Die organiseerders van die twee oudste wynkompetisies in Suid Afrika het aangekondig dat beide hul wynskoue voortgaan, maar na later datums verskuif word.

Dié besluit is geneem nadat die organiseerders deeglik oor die aanbied van hul kompetisies tydens die COVID-19-inperkings besin het in oorlegpleging met Vinpro, Wines of South Africa (WoSA) en ander rolspelers in die wynbedryf. Die uitwerking van die pandemie en die gevolglike beperkings op talle ekonomiese en ander bedrywighede in Suid-Afrika het daartoe gelei dat normale aktiwiteite gewysig en aangepas moes word om steeds binne hierdie ‘nuwe normaal’ te kan voortgaan.

Die organiseerders, die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), is ten volle bewus van die verantwoordelikhede in terme van die veiligheidsmaatreëls wat onder Vlak 3 met die voortsetting van dié kompetisies gepaard moet gaan. Noukeurige protokolle is reeds ontwikkel om die beoordeling van die wyne wat ingeskryf word só te hanteer dat dit aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies.

Die kernbesigheid van die twee skoue is om geleentheid aan die wynbedryf te bied om wyne vir beoordeling voor te lê en die uitslag daarvan as maatstaf van gehalte te gebruik. Uit ’n bemarkingsperspektief is die belangrikheid hiervan reeds oor dekades bewys, nie net plaaslik nie maar ook in die internasionale mark.

Veritas-wyntoekennings

Verbruikers is veral op die Veritas-toekennings ingestel vir sy hoë aansien, want dit gee reeds vir 30 jaar leiding oor die gehalte van die Suid-Afrikaanse wyne wat in die mark beskikbaar is. Dit is ook die enigste kompetisie wat deur die bedryf, vir die bedryf, aangebied word.

Veritas is Suid-Afrika se oudste kompetisie vir wyne wat markgereed is en word sedert 1991 aangebied. Dit het die status as die land se mees gesaghebbende kompetisie van sy soort verwerf. Deelnemers gebruik die uitslae en gepaardgaande bottelplakkers as ’n uitnemende bemarkingsgeleentheid. Die Vertex-toekenning, wat die algehele topwyn van Veritas bekroon, is in 2017 ingestel.

Die nuwe sluitingsdatum vir Veritas-inskrywings is 9 September, terwyl die beoordeling van 12 tot 16 Oktober sal plaasvind.

SA Jongwynskou

Die SA Jongwynskou, wat die oudste wynskou ter wêreld is en reeds vir 188 jaar aangebied word, beoordeel die jongwyne wat in die betrokke jaar gemaak is. Dit bied sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om hul verskillende wyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul eweknieë in die bedryf te toets.

Wynmakers is besonder opgewonde oor die wyne van 2020, wat hoë-gehalte wit- en rooiwyne opgelewer het danksy besonder gunstige klimaatstoestande gedurende beide die groei- en oestye.

Die Jongwynskou bied weereens die ideale geleentheid vir produsente om met hul uitsoekwyne mee te ding om een van die SA Kampioentrofeë in 17 klasse. Twee besonder gesogte trofeë is op die spel, naamlik die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë – onderskeidelik as die kompetisie se hoogste eerbewys wat sedert 1952 toegeken word aan die algehele kampioenwyn, en erkenning van die wynmakery met die hoogste telling vir vyf verskillende ingeskrewe wyne.

Die nuwe sluitingsdatum vir die SA Jongwynskou-inskrywings is 5 Augustus, terwyl die beoordeling nou vir 31 Augustus tot 4 September geskeduleer is.

COVID-19-maatreëls in plek

Beide beoordelings word by die Nederburg-veilingkompleks in die Paarl gehou waar alle regulasies rakende veiligheids- en gesondheidsprotokolle in plek sal wees, asook genoegsame ruimte om sosiale distansiëring vir alle personeel, beoordelaars en beamptes te verseker.

Volgens die jarelange gebruik word spesialisbeoordelaars vir alle panele aangewys om te verseker dat net die beste kundigheid vir die aanwys van wenners gebruik word.

’n Besluit oor dié kompetisies se toekenningsfunksies en moontlike publieke proeë sal op ’n latere stadium geneem word.

Vir meer inligting, kontak ons by 021 863 1599 of epos info@veritas.co.za. – Persverklaring, SA Nasionale Wynskouvereniging