Die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika beleef ’n jaar van uiterstes waarin ’n uitmergelende droogte baie produsente nog aan die keel beet het, terwyl die produksie van fyner bokhaar egter een van die positiewe gevolge van die droogte is.

Willem Wagener het in September verlede jaar ’n wêreldrekordprys losgeslaan vir ’n baal grootbokhaar van ongeveer 30 mikron, waarvoor hy R390,10/kg behaal het. In Maart vanjaar het hy nog ’n wêreldrekordprys van R530/kg behaal vir ’n baal somerjongbokhaar van 25,4 mikron en ’n skoonopbrengs van 81,4%, wat fyn genoeg was om as winterkleinbokhaar aangebied te word.

Nog ’n opskudding

Op 16 April het nog ’n sybokhaarveiling, ook in Port Elizabeth, ’n opskudding in die bedryf veroorsaak. Dié keer was dit ’n veiling by een makelaar wat die grootste omset nog op rekord opgestel het, naamlik R46 miljoen.

’n Oorstelpte Pierre van der Vyver, sybokhaarbestuurder by OVK, het die volgende kommentaar hierop gelewer: “Dit was nie net die grootste veiling van die seisoen in kilogram nie, maar ook die een met die beste gehalte.”

Rekordpryse

Die kollig is tydens dié besonderse veiling deur Jerry en Wayne Pienaar van Bokvlei Farming in die Beaufort-Wes-distrik gesteel. Hulle het ’n nuwe wêreldrekordprys vir grootbokhaar van R420,00/kg behaal en boonop ook die rekordboeke herskryf om die hoogste gemiddeld ooit vir hul totale skeersel te behaal, teen R416,84/kg gemiddeld.

Volgens Jerry en Wayne is dit alles te danke aan die droogte, wat die bokhaar fyn en ook duurder gemaak het. “Die beter pryse verlig darem die finansiële pyn wat die droogte veroorsaak, want alle kos vir ons diere moet op dié stadium aangekoop word,” het hulle gesê.

Paul Broeksma van Teerputs Farming by Aberdeen het die huidige wêreldrekordprys vir jongbokhaar teen R490,00/kg geëwenaar.

Paul Webber van Grahamstad het ook ’n seisoensrekord vir somerkleinbokkiehaar behaal vir ’n baal wat teen R621,00/kg van die hand gesit is.

Volgens Van der Vyver is die sybokhaarbedryf ’n baie spesiale bedryf. “Produsente veg teen ’n ernstige droogte, terwyl kopers die sluiting van China se grense as gevolg van die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika beveg. China is een van die hoofinvoerders van semi-verwerkte sybokhaar vanaf Suid-Afrika. Dit spreek boekdele dat die bedryf onder hierdie omstandighede nog steeds ’n rekordveiling kon hou.”

Hy sê dat die volgende veiling, wat op 7 Mei plaasvind, moontlik aansienlik kleiner sal wees as die veiling wat in April gehou is. Hy voorspel dat die veiling wat op 21 Mei plaasvind, uitstaande skeersels gaan aanbied wat groot belangstelling gaan lok. – Carin Venter, AgriOrbit