Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het op 8 Mei ’n boeredag vir Noord-Kaapse boere op Johan Botha, ’n gesoute skaapteler en eienaar van Oranjerivier Voere wat ’n intensiewe stelsel bedryf, se plaas naby Prieska aangebied. Meer as 300 boere het die geleentheid bygewoon.

Die tema van die boeredag was vernuwing in skaapboerdery, veral met die oog op intensiewe skaapboerdery. Die sprekers se boodskap was oor die algemeen dat intensiewe skaapboerdery die tendens vir die toekoms is. Volgens die sprekers kan ’n boer baie meer wol en vleis op sy plaas produseer deur van goeie tegnologie en lamhokstelsels gebruik te maak.

Voordele van intensiewe boerdery

Ockie Olivier, ’n landbou-ekonoom, het aan die boere syfers gegee oor die voordele en nadele van intensiewe skaapboerdery. Volgens hom is daar talle voordele, soos die beheer van klimaatstoestande, wat diere in ekstensiewe omstandighede kan bedreig, en die beheer van roofdiere. Boere kan ook twaalf maande van die jaar skape in die mark plaas.

Dr Buks Olivier, ’n landboukundige, het op sy beurt gepraat oor die verskille binne ’n kudde en die belangrikheid daarvan om elke dier individueel te hanteer. “Deur elke dier as ’n individu te hanteer, kan jy hoër produksie kry en onproduktiewe diere makliker identifiseer.”

Praktiese bestuur en tegnologie

Pieter van Zyl, ’n suksesvolle skaapboer, het aan die boere verduidelik hoe praktiese bestuur en tegnologie gebruik kan word om ’n skaapboerdery beter te bestuur. “Boere word verplig om groter hoeveelhede vleis en wol op dieselfde grootte grond te produseer, en dit kan nie meer in ekstensiewe boerdery gedoen word nie.”

Aan die tegnologiese kant het Willie Kruger van RFID met die boere gesels oor die tegnologie wat beskikbaar is om presisieboerdery toe te pas. Hy sê tegnologie lyk op die oog af duur, maar die voordele is beslis die moeite werd as ’n mens dit terugwerk na die aantal diere en die inligting wat jy daaruit kry.

Na afloop van die lesings is ’n praktiese sessie aangebied waartydens die boere verskillende afdelings van Johan se plaas en voerfabriek kon besoek om hulle te vergewis van die praktiese maniere om ’n skaapboerdery op ’n intensiewe stelsel te beheer. – Koos du Pisanie