Die onvermoeide pogings deur lede van die Lehurutshe Veediefstaleenheid en veldwagters van die Madikwe Wildreservaat het vrugte afgewerp toe die Zeerust Streekhof vier renosterstropers onlangs skuldig bevind het aan wildverwante misdade. Hulle is vonnisse opgelê wat van vier tot tien jaar wissel.

Die span het op 24 Junie 2017 gereageer op inligting wat hulle ontvang het oor verdagtes wat besig was om renosters in die park te stroop. ’n Soektog is dieselfde dag en nag in die park van stapel gestuur, wat gelei het tot die arrestasie van twee verdagtes wat in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, ’n tuisgemaakte knaldemper en messe was.

Die span het tydens hulle ondersoek op een beseerde renoster afgekom. Verdere ondersoeke het gelei tot die  inhegtenisneming van een Itali Lodge-spoorsnyer en die plaaslike nedersetting se hoofman, wat verantwoordelik was vir die organisering en akkommodasie aan die stropers voorsien het.

Luitenant-generaal Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, het die polisie en wildbewaarders geprys vir hul gesamentlike pogings wat tot die suksesvolle arrestasie, skuldigbevinding en vonnisoplegging van die beskuldigdes gelei het. – Suid-Afrikaanse Polisiediens