Die eerste besproeiingstelsel met ʼn brein, NetBeat™, is pas vir implementering in Suid-Afrika en die SADC-gebied bekendgestel. Netafim Suid-Afrika het dié nuwe outomatiseringstegnologie op 5 Junie 2019 by die Landtscap Landgoed in Devon Valley, Stellenbosch bekendgestel.

Read it in English.

Netafim NetBeat

“Ons noem NetBeat met selfvertroue die grootste innovasie in besproeiing sedert die bekendstelling van drupbesproeiing in 1959,” sê Etienne Erasmus, besturende direkteur van Netafim Suid-Afrika. “NetBeat is ʼn alles-in-een platform en die enigste besproeiings- en kunsmistoedieningsbestuursplatform wat regstreekse monitering, analise en besluitnemingsondersteuning asook outomatisering en beheer kombineer.”

Digitale boerderyoplossings

Netafim is reeds die afgelope 20 jaar betrokke by die outomatisering van landboubesproeiing en ander landbou-aktiwiteite en het reeds verskeie digitale landbouoplossings beskikbaar gestel. “Ons het begin as handelaar van outomatiseringstegnologie. In 2002 het ons egter besluit om ons eie besproeiingsbeheerplatforms te ontwikkel,” sê Mark Hill, bestuurder van digitale boerderyoplossings by Netafim Suid-Afrika.

Die eerste produk was die NMC (Netafim Mid-Range Controller) wat ontwikkel is om die gaping tussen kleinskaalse en grootskaalse besproeiingsbeheerplatforms te vul. Die ontwikkeling van verskeie beheerplatforms en later ook moniteringsplatforms het gevolg.

Al die outomatiseringsvermoëns het in silo’s bestaan. Dit het die boer met die groot taak gelaat om dié gesegmenteerde data te analiseer en verwerk tot iets wat bruikbaar is. “Ons moes ʼn platform skep wat al dié vermoëns in een platform kombineer. Netafim kundiges van regoor die wêreld het by die Netafim hoofkantoor in Israel bymekaargekom om die raamwerk van NetBeat, soos ons dit vandag ken, uiteen te sit,” sê Hill.

Erasmus voeg by dat Netafim skouer aan die wiel sit om die opwindende vierde industriële revolusie na die besproeiingsbedryf te bring. “Dit was duidelik dat Netafim sy bestaande outomatiserings- en bestuurstegnologie na ʼn selfs hoër vlak moes neem. Nooit het ons egter besef hoe spesiaal dié skuif sou wees nie. Ons sou ons nooit die onbeperkte potensiaal van digitale boerderyoplossings kon indink nie. Tot waar kan selfleer-gewasmodelle ons neem?

Digitale besproeiingsinnovasie

NetBeat laat jou toe om data vir jou te laat werk en sodoende jou plaas se ware potensiaal te ontgin. Die platform laat jou terselfdertyd toe om die verbruik van water en ander hulpbronne te beperk. NetBeat volg die plant se ontwikkelingsfase en herkalibreer homself volgens regstreekse en voorspelde omgewingsdata vanuit verskillende bronne.

“Alhoewel NetBeat die eerste platform is om die verskeie funksies te kombineer, kan dit maklik deur mededingers nagedoen word.” sê Hill. “Iets moes NetBeat onderskei. Dié werk word gedoen deur die Dinamiese Gewasmodelle™ as besluitnemingsondersteuningsdiens. Die integrasie van dié modelle maak belangrike kunsmatige intelligensievermoëns moontlik.

Netafim se landboukundige kennis wat oor 50 jaar versamel is, word sodoende met regstreekse data gekombineer om aanbevelings vir besproeiing en kunsmistoediening te maak. Dié pasgemaakte aanbevelings kan aanvaar, verwerp of aangepas word deur die gebruiker.”

Wolkgebaseerde berekeningsvermoë

Hill verduidelik dat die platform se geweldige berekeningsvermoë moontlik gemaak word deur die feit dat dit wolkgebaseerd is. Die wolkgebaseerde sagteware maak verder afstandsbeheer en die rugsteun van data moontlik asook die integrasie van derdeparty-data.

“Dit beteken egter nie dat die stelsel ʼn voltydse internetkonneksie nodig het nie.” NetBeat bestaan uit hoofsaaklik twee hardewarekomponente – die MCU (Main Control Unit) en die RTU (Remote Control Field Unit). Albei is met die jongste tegnologie toegerus en kan alle huidige en moontlike toekomstige toestelle ondersteun.

Die MCU koppel via verskeie konneksiemetodes aan ʼn wolkbediener, terwyl die RTU’s met die MCU koppel deur middel van ʼn tweerigting Lora-radiokonneksie. “NetBeat kan, sonder om aan die wolbediener gekoppel te wees, normaal funksioneer met geringe verminderde funksie.”

Maklik en vir almal

NetBeat is ontwerp om die bestuur van besproeiing en kunsmistoediening eenvoudig te maak, selfs in ingewikkelde boerderystelsels. Dit is hoekom beide die koppelvlak en die toepassing maklik is om te gebruik en alles bied wat die boer nodig het.

Hill sê dat daar dikwels ʼn wanpersepsie is dat digitale boerdery-oplossings buite die bereik van klein of selfs mediumgrootte boerderye is. Alhoewel dit waar mag wees van ander digitale boerdery-oplossings, bied NetBeat ʼn platform wat aangepas kan word tot jou begroting asook die grootte en vereistes van jou boerdery. Dié aanpasbaarheid word moontlik gemaak deur MCU’s en RTU’s by te voeg volgens die grootte van die plaas en die werk wat gedoen moet word.

Meer met minder

Netafim word gedryf deur sy slagspreuk, Grow more with less™. Dit is presies wat boere in waterskaars Suid-Afrika en SADC-gebied nodig het. Die wêreldwye tendens van beperkte hulpbronne en hoë insetkoste tref dié streke veral hard,” sê Erasmus. Netbeat se vermoë tot monitering, analise en outomatisering maak dit vir boere moontlik om elke hulpbron optimaal te gebruik, uiteindelik meer met minder te produseer en sodoende elke sent te laat tel.

“Ek glo dat NetBeat ʼn wesenlike impak op voedselproduksie in ons streek sal hê. Die platform word in elke land waar dit geïmplementeer word anders ervaar en anders toegepas. Dit is ʼn reis wat ons met opgewondenheid aanpak.” – Persverklaring