Nuwe bloed en positiewe verwikkelinge by Cape Wools

163
Deon Saayman, hoofbestuurder by Cape Wools Suid-Afrika, glo dat die wêreld al hoe meer kennis neem van die land se wolbedryf. Daarom moet plaaslike wolprodusente die unieke geleentheid gebruik om wol volhoubaar en naspeurbaar te produseer.

Cape Wools Suid-Afrika (Cape Wools) is ʼn dinamiese organisasie in die Suid-Afrikaanse wolbedryf, wat fokus op vooruitgang asook om ʼn positiewe verskil in die hele wolwaardeketting teweeg te bring. Dié fokus berus op drie pilare, naamlik volhoubaarheid, biosekuriteit en transformasie.

As hoofbestuurder by Cape Wools, bevestig Deon Saayman dan ook dat daar vanjaar ʼn hele klomp opwindende projekte en kopskuiwe in die pyplyn is. Dit sluit die Cape Wools-embleem se nuwe baadjie in. Die doel van hierdie vernuwing was om die plaaslike wolbedryf se toekomsgedrewe denkwyse beter te weerspieël.

Saayman glo dat die sukses van Suid-Afrikaanse wolprodusente direk gekoppel is aan die plaaslike sowel as internasionale standaarde vir die bevordering van die bedryf in sy geheel, en om naspeurbaarheid in die hele waardeketting te verseker. Hy sê ook dit is noodsaaklik dat die plaaslike mark en produsente wêreldtendense moet dophou, sodat daar doeltreffend opgetree kan word indien groot omwentelinge skielik sou plaasvind.

Nuwe direkteure vir die wol- en sybokhaarbedryf

Cape Wools het in Maart vanjaar twee nie-uitvoerende direkteure by die raad van direkteure verwelkom. Vir die eerste keer in Cape Wools se geskiedenis is ʼn onafhanklike direkteur, dr Nandipha Toyota Ndudane, tot die direksie aangewys.

As veearts het sy baie ondervinding in die veebedryf, veral op die gebied van genetiese verbetering. Haar taak is om kommunale produsente by te staan met haar kennis van kleinvee en wolproduksie. Dr Ndudane beskou haar rol by Cape Wools as integrale deel van die transformasieproses in die kommunale wolbedryf van die Oos-Kaap, asook die res van die land.

Die Suid-Afrikaanse Wol- en Sybokhaarkopersvereniging (SAWAMBA) het ook vir die eerste keer ʼn direkteur aangewys wat op die Cape Wools-direksie dien, maar nie van die kopershuis afkomstig is nie. Weza Moss is ʼn bekwame en dinamiese besigheidsman in die motorvervaardigingsbedryf in Port Elizabeth, en hy bring ʼn nuwe perspektief en groter onafhanklikheid na die direksie.

Cape Wools SA
Weza Moss van Acoustex (Pty) Ltd (links) dien as SAWAMBA se direkteur op die Cape Wools-direksie, en dr Nandipha Ndudane, wat verbonde is aan die Tsolo Agriculture & Rural Development Institute, is deur Cape Wools as onafhanklike direkteur genomineer.

Weza glo onder meer dat plaaslike ‘rou’-wolverwerkingseenhede weer op die been gebring moet word. Benewens werkskepping, sal dit die uitvoer van rou wol en invoer van verwerkte wol uitskakel, wat tot die land se voordeel sal strek. Vanuit die oogpunt dat wol ook in die motorvervaardigingsbedryf aangewend word, byvoorbeeld in die voering van ʼn kattebak, is hy van mening dat dit belangrik is om die hele wolwaardeketting te verstaan.

Verwikkelinge in wolproduksie

Wat die drie strategiese rigtings van volhoubaarheid, biosekuriteit en transformasie betref, sê Saayman dat die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard, wat verlede jaar in Julie uitgerol is, glad nie in kompetisie met enige ander standaard in die bedryf is nie. Die doel is om ʼn breë basis van volhoubaarheid in die bedryf te bewerkstellig en om risiko’s te beperk.

Herman Hugo is in November 2020 by Cape Wools se algemene jaarvergadering as voorsitter vir ʼn termyn van twee jaar verkies. Hy is verantwoordelik vir die bestuur van fondse wat vir die wolbedryf deur die Woltrust beskikbaar gestel word. Dit sluit die hele waardeketting, vanaf die primêre produsent en makelaars tot skeerdienste en wolkopers, in.

“Dit word baie goed deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se produksie-adviseurs uitgerol,” sê hy. “Intussen het Cape Wools ook ʼn ooreenkoms met Abelusi aangegaan om samewerking te verbeter en koste te bespaar.”

Cape Wools is deurlopend met verskeie wolproduserende lande in gesprek om te bepaal hoe Suid-Afrika se standaarde met dié van ander lande vergelyk. Die organisasie dien ook op die Internasionale Wol- en Tekstielorganisasie (IWTO) se komitee wat volhoubare produksieriglyne ondersoek, asook maniere hoe lande beter samewerking kan geniet. Die taakspan mik ook om internasionale samewerking en erkenning in die toekoms te verbeter.

Waardetoevoeging met volhoubare riglyne

Een van die groot risiko-areas wat Cape Wools in die bedryf geïdentifiseer het, is die skeer van skape en gepaardgaande riglyne soos vir skeerderbehuising en opleiding. Saayman verwys na ’n opwindende projek wat Cape Wools op die been gebring het, deur ʼn databasis van alle skeerders in die land saam te stel. Dit sluit ʼn skeertoepassing in die skeerhuis in. Hierdie toepassing sal beide die skeerkontrakteurs en produsente help om die skeerproses se bestuur.

Biosekuriteit in die wollandskap

Biosekuriteit is al vir baie jare ʼn groot besprekingspunt in die wolbedryf, veral vanuit die oogpunt van risiko’s en siektes soos bek-en-klouseer of Slenkdalkoors wat ʼn geweldige impak op die bedryf kan hê. “Daarom het Cape Wools ʼn biosekuriteitkomitee onder die leierskap van dr George de Kock saamgestel. Die komitee se werk is om die Suid-Afrikaanse wollandskap te fynkam vir risiko’s en maatreëls in plek te kry wat aan handelsvennote se vereistes sal voldoen indien daar wel ʼn uitbreking sou wees,” sê Saayman.

“Byvoorbeeld, as ʼn land soos China sekere maatreëls in plek wil hê om wol van Suid-Afrika af in te voer, moet ons seker maak dat ons die voorgeskrewe gesondheidsertifikaat tot op die letter uitvoer. Cape Wools kyk ook na die maatreëls wat in plek moet wees om proaktief op te tree indien ʼn siekte soos peste de petit ruminants in die land sou uitbreek.”

Transformasie en ontwikkeling

Cape Wools is die afgelope paar jaar baie nou by kommunale wolprodusente betrokke en groot vordering is al gemaak. Saayman breek ʼn lansie vir die NWKV se adviseurs wat volgens hom fenomenale werk daar vermag het. “Ons moet egter ook ander metodes oorweeg om meer doeltreffend te wees, omdat daar weens finansiële druk nou minder adviseurs in die veld is.”

Cape Wools Suid-Afrika se eerste direksievergadering vanjaar is by die Wol- en Bokhaarbeurs in Port Elizabeth gehou.

In terme van transformasie, wil Cape Wools se direksie ondersoek instel na moontlikhede wat die beste waarde tot die bedryf kan toevoeg. Wat bemagtiging betref, sal die strukture wat tans in plek is onder oë geneem moet word om te bepaal of daarop verbeter kan word. Daar moet ook alternatiewe strukture in plek gestel word om dit meer doeltreffend en inklusief te bestuur.

Volgens Saayman wil Cape Wools graag meer fokus op gesprekke wat reeds op nasionale vlak plaasvind, om kommoditeitsorganisasies beter te ondersteun. Hy glo daar is beslis ook plek vir geleenthede soos skenker-aangewese en regeringsfondse om die bedryf te ondersteun.

Nog ʼn belangrike punt is die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard en hoe dit die land se kommunale produsente kan akkommodeer en ondersteun. Hulle kan sodoende aan meer geleenthede en wyer markte blootgestel word. Cape Wools beskou dit as ʼn groot geleentheid en baie aandag word tans hieraan bestee. – Carin Venter, AgriOrbit

Klik hier vir meer artikels oor die wolbedryf.

Vir meer inligting, kontak Cape Wools by 041 484 4301 of capewool@capewools.co.za.