Estimated reading time: 10 minutes

Die Nova Barletta Dormerstoet van die plaas met dieselfde naam naby Clocolan in die Oos-Vrystaat, is deel van Zuikerkop Boerdery wat bestaan uit ’n Herefordstoet, ’n kommersiële beeskudde, ’n Merino- en ’n Dormerstoet, ’n graankomponent, wildboerdery en ’n meule op die dorp.

Lodie van Reenen is die vyfde geslag Van Reenen wat op Nova Barletta boer. Toe hy so 16 jaar gelede die melkery tot niet gemaak het om op skape te fokus, het hy in vennootskap met dr Carl Scholtz, voorheen ’n veearts en eienaar van Zuikerkop Boerdery, gegaan.

Lees ander artikels oor skaapboerdery.

“Die grootste rede vir die besluit om ons spreekwoordelike lammers in een kraal te jaag, is die groter bedingingsmag wat dit ons gee. Ons kan op groter maat teen beter pryse koop en ons kan van ekonomieë van skaal gebruik maak. Ek en my vrou, Chriselle, fokus eksklusief op die Dormers, terwyl ander bestuurders na die ander afdelings omsien.”

Een van die afdelings wat geskep is om doeltreffendheid te verbeter, is ’n afrondingseenheid op ’n ander plaas. Diere wat vetgemaak moet word, word na dié plaas geskuif en die bestuurder daar behartig ook die bemarking.

So ’n vennootskap-boerdery, beklemtoon hy egter, verg ’n kopskuif, want jy kan nie meer alleen besluite neem nie. Die voordeel is egter dat jy ook nie alleen die risiko dra nie en deel is van ’n groter geheel wat ekonomies meer robuus is. Skaal is deurslaggewend in suksesvolle boerdery.

Begin van die Dormerstoet

Aanvanklik het hulle met Merino’s geboer, maar Lodie het ’n behoefte gehad aan ’n ras waarvan hy die lammers so gou as moontlik kon speen en markgereed kry. Die eerste stap was om Dormerramme op die Merino-ooie te gebruik. Die lammers was uitstekend, maar dit het duur geraak om gereeld Dormerramme in te koop. Vandaar die besluit om ’n Dormerstoet te begin en hul eie ramme te teel.

“Ons was gelukkig met die aankoop van ons eerste stoetooie, want hulle het baie goeie meriete-indekse gehad. Ons het gou besef ons kuddesyfers vergelyk goed met dié van ander stoeterye in die land. Dit het ons laat besluit om op LMI-waardes (Logix meriete-indeks) te fokus.

“Ons kry elke twee weke ’n genetiese evaluasie van ons skape se verskillende indekse by SA Stamboek,” verduidelik Chriselle. “Met paringskombinasies probeer ons dan op hierdie syfers te verbeter, sonder om die fisiese bouvorm van die skape uit die oog te verloor. Ons wil die visuele aspek in lyn met die syfers bring om ons teeldoelwitte te bereik.”

Teeldoelwitte en seleksie

Die nommer een teeldoelwit, sê Chriselle, is vrugbaarheid. Maar daarmee saam loop die ander teelwaardes, want hulle moet die beste genetika moontlik in die stoet genereer.

Lodie en Chriselle van Reenen.

“Die mikpunt,” verduidelik Lodie, “is om ’n ram of ooi te teel wat sy of haar goeie genetika in die oortreffende trap aan die nageslag kan oordra. Dan, voel ons, het ons in ons doel geslaag. Visuele beoordeling bly die fondasie, maar wat die syfers betref, gebruik ons nie ’n dier om mee te teel as die LMI-waarde onder 90 is nie. Aan die ander kant is ons ook versigtig vir uitskieters aan die bokant. Ons soek ’n goeie balans tussen bouvorm en syfers wat bo die rasstandaard is.”

Groei en voeromsetvermoë is die volgende eienskappe waarvoor hulle spesifiek selekteer. “Ons het nou, in samewerking met SA Stamboek, begin om ons beste groep ramlammers aan voeromsetmeting te onderwerp. Die toets bestaan uit ’n voertydperk van 42 dae waarin elke rammetjie individueel gevoer en sy inname gemonitor word. Aan die einde van die toets bepaal ons watter ram die beste gegroei het, die minste gevreet het, maar ook die beste groei met die minste voer getoon het.

“Omdat ons net sowat 20 ramme se voeromsetverhouding kan toets, onderwerp ons al die ander ramme aan ’n veldgroeitoets. Dit stel ons in staat om ekstra inligting oor die groeivermoë van ons ramme aan voornemende kopers te bied.”

Seleksie begin reeds by speen, wanneer elke lam se speenindeks ter sprake kom, voeg Chriselle by. “Ons het ’n groot kommersiële kudde, so alle ooilammers met ’n speenindeks van onder 90, word summier uit die stoet- na die kommersiële kudde verskuif. Die rammetjies word na die afrondingsplaas gestuur om markgereed gemaak te word.”

Lamstelsel en -seisoene

Die Van Reenens het ses lamseisoene per jaar, maar elke ooi lam net een keer per jaar. Die ooie word in ses lamgroepe verdeel en gesinkroniseer om in die ses koel maande van die jaar te lam. Hulle lam dus een week per maand van Maart tot Augustus.

Die rede, verduidelik hulle, is om probleme met E. coli en kriptosporidium te voorkom, wat in die somermaande groter amok maak as in die winter. Al die ooie word twee keer teen E. coli ingeënt en moet ’n kondisietelling van rondom 4 bereik vóór hulle lamhokkies toe gaan.

“Ons gebruik laparoskopie op ons stoetooie, maar sit dan nie ’n opvolgram by nie, sodat ons die lamweke presies kan bepaal. Ons gebruik gewoonlik semen van so vier ramme. Ná 45 dae word die ooie vir dragtigheid geskandeer en dié wat nie beset is nie, word oorgeskuif na die volgende groep wat gedek moet word. Dit beteken hulle spring oor een groep en val by die derde groep in. Daardie ooie word egter gemerk en as hulle wéér nie dragtig raak nie, word hulle uitgeskot.”

In die lamhokke

Die Van Reenens het ’n lamskuur wat 110 lamhokkies kan akkommodeer. Die ooie wat meerlinge dra, lam in lamhokkies, terwyl dié met eenlinge in groepies van 15 tot 20 opgedeel word en in klein kampies gesit word.

Dormers
Ooie in die lamhokke.

Voordat die ooie die lamhokkies binnekom, word die hele skuur met ‘n mengsel van Kinocox en ACT gespuit. Dan word kalk gestrooi en daagliks aangevul. Die hokkies word dan ook daagliks met Maxicyp in ‘n rugsakspuit uitgespuit, sommer so bo-oor die skape en lammers. Dit is doeltreffend teen vlieë, maar skadeloos vir die lammers en die kos.

Al die ooie kom gewoonlik ’n week voor lamtyd na die klein kampies toe, en wanneer hulle begin lam, gaan dié met meerlinge in die lamhokkies. Hulle bly dan daar tot die lammers vyf dae oud is, vanwaar hulle dan weer in groepe van sowat 15 na die klein kampies gaan. Daar bly hulle vir nog ongeveer tien dae voordat hulle groenvoer toe kan gaan.

Net voor die ooie uitgehaal word kry die ooi en lam Multivax P+, teen veral rooiderm en klem-in-die-kaak. Die lammers se stertjies word ook nou afgesit. Die stompie moet die vulva heeltemal kan toemaak. ‘n Goeie merker, verduidelik hy, is om net daar waar die twee velletjies aan die kant van die stertjie aan die stert vaskom, die rekkie aan te sit.

Al hoe meer meerlinge

Die ramlammers bly drie maande by die ooi voordat hulle gespeen word. Stoetrammetjies gaan dan in hul verskillende voertoetse in, terwyl die res voerkraal toe gaan. Die ooilammers bly vir nog ’n maand by hul ma, afhangende van hoeveel kos op die plaas beskikbaar is.

Die persentasie meerlinge wat hulle aankry, word jaarliks groter. Die rede is waarskynlik aan seleksie toe te skryf, maar hulle glo dat dit ook met hul voortdurend verbeterde bestuur te doen het.

“Ons het verlede jaar meer as 90 ooie met drielinge gehad wat hul lammers self grootgemaak het. Dit gebeur so nou en dan dat een van die lammers hulp nodig het; dan gee ons Lamlac-melk terwyl hy by sy ma loop, totdat hy sterk genoeg is om sy man te staan by die uier.” Dit is standaardpraktyk, sê Lodie, dat elke ooi wat gelam het, omgedop en die spene getrek word om seker te maak dat die kanale oop is.

Elke lam kry 2ml van ’n Ovithrive- of Byboost-energiebom en hul naeltjies word met ’n ontsmettingsmiddel behandel. Die ooi en haar lammers word met dieselfde merkverf gemerk. Stoetlammers word met oorplaatjies gemerk die dag as hulle uit die lamhokkies gehaal word.

Voeding en voervloei

Die ooie kry reg deur die jaar ’n lek wat uit ’n mengsel van Voermol se Maxiwolkonsentraat (V4985), mieliegruis en sout bestaan; die hoeveelheid wissel na gelang van die seisoen en die stadium van dragtigheid. Tydens prikkel- en paartyd kry die ooie tussen 300 en 400g/dag, laatdragtige ooie 250 tot 350g/dag, lakterende ooie 350 tot 500g/dag en groeiende ooitjies 250 tot 500g/dag. In die somer kry al die skape – ooie én ramme – ’n fosfaatlek by.

Ooie in die lamhokkies kry lamhokpille en die ramme kry deurgaans stoetrampille, beide van Telwiedré. Sowat ’n maand voor lamtyd kry die swaardragtige ooie ’n sak Voermol Droëkoei-aanvulling (V14603) in hul rantsoen by. Dit help dat die ooi makliker lam.

Dormers
’n Speenpersentasie van meer as 150% is nodig om werklik winsgewend te wees.

Hul kruipvoermengsel vir die lammers bestaan uit 150kg Voermol SS 200 (V8592), 150kg Voermol Procon 33 (V12701), 600kg mieliegruis en 100kg lusernmeel.

Aangeplante eragrostis, wat goed bemes is teen ongeveer 400kg kalksteen-ammoniumnitraat (KAN) per hektaar, vorm die basis van hul somerweiding. Dit word dan met natuurlike veld afgewissel.

Minder druk op die veld

“Die voordeel van eragrostis,” verduidelik Lodie, “is dat dit vroeg in die somer uitloop. As die weiding dan onder ons uitgroei, maak ons bale en stuur die skape veld toe. Sodra die eragrostis weer begin uitloop nadat dit gesny is, kom hulle terug om dit te benut. Omdat ons die eragrostislande elke vyf jaar omwerk en groenvoer daarop plant, is ons nie bang om dit maar kwaai te hamer nie. Dit haal die druk van ons natuurlike veld af.”

Tef is die ander voer waarop hulle steun, veral vir die jong ooitjies nadat hulle gespeen is. Die oorskot word ook gesny en gebaal.

Vir die herfs word hawer en radyse geplant, en die laaste aanplantings is skoon hawer. Hiervandaan gaan die skape mieliereste toe. Wanneer dít uitgeput is, gaan hulle terug eragrostislande toe waar hulle bale kry tot die gras mooi begin uitloop.

“Ons boer in ’n gebied waar dit noodsaaklik is om ’n goeie lek te gee, so ons lekrekening is baie hoog. Ons pluk egter die vrugte dubbel en dwars. ’n Mens moet ook onthou dat jy die vrugte van wat jy nou voer, eers volgende jaar pluk. Maar dit beteken ook dat jy ’n speenpersentasie van meer as 150% moet hê om werklik geld te maak. Dit is ’n belangrike rede waarom ons begin waarde toevoeg het met goeie genetika om teeldiere te verkoop. Dit verander die prentjie heeltemal!”

Dosering en inenting

Vanjaar, sê Lodie, was ’n moeilike jaar met haarwurm. Hulle moes een keer per maand doseer en selfs dít was nie genoeg nie.

“Ons probeer om met elke dosering ’n ander aktiewe bestanddeel te gebruik. Dit was vanjaar veral uiters belangrik om nie weerstand op te bou nie. Ons sal tipies ’n kortwerkende middel gebruik en dit met ’n langer werkende middel afwissel.”

Wat inentings betref is bloutong standaard en ooie wat verkoop gaan word, word net ná speen teen ensoötiese aborsie ingeënt. Al die ramme kry REV1 teen Brucella ovis. Verder word al die diere jaarliks teen klostridiale siektes ingeënt.

Samewerking bring voorspoed

Omdat die Van Reenens so noukeuring meet en gesteld is op die kombinasie van visuele beoordeling en goeie genetika, en ook omdat hulle voeromsetvermoë meet, het Ramsem ooreengekom om van hul beste gebalanseerde ramme te gebruik om semen aan veral Merino- en Döhne Merinotelers beskikbaar te stel. Ramsem is ’n waardevolle vennoot in die dragtigheidsbestuur van hul ooie en kundiges van Ramsem kom behartig elke maand die laparoskopie.

“Baie wolboere gebruik ’n vleisram op hul tweede kuddes om beter lamgewigte te bewerkstellig. Die voerkrale het dan ook die gemoedsrus dat die lammers wat hulle van dié boere aankoop, goeie groeipotensiaal en voeromsetvermoë het.”

SA Stamboek, voel hulle, is die ander vennoot waarsonder hulle nie doeltreffend sou kon boer nie. “Ons het ’n uitstekende verhouding met albei instellings en hul insette is van onskatbare waarde. Kyk net na ons syfers: ’n Groep ooie en hul lammers is pas van die lamhokkies af groenvoerlande toe. Die lampersentasie is 188%. Ons gemiddelde speenpersentasie oor die hele kudde is tans verby 170%. Dit is direk toe te skryf aan die samewerking van hierdie vennote asook ’n groot stuk genade.” –  Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Lodie van Reenen op 072 597 6047.

noodhulpkas, Dormers