Noord-Kaap sal R337 miljoen droogtehulp van staat benodig

45

Estimated reading time: 2 minutes

Die regering het onlangs gebiede in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap as rampgebiede verklaar.

Die president van Agri Noord-Kaap (Agri NK), Nicol Jansen, sê dit is verblydend dat die regering die krisis van boere in dié gebiede besef. Hy sê ook dat dié gebiede nie meer by magte is om self die ramp aan te spreek nie en hulle kan nou by die regering om hulp aansoek doen.

Hierdie aansoeke sal as basis dien vir die hoeveelheid hulp wat die regering beskikbaar kan stel. Hierdie hulp op 30 grootvee eenhede (GVE) se voerkoste vir drie maande gebaseer word.

Agri NK sal sterk motiveer dat hulle die provinsie se deeglik gemotiveerde verslag oor die droogtetoestande sal gebruik om die gebiede te identifiseer. Die verslag bepaal dat R337 miljoen nodig is om boere in dié gebiede te help.

In die verlede het die Noord-Kaap slegs R30 miljoen ontvang, maar Nicol het die hoop uitgespreek dat boere in nood vanjaar meer sal ontvang. Agri NK het ook versoek dat daar van ’n koeponstelsel gebruik gemaak word om die voer aan boere te besorg. Hy sê daar is reeds baie goeie landboubesighede wat in plek is om die diens te lewer. As daar van kontrakteurs gebruik gemaak word, gaan daar baie geld verlore wat eintlik vir die boere bedoel is.

Hy het ook genoem dat daar baie administratiewe werk betrokke is aan so ’n hulpprogram en hy verwag dat die boere in praktyk eers teen Oktober vanjaar hulp sal kan ontvang. Die aansoeke asook die verwerking daarvan neem tyd. Intussen gaan Agri NK voort om hulp te verleen met die hulp van privaat instansies en donasies. – Koos du Pisanie, AgriOrbit