Nuwe besturende direkteur vir BKB

714

BKB het onlangs aangekondig dat sy huidige besturende direkteur, Wolf Edmayr, die maatskappy aan die einde van 2019 sal verlaat. Die BKB-raad het dadelik begin om ‘n plaasvervanger vir Edmayr te werf.

Na ‘n deeglike en deursigtige proses waartydens interne en eksterne kandidate geëvalueer is, het die maatskappy bekendgemaak dat Johan Stumpf amptelik op 1 Februarie 2020 as BKB se besturende direkteur in diens sal tree.

Stumpf besit B.Eng (Nywerheids) (Cum Laude), B.Eng (Hons) (Nywerheids) en MBA (Cum Laude)-grade van die Universiteit van Pretoria en het bewese uitvoerende bestuursondervinding in die landbou- en vervaardigingsektore. Hy is tans ‘n lid van die uitvoerende komitee van Mpact Bpk, ‘n JEB-genoteerde maatskappy, en is verantwoordelik vir die papierverpakkingsbesigheid binne Mpact.

Hy was voorheen ook besturende direkteur van die Klein Karoo Groep, asook groep besturende direkteur van die Sondagsrivier Sitrusmaatskappy. Beide hierdie maatskappye is bedryfsleiers in hul onderskeie landbousektore. Vroeër in sy loopbaan het hy verskeie operasionele bestuursrolle vervul, waaronder by die voormalige Suid-Afrikaanse Brouerye. – Persverklaring, BKB