Die gesoute en bekroonde wynmaker, Lizelle Gerber, sluit op 1 Augustus by Nederburg Wines buite die Paarl aan as keldermeester.

Read it in English.

Nederburg, een van Suid-Afrika se bekendste en mees vooraanstaande wynhandelsmerke, vorm deel van die nuutgestigte Libertas Vineyards and Estates, Distell se onafhanklike maatskappy vir premiewyne.

“Ons is tegelyk trots en opgewonde om Lizelle by die span te verwelkom,” sê Niël Groenewald, besturende direkteur van Nederburg. “Sy bring ’n skatkis van ingebore talent en kreatiwiteit na haar posisie by Nederburg, asook praktiese kennis en ervaring as keldermeester.”

‘n Gesoute wynmaker

Gerber het haar wynmaakgraad aan die Elsenburgse Landbou-opleidingsinstituut van Stellenbosch verwerf na ’n jaar in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF). Hier het sy haar deursettingsvermoë, volharding en presisie tentoongestel, eienskappe wat haar goed te pas kom in haar loopbaan.

Haar wynmaakloopbaan het in 1996 by Zevenwacht begin, maar dit was die tyd wat sy op Avontuur aan die begin van die nuwe millennium deurgebring het, wat haar kennis en ervaring van die wingerdstok verdiep het. In die tydperk tussen die twee landgoedere het sy ’n oes in die Alsace-streek van Frankryk deurgemaak, waar sy belangrike blootstelling aan die internasionale wynbedryf opgedoen het. Sy was die wynmaker vir DGB se Bellingham-handelsmerk van 2004 tot Augustus 2006 toe sy by Boschendal aangesluit het waar sy vir meer as ’n dekade die toegewyde Methode Cap Classique (MCC) en witwynmaker was.

In haar nuwe rol sal Gerber toesig hou oor die produksie van Nederburg se uitgebreide en bekroonde wynportefeulje, asook as mentor optree vir die wynmaak-protégé vir Pongrácz, Andiswa Mapheleba, om haar ontwikkeling as MCC-spesialis te versnel.

“Lizelle is bekend daarvoor dat sy progressief, strategies en gedissiplineerd, asook innoverend is. Ons het volle vertroue in haar vermoë om rigting te gee en inspirasie te bied aan Nederburg se talentvolle wynmaakspan en sien uit daarna om waardevolle insig van haar te verkry wanneer sy die leisels oorneem en die Nederburg-span lei op die volgende fase van die handelsmerk se erflating van wynmaakuitnemendheid.”

Nederburg reg vir nóg uitdagings

Groenewald sê Nederburg se benydenswaardige reputasie is geen rede om gerus te raak nie. “Inteendeel, dit verhoog die druk op ons om ons posisie te behou, en met so baie uitstekende wyne wat plaaslik gemaak word, is dit ’n ernstige en opwindende uitdaging.

“Op Nederburg werk ons volgens die mantra van innovasie en ontdekking, en in die vaste oortuiging dat mens nooit ophou leer of maniere vind om dinge beter te doen nie. Lizelle is die mees geskikte kandidaat om Nederburg se reeds benydenswaardige posisie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf verder uit te bou.” – Persverklaring, Libertas Vineyards and Estates

Besoek www.libertasvineyards.co.za vir meer inligting oor Libertas Vineyards and Estates, of gaan na www.nederburg.com om meer uit te vind oor hierdie bekroonde Paarlse wynmakery.