Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het ’n uitdagende stadium in die wingerdseisoen bereik vanweë die voortslepende droogte en lae watervoorrade in die Wes-Kaap.

Read it in English.

Volgens die bedryfsliggaam Suid-Afrikaanse Wynbedryf-inligting en -stelsels (Sawis) voorspel ’n tweede oesskatting van die Suid-Afrikaanse wyndruiwe-oes in die tweede week van Januarie ’n nog kleiner druiwe-oes as vorige opnames, wat einde November 2017 gedoen is – moontlik die kleinste sedert 2005.

Francois Viljoen, bestuurder van konsultasiedienste vir die wynbedryforganisasie Vinpro, sê die oesafname-tendens wat die afgelope twee maande voorspel word, kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die warm en droë weerstoestande vroeg in Desember. “Feitlik geen noemenswaardige reën het in dié tydperk geval nie en heelwat warm dae (bo 35°C) is aangeteken. Dít, tesame met ’n voortdurende suidoostewind, het die waterverbruik van wingerde verhoog.”

Die Wes-Kaap ondervind ’n voortslepende droogte vir die derde agtereenvolgende seisoen, met damvlakke op 26,6% teenoor 41,6% in 2017. Die meeste produsente is afhanklik van besproeiingswater uit die verskillende besproeiingskemas, wat reeds vanaf vroeg in die 2017-groeiseisoen gerantsoeneer word. Waterkwotas is met 50 tot 80% gesny.

“Hierdie beskikbare water is eenvoudig nie genoeg om tans aan die wingerde se behoeftes te voldoen nie,” sê Viljoen. “Dit beteken die wingerde begin nou simptome van ’n watertekort wys en die korrelgroei neem af. Kleiner korrels beteken ’n ligter oes met laer sapverhalings, wat verder bydra tot laer volumes.”

Reën wat wegbly, watervoorrade wat krimp en warm dae wat voortduur, kan vorentoe verder bydra tot ’n krimpende 2018-oes.

“Hierdie uitdagende seisoen het wel ’n negatiewe invloed op produsente se inkomstepotensiaal, maar laer voorraadvlakke en kleiner internasionale oesopbrengste skep nou ook die geleentheid om ’n strukturele inkomsteregstelling van momentum te voorsien,” sê die besturende direkteur van Vinpro, Rico Basson.

“Ondernemings moet nou fokus op die korrekte verpakking van aanbiedings in pryspuntgesprekke. Geleenthede wat deur hierdie droogtekrisis geskep is, moet ten volle ontgin word sodat dit oor die lang termyn tot produsente se voordeel kan strek.”

Die Olifantsrivier-streek word die ergste geraak deur die droogte en produsente in hierdie streek is slegs 17% van die normale waterkwota uit die Clanwilliam-dam (nou 19,9% vol) deur die loop van die seisoen toegelaat. Die Oranjerivier-streek is tans die enigste wynstreek wat geen watertekort ondervind nie.

Die droogte het ’n invloed op veral seisoenale werkers aangesien die oestydperk sal verkort met die kleiner oes, wat ’n belangrike verskaffer van permanente en seisoenale werk in die landboubedryf is. Dit kan aanleiding gee tot ’n groter komponent van werkloosheid en ’n negatiewe impak op die sosiaal-maatskaplike orde in die onderskeie gemeenskappe hê.

“Tydige optrede en samewerking tussen die plaaslike regerings en ander privaat inisiatiewe is ’n ononderhandelbare realiteit,” sê Basson. “Hoewel die hulpbronne beperk mag wees, moet gepoog word om proaktief in die onderskeie streke en tussen belangegroepe op te tree ten einde optimaal te handel.”

“Hierdie is ’n uiters moeilike tyd in die landbou, met die bedryf wat swaar getref word deur die voortslepende droogte,” sê Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede. “Tot op hede het die Departement van Landbou R67 miljoen aan droogtebestryding bestee om landbouers te help om hul besighede te behou.”

“In die wynbedryf, wat nie onaangeraak gebly het deur hierdie droogte nie, kan ’n laer reënval wel ’n verbetering in gehalte tot gevolg hê. Dít gee ons weer ’n mededingende voordeel in internasionale markte.” – Persverklaring