Afgevaardigdes van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap, het op 6 en 7 Junie in Kimberley saamgetrek vir hul jaarlikse kongres met die tema “Ons boere verskuif die grense van landbou”. Die sprekers het oor verskeie aspekte gesels om dié stelling te staaf.

Dr Pieter Vervoort van die Nasionale Dieregesondheidsforum se boodskap was dat landbou die vermoë het om die bevolking te voed en landbouprodukte uit te voer. Dus kan die landbousektor voedselsekerheid waarborg, buitelandse inkomste inbring en werk verskaf.

Verbruikers soek inligting

Volgens hom het die markte verander en plaaslike verbruikers maak aanspraak op beter gehalte. “Verbruikers wil meer inligting oor voedsel hê, tesame met beter waarborge en beter gehalte produkte. Indien hierdie dinge nie in plek is nie, sal die verbruiker die produkte nie aanhou koop nie. Verbruikers wil weet dat die produk veilig en goedkoop is en op die korrekte manier geproduseer is.

“Produsente moet meer verantwoordelikheid en eienaarskap van hul produkte neem tot op die bord van die verbruiker. Boere moet ook die gehaltestandaarde ken om te weet watter produkte hulle veilig op die mark kan sit.

“Sekere aspekte in die landbouwaardeketting, soos winsgewendheid, dieregesondheid, voedselveiligheid, welvaart en naspeurbaarheid, moet ook verbeter.”

‘n Resep vir sukses

Dr Gustav Gous, ’n bekende motiveringspreker en radiopersoonlikheid, het kongresgangers geïnspireer om hul lewensdoelwitte te bereik. “Dit is dikwels nie die eindresultaat nie, maar die manier waarop ’n mens die spel speel, wat die verskil maak. Jy kan nie sukses behaal met ’n slagoffer-houding nie.”

Tineil Hurter is verbonde aan die Universiteit van Pretoria en het ’n studie gedoen oor die bemarking van rooivleis en die inligting wat die publiek verlang. Sy het ’n beroep op die kongresgangers gedoen dat ’n drastiese verandering in die bemarking van vars produkte moet intree, aangesien die publiek meer inligting oor die produk wil hê en meer betrokke wil voel by die landbouproses.

“Handelsmerke speel ’n al hoe meer prominente rol in die bemarking van produkte. Dit is vir die publiek belangrik om te weet waar vars produkte vandaan kom en wat die gehalte daarvan is. Verbruikers het gevolglik ’n behoefte aan inligting, veral oor vars produkte.” –Koos du Pisanie, Veeplaas