Nóg rekords vir Konsortium-Merino

1423

’n Ram van Konsortium-Merino is onlangs vir R100 000, die meeste wat nog vir ’n Konsortium-Merinoram betaal is, verkoop. Die rekord is op Konsortium-Merino se 34ste veiling, wat op 15 Februarie 2018 op die plaas Dombietersfontein by Victoria-Wes gehou is, opgestel.

Johan en Roelof Theron van die Mikneiah-boerdery by Murraysburg en Johan Moolman van Dunedin by Beaufort-Wes het saamgespan om die topram te koop. Die vorige hoogste prys vir ’n Konsortium-Merinoram was R80 000.

Nóg twee rekords is op die veiling opgestel. Konsortium-Merino het sy twee vorige rekordomsette verbeter en die meeste Merinoramme op een veiling verkoop. Al 472 ramme is teen ’n gemiddelde prys van R8 158 verkoop. Op die “geraasveiling” in die skeerhok is 178 ramme vir gemiddeld R11 610 elk verkoop en op die stilveiling het die 294 ramme gemiddeld R7 631 elk behaal. Die nuwe Suid-Afrikaanse rekordomset vir ’n Merino-ramveiling is nou R3 850 500.

Veilingsuitslae

  • Hoogste prys ram: R100 000
  • Gemiddelde prys ramme: R8 158
  • Hoogste prys ooi: R2 450 (Koper: Pietie Roux van Noblesfontein, Victoria-Wes)
  • Gemiddelde prys ooie: R2 321

Aangebied deur: GWK

Afslaer: Jakkie Nel