Nuwe handleiding handel oor die unieke erfenis van wol

1400

Wol fassineer Robert Scott al sy hele lewe lank en op die pad wat hy al baie jare in die Suid-Afrikaanse wolbedryf stap, is daar vele stilhouplekke met interessante staaltjies om op te diep.

’n Mens kan seker maar sê dat die skrif aan die muur was toe hy reeds as ’n klein tjokkertjie stapels wol in glasbottels bymekaar gemaak het, bloot vir die liefde van die saak. Na sy aftrede by BKB in 2017, is hy steeds op ’n kontraktuele basis by hul wolskole betrokke en bly hy ’n bron van inspirasie vir oud en jonk. Intussen het hy ook ’n wolhandleiding geskryf.

Veeplaas het by Robert in Stilbaai gaan aanklop, waar hy deesdae vir ontspanning hengel en graag tyd saam met sy familie deurbring wanneer die geleentheid homself voordoen.

Vanselfsprekende loopbaankeuse

“As kind het wol my baie gefassineer en waar seuns gewoonlik goed soos voëleiertjies of goggas bymekaarmaak, het ek wol versamel. My oupa aan my ma se kant was ook vir my ’n groot inspirasie. Toe ek op hoërskool was, het een van my onderwysers, Skapie du Toit, my liefde vir wol raakgesien en my by Grootfontein Landboukollege laat inskryf,” vertel Robert.

Hy het in 1981 by BKB begin werk en tot op hede was dit sy enigste werkgewer. “Die eerste tien jaar was ek ’n skaap- en wolbeampte en daarna het ek ’n meer tegniese rigting gevolg vanweë my belangstelling in wol.”

Hy het as skaap- en wolbeampte in Tarkastad en Grahamstad gewerk en, sover sy kennis strek, was dit net hy en Fritz Hoffman van BKB wat in die destydse hawens, naamlik Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen en Durban, gewerk het. “Dit was regtig ’n groot voorreg om met soveel wolprodusente van regoor die land kennis te maak,” sê hy.

Passie vir opleiding

Robert glo die eerste tien jaar in die wolbedryf het die fondament vir sy loopbaan gelê. Daar was verskeie hoogtepunte en een daarvan was om met wolprodusente oor die land te skakel.

“Nog ’n hoogtepunt was om die kennis wat die bedryf my geleer het by wolskole aan die studente oor te dra. Ek gee al sedert 1981 opleiding by wolskole, wat dit op ongeveer tien wolskole per jaar te staan bring. Sowat 30 mense woon gewoonlik die kursus by; dit is ’n totaal van 11 400 studente in wie se lewe ek hopelik ’n verskil gemaak het.”

Nog iets wat hy baie geniet het, was die vele vagskoue wat hy gereël en waartydens hy beoordeel het. “Vir my was die hoogtepunt van dié skoue die 1 000 vagte tydens die Merino Classic in 2017.”

’n Helpende handleiding

Dit was juis danksy die wolskole dat Robert ’n behoefte begin ervaar het om sy kennis met ander te deel. Dit word vergestalt in ’n lywige handleiding met die titel Ken jou wol/Know your wool.

Hy het die inligting aanvanklik eers met ’n potlood en uitveër in swart hardebandboeke geskryf en volgens Robert het die uitveër sy werk deeglik gedoen. “Ek het die handleiding in Engels én Afrikaans geskryf omdat wol se terminologie uniek is. Jy kan dit nie direk vertaal nie. Byvoorbeeld, ’n skaapvag het ’n broekgedeelte; direk vertaal is dit ‘pants’, maar die korrekte Engels daarvoor is ‘britch’.”

Hy het al die inligting daarna met twee vingers op die rekenaar getik. “Ek sal my vrou, Carol, wat my gehelp het om die Engelse weergawe te tik, ewig dankbaar wees,” sê Robert, wat die proefleesgedeelte self behartig het en om verskoning vra indien daar ’n paar tikfoute is danksy die ‘one man show’.

Die handleiding gaan inleidend oor die oorsprong van wol en die ryke Suid-Afrikaanse geskiedenis van skaapboerdery. Verder word daar uitgebrei oor die vernaamste wolskaaprasse wêreldwyd, wolstatistieke, veseltipes, chemiese eienskappe van wol, verkleuring van wol, neweprodukte uit wolvet, steil, tipering, ens.

Die doel van die handleiding is om dit nader te kan trek as daar by enigiemand vrae oor wol opduik. Robert is wel bekommerd oor opleiding en veral wolopleiding in die land. “Sover my kennis strek, is daar nie meer ’n instansie in die land wat die gedeelte van histologie en follikelontwikkeling aanbied nie. ’n Mens kan vir die meerderheid studente of produsente vra hoekom wol gekartel is, en jy gaan selde die regte antwoord kry. Daar is net nie meer sprake van wolnavorsing en -opleiding nie.”

Robert het ook ’n paar ekstra vrae beantwoord rondom die handleiding en sy eie belangstellings.

V: Waaroor sou jy meer wou uitbrei?

RS: Ek sou graag meer oor die ses fisiese eienskappe van wol wou skryf. Daar bestaan veral ’n behoefte om te verstaan hoe een eienskap ’n ander beïnvloed. Daarmee saam verwys ek ook na die genetiese uitwerking van eienskappe.

Ek glo dat eienskappe soos gehalte ook nie altyd reg verstaan word nie. Een van die onderafdelings in die handleiding, naamlik Curvature, is ook iets wat my baie interesseer.

V: As jy heeldag met skape kon werk, wat sou jy die graagste doen?

RS: Dit sou wees om skape te skeer, want dit is mos oestyd op ’n wolskaapplaas!

V: Hoe kan produsente waarde tot hul skeersels toevoeg?

RS: Ek dink produsente kan baie meer waarde tot hulle skeersels toevoeg deur beter toepassing van skeerselvoorbereiding. As jy my vra watter persentasie toegevoeg kan word, sal ek sê minstens 10%. Ek kry soms ’n gevoel dat die trots ontbreek as daar geskeer word.

V: Hoe kan dit aangespreek word?

RS: Daar is stelsels soos die verantwoordelike wolstandaard (RWS) wat die probleem aanspreek, maar in die verlede was daar ook stelsels soos, onder andere, Fibre Care. Maar as daar nie voldoende trots in jou produk is nie, dan is al die stelsels tevergeefs.

V: Laastens, as jy ’n kinderstorie oor wol sou skryf, hoe sou dit lui?

RS: Ek sou graag wou skryf oor die sewe wonders van wol, naamlik dat dit kreukelweerstandig asook vogabsorberend is, die insolasie-eienskappe wat verwys na kleuraffiniteit, hitte- en brandweerstandigheid, en die feit dat wol maklik hanteerbaar en duursaam is. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting en om die handleiding in die hande te kry, kontak Robert Scott by 082 774 8763 of robert.scott@bkb.co.za.