Monsterneming vir die vyfde Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is pas afgehandel. Die kompetisie is in 2014 vir die eerste keer deur die landboutydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied en het reeds vier kuilvoerkonings opgelewer. Vorige algehele wenners was Sparta Baby Beef, Hannes en Neels Neethling, Van Greunen Boerdery en Westend Landgoed.

Kuilvoer laat die wiele rol

Vanjaar is ‘n rekordgetal inskrywings ontvang en daar moes bontgestaan word om die monsterneming af te handel. Twee meestersgraadstudente aan die Universiteit van die Vrystaat, Evan Macdonald en Kobie van der Walt, het weereens dié taak met groot erns aangepak. Monsters is in twee sarsies geneem, eers die kleingraankuilvoermonsters en later die mieliekuilvoermonsters. Evan en Kobie was altesaam 17 dae op die pad om 65 plase te besoek en 74 monsters te neem.

Te danke aan NTT Toyota Barberton, kon hulle ‘n allemintige 12 800 km aflê met plase naby Darling as die heel suidelike punt en naby Louis Trichardt as die heel noordelike punt. “Ons het in die tydperk drie spoggerige Hilux-bakkies van NTT Toyota in Barberton toetsbestuur. Dit was ‘n groot lekkerte,” sê Evan.

Dié monsters word nou geanaliseer by Afgri se Labworld. Die data wat uit die analises verkry word, word dan met verskeie formules verwerk en deur prof Robin Meeske, voorsitter van die protokolkomitee, geëvalueer. Die totale monsterneming en dataverwerkingsproses word deur die Universiteit van die Vrystaat gekoordineer. Dié proses sal in Augustus afgehandel wees wanneer die Top 10 finalsite aangekondig word. Die finaliste word dan deur ‘n span beoordelaars besoek voor die wenners @ ALFA 2018 in Parys aangekondig word.

Deelnemers en insetverskaffers

Deelnemers kan via hulle kuilvoerinsetverskaffer ingeskryf word vir die kompetisie of hulle kan privaat inskryf. Vanjaar het van die top maatskappye in die Suid-Afrikaanse kuilvoerbedryf hulle kliënte ingeskryf.

Hulle is:

  • Kemin Industries met die inskrywings Jireh Dairie van Riversdal, Gerrie du Plessis van Prieska en Rory Sandberg van Woodside by Knysna.
  • Leading Edge met die inskrywings van Coenie Basson van Droëvlei by Darling, Phillip Blomdasberg van Dasvlei en Danie Louw van Eengesind, beide by Durbanville, Johan Mostert van Philadelphia en Limpopo Dairies by Louis Trichardt.
  • TWK se inskrywings was JD Cloete van Riviersonderend, Brett Gordon van Arcadia Farming by Greylingstad, Daan Malan van Rusticana Melkery by Bethal, die Beefmaster Voerkraal by Christiana en SH Niemand Voerkraal by Ventersdorp.
  • Animal Health & Nutrition (ANH) het die volgende bunkers in: Morgan Beef van Delmas, Johannes Koekemoer van Petana Beefmasters by Wolmaranstad, Chris du Plessis van Lichtenburg, Tri Star Voerkraal by Hartswater en die Kaodoolake Trust by Setlagole.
  • Budissa Agroserve se inskrywings is Westend Landgoed by Morgenzon, Rusticana Melkery by Bethal, Gordon Brown van Bag Afrika by Vryburg en Leon Meyer van Elandsfontein by Fochville. Westend Landgoed was die 2017-kuilvoerkoning.
  • Afgri Animal Feeds het ‘n stewige aantal inskrywings gehad: Louis Tractchler van FAT Feedlot by Winterton, Kevin Lang van Fairfield by Howick, Dornoch Farming cc by Boston, DP Shewan & Sons van Highflats, Clovelly Farming Trust by Underberg, Johan Kense by Greylingstad, Jaco Herbst van Econocom by Meyerton, Rusticana Melkery by Bethal, Chris du Plooy van Bloekomlaan Boerdery by Humansdorp, Bull van Rensburg van Groenwei Boerdery by Humansdorp, Poena van Niekerk van EDE Farming by Middelburg en Andrew Watts van Greenside by Eersterivier en Steven Moss Galla Hills, Queenstown.
  • Nutribase se inskrywings is Guy Smith van Farningholm by Mooirivier, Henri Goosen van Fine Crop Contracting by Bergville, Mike Willhelm van Struan by Underberg, Westend Landgoed by Morgenzon, Janvos Landgoed by Davel en JHG Kotze van Rietvlei, ook by Morgenzon.
  • Pannar Seed het ook ‘n aansienlike hoeveelheid bunkers ingeskryf. Die inskrywings is HCJ van Rensburg van New Hanover by Louis Trichardt, Hayden Stokes van Burnside by Creighton, Doug Strachan van Rydal by Highflats, Kelvin Foster van Mayfields en Rob Stypelton-Smith van Eastwolds, beide by Ixopo, Rory Bryden van Mansfield by Kokstad, Russel James van Dendolor by Mooirivier en Peter Griffin, ook van Mooirivier, Gert Ehlers van Tangeni by Greyton, Nico Human van NKD Boerdery by Riviersonderend, John Coleman van Coleman Boerdery by George en ‘n vorige wenner, Van Greunen Boerdery, ook by George.
  • Strapping & Profile het vir Joubert Fourie van die plaas Ledig by Louis Trichardt asook Van Greunen Boerdery by George ingeskryf.
  • Green Star Contractors het vir dr Paul Theron van De Goedehoop by Davel en Green Star Contractors van Hamelfontein, ook by Davel, ingeskryf.
  • Meadow Feeds het vir Callie Jordaan van Kruisrivier by Riversdal ingeskryf.
  • Biomin se inskrywings was die Peet Heenop Trust by Potchefstroom en JP Strydom van Wolvenfontein by Lichtenburg.
  • Daar was ook ‘n aantal privaatinskrywings deur Helgard Terblanche van Vadersgawe in die Groot Brak-omgewing, Manus Pretorius van Mafunyane by Brits, en Toit van der Watt van Welgemoed by Tweeling.

Landbouskole se deelname

Dit is ook die tweede agtereenvolgende jaar dat landbouskole aan die kompetisie kon deelneem, danksy Santam Landbou wat dié skole ingeskryf het. Monsters is geneem by Hoërskol Merensky, Die Hoërskool Wagpos, Morgenzon Landbou-akademie en Hoërskool Bekker. Die afdeling vorm deel van die Landboujeugfokus @ ALFA 2018 en is een van die afdelings waarin landbouskole kan meeding om die titel as ALFA Landbouskool van die Jaar.

Hou die hutsmerk #kuilvoerkoning op sosiale media dop vir meer inligting of besoek www.agriorbit.com. Vir navrae kontak Michelle Verster van Plaas Media by 012 664 4793 of 083 375 4641. Jy kan ook ‘n e-pos stuur na michelle@plaasmedia.co.za