Nuwe kwale by wildboerdery

356

Met die opbloei van wildboerdery waar diere onder meer intensiewe toestande aangehou word, het nuwe kwale begin kop uitsteek, wat nuwe uitdagings aan wildveeartse stel. Sommige van die kwale kan die sukses waarmee met sommige wildspesies geboer word, in gedrang bring. Die voorkoms daarvan kan ook hoofsaaklik toegeskryf word aan die ingryping van die mens, wat die bewegings van wild aan bande lê.

Hoewel die voorkoms van siektes feitlik altyd verhoog wanneer meer diere op kleiner oppervlaktes aangehou word as waarin hulle in die natuur funksioneer, verseker kundigheid en doeltreffende bestuur dat verliese beperk word en produksie steeds hoër as in die natuur is.

Dr Johan Steyl van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria sê dit is bekend dat die span van heinings, veral wildwerende heinings, die natuurlike migrasie van wild agter voedsame weidings en gunstiger toestande aan, beperk het. Dit het gelei tot nie-aansteeklike kwale wat verskil van wildsiektes wat deur virusse, bakterieë, parasiete, swamme en so meer veroorsaak word.

Daar is ’n duisternis van voedingsverwante toestande wat die potensiaal het om die welstand van ingeperkte wild te beïnvloed en dit is logies dat wanneer diere op mense aangewese is om kos te kry, probleme kan ontstaan.

Verhongering

Koedoes en njalas het proteïene in hul speeksel om die tannien wat
bome afskei te neutraliseer. Wanneer hulle egter ingeperk is en sulke
plante oorbewei, kan die speekselmeganisme versadig raak.

Verhongering, of proteïen-energie-wanvoeding, word deur ’n tekort aan makro-voedingstowwe veroorsaak wanneer diere te min of swak voer kry. Dit is waarskynlik die grootste enkele probleem vir ingeperkte wild. Dit moet ook van sekondêre oorsake van verhongering onderskei word, soos ouderdom, eroderende siektes soos tuberkulose, en swaar parasietbesmettings, wat tot ’n verlies aan liggaamskondisie kan lei.

Diere wat aan verhongering ly is uiters kwesbaar vir koue en sal maklik verkluim. Hulle vrek dikwels ná die klimaat koud was of snags wanneer die temperatuur daal, veral in die winter. Swak voeding en vermaering lei ook tot die onderdrukking van die immuunstelsel, wat noodlottige gevolge vir die dier kan hê.

Wanaanpassingsindroom

Groot getalle diere word elke seisoen verskuif en dit is belangrik om te weet dat die ondeurdagte verskuiwing van diere, tot dié sindroom kan lei. Die balans in die rumen van herkouers is baie gevoelig en afhanklik van gebalanseerde toestande. Enige skielike verandering in voeding kan die samestelling van die mikrobes in die rumen versteur. Hierdie samestelling herstel dikwels nie sonder ingryping deur ’n veearts nie. Daarom kan die verskuiwing van wild na heeltemal vreemde omgewings tot vrektes lei.

Wanneer dit noodsaaklik is om diere te skuif, is dit raadsaam om hulle vir aanpassingstydperke in bomas op die plaas van herkoms asook by die bestemming, te hou.

Tannienvergiftiging

Hierdie toestand ontstaan wanneer kruidagtige struike en bome oorbewei word. Baie plante het ’n beskermingsmeganisme ontwikkel deur tannien te produseer om te keer dat diere dit nie te erg ontblaar nie. Die tannien bind die proteïene in die dier se rumen, wat dit onverteerbaar maak.

Dit is wel so dat blaarvreters soos njalas en koedoes proteïene in hul speeksel ontwikkel het wat dié negatiewe uitwerking neutraliseer. Maar wanneer die diere ingeperk is en hulle sulke plante oor en oor bewei, kan die oormaat tannien die speekselmeganisme heeltemal versadig.

Waar daar dus baie tannienproduserende plante in ’n kamp voorkom, kan dit voedingspanning ten opsigte van energie en proteïen veroorsaak, en ook meebring dat die diere die beste voer nie doeltreffend kan verteer en benut nie. Dié diere kan dan verhonger.

Om die risiko te bepaal, kan wildboere kyk of daar in kampe met plante met ‘n hoë tannieninhoud, ’n duidelike snoeilyn is waar die bome kaalgevreet is. In so ’n geval moet die diere verminder en die loopgebied vergroot word, of ’n teenmiddel wat die vergiftiging teenwerk, moet by die water of voerrantsoen gevoeg word.

Suurpens

Dit behels ’n oormaat suur in die rumen weens die oormatige inname van konsentraat in die voer. Hierdie toestand kan in verskeie sindrome manifesteer, soos skielike vrektes, diarree, lewerabsesse wat met kroniese gewigsverlies gepaardgaan, bloednier en ’n vitamien B1-tekort.

Daar bestaan ’n persepsie dat voerkonsentraat nie aan wild gevoer moet word nie, maar Johan sê sy ondervinding is dat herkouers se rumens betreklik universeel is – wat aan mak diere gevoer kan word, kan in die meeste gevalle ook vir wild gevoer word. Trouens, hy glo dat die mite dat voerkonsentraat nie aan wild gegee moet word nie, daartoe lei dat baie wild nie hul volle potensiaal bereik nie.

Die insluiting van konsentrate moet wel goed bestuur word. Veral spesies wat groot hoeveelhede voer inneem en nie baie selektief vreet nie, sal makliker suurpens opdoen as kleiner wildsoorte, wat meer gekonsentreerde voeding nodig het maar instinktief nie hulself oorvreet nie.

Mineraalwanbalanse

Baie inligting bestaan oor mineraaltekorte, die tussenwerking van verskillende minerale en die nadele van die oormatige toediening daarvan by mak vee. Daar is egter min inligting oor mineraalverwante probleme by wild.

In die grootste dele van die land is weidings arm aan koper, selenium en fosfaat. Wildboere behoort hul weidings, asook die organe van diere wat gejag word, te laat ontleed om sulke tekorte wetenskaplik te bepaal. Die nodige aanvullings kan dan gegee word, aangesien minerale ’n groot rol in die funksionele doeltreffendheid van die diere speel.

Vermaeringsindroom

Hierdie is ’n betreklik nuwe kwaal wat deesdae ál meer kop uitsteek as gevolg van die intensiewe teling van kleurvariante. Dieselfde toestand kan egter ook ontstaan wanneer selektiewe teling vir unieke eienskappe, veral horinglengte, gedoen word. Dit ontstaan ook waar baie sterk reproduktiewe druk op manlike diere geplaas word – met ander woorde, te veel vroulike diere by enkellopende manlike diere.

Dit kan gedurende die teelseisoen tot reproduktiewe uitputting en lae vrugbaarheid by manlike diere lei. Die vroulike diere sal egter reproduktief aktief bly en die paartyd sal langer raak as in die natuur. Die manlike diere sal minder tyd hê om te vreet en ’n ander vorm van verhongering sal voorkom by die spesies wat seisoenaal paar.

Spierooreisingsindroom

Dit is waarskynlik die mees algemene probleem vir wildboere. Wanneer wild gevang word, is hul instinktiewe reaksie om te vlug. Hul spiere kan egter net vir ’n sekere tyd teen volle kapasiteit werk. As hulle aanhou vlug en spook tydens die vangproses, doen hulle permanente hart- en spierskade op.

Die normale simptoom is dat die dier nie kan opstaan nie en dat die urine ’n wynrooi kleur het. Hoewel die dier nie noodwendig dadelik vrek nie, kan permanente hartskade twee tot drie weke later nog tot vrektes lei.

Bosluisvergiftigingsindroom

In die natuur het wild ’n natuurlike meganisme wat dit moeilik maak vir bosluise om aan hul velle vas te byt en te voed, wat ook deur laer bosluisdruk ondersteun word. Onder intensiewe toestande verander dit beduidend in die guns van bosluise.

Hoë veebelading en swak voedingstoestande is die grootste oorsaak van hoë bosluisbesmettings by wild. Dan begin bosluisvergiftigingskwale soos immuunonderdrukking, velafsterwing weens bosluisbyte en bosluisverlammingsiekte, kop uitsteek. Die raad van ’n veearts is nodig om bosluise oordeelkundig te beheer.

Aangebore gebreke

Kleurvariante se selle produseer nie genoeg pigment
nie en lei tot toenemende gevalle van velkanker of
melanoom by wild.

As gevolg van selektiewe teling vir spesifieke eienskappe wat dikwels aan inteling grens, begin aangebore gebreke soos hart- en lewerprobleme asook misvormde hoewe al hoe meer voorkom. Wildboere moet besef wat die nadelige uitwerking van veral lynteling kan wees. Dit is vandag moontlik om die genetiese samestelling van ’n kudde akkuraat te bepaal en te weet wat die inteelpersentasie van elke paring sal wees.

Voorkoms van kanker

Dit is ’n probleem wat vandag toenemend by veral kleurvariante voorkom, soos konings- en gouewildebeeste, en diere met ’n wit of baie ligte haarkleed. By die meeste van dié diere is daar baie minder selle wat pigment produseer, of die selle is defektief. Hierdie selle is noodsaaklik om die vel teen die skadelike ultravioletstrale van die son te beskerm. Daarsonder verhoog die risiko van die ontwikkeling van velkanker en melanoom beduidend, sê Johan. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Johan Steyl by 082 398 4823 of johan.steyl@up.ac.za.