proses uitgestel gaan word, hoe moeiliker gaan die situasie word, veral as die verwagtinge rondom volgende jaar se verkiesing gaan realiseer. “Daar is heelwat onduidelikheid oor hierdie proses en die regering is moontlik op soek na leiding in dié verband. Ons is aan die begin van ’n gesprek oor grondhervorming, nie aan die einde van die gesprek nie.”

In die lig van heelwat onakkurate beriggewing wat deesdae die rondte in die media doen oor OSV het Venter die omstrede lys van plase wat versprei is, ook onder die soeklig geplaas. Hy sê dit het ’n baie negatiewe en ongewenste reaksie tot gevolg gehad. Daar is sprake dat dit ’n ou lys is wat moontlike plase vir oordrag in swart besit bevat het. Een van hierdie plase behoort blykbaar reeds aan vise-president van die ANC, David Mabuza. – Elmarie Helberg