Jannie Strydom

Agri Wes-Kaap het sy nuwe hoof uitvoerende beampte, Jannie Strydom, op 1 Maart 2019 verwelkom. Strydom, wat ’n meestersgraad in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria behaal het, neem die leisels oor by Carl Opperman, wat na 20 jaar as hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap afgetree het.

Read it in English. 

Strydom het omvattende ervaring as ’n landbou-spesialis by finansiële instellings en was ook ’n dosent in landboubestuur aan die Glen Landboukollege. Hy het vir die nasionale Departement van Landbou as landbou-ekonoom gewerk en het meer onlangs ’n koöperatiewe ontwikkelingsprogram, wat deur USAID befonds is, vir ’n VSA-gebaseerde maatskappy bestuur.

Strydom sê dit is ’n voorreg om in die voetspore van Carl Opperman te volg wat ’n waardevolle nalatenskap in die landbousektor laat. “Die Wes-Kaap is op ’n vooruitstrewende en gespesialiseerde landbousektor gebou. Dit is ’n voorreg om in diens van georganiseerde landbou te wees en by te dra om die sektor as ’n ekonomiese sleutelspeler nóg sterker die toekoms in te neem.” – Persverklaring