Vinpro bied steeds sy gewilde opleidingskursusse vir wingerdspanne aan, maar wel in ʼn nuwe formaat om die verspreiding van COVID-19 te verhoed.

Wyndruifprodusente kan nou versoek dat praktiese demonstrasies in die vorm van ’n halfdagkursus op die plaas aangebied word, vir nie meer as 15 persone nie. Hierdie nuwe formaat vervang die gebruiklike voorafbepaalde voldagkursusse wat beide teorie en praktiese opleiding vir groter groepe behels het.

“Dit is vir ons belangrik dat wingerdwerkers deurlopend bemagtig word deur opleidingsgeleenthede soos die wingerdkursusse, terwyl hul veiligheid ook geprioritiseer word,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdkundige en koördineerder van die kursusse. “Deur die formaat aan te pas, wil ons die vervoer en byeenkom van wingerdspanne in een lokaal verhoed en die verspreiding van COVID-19 beperk.”

In die plek van die gebruiklike tien opleidingsmodules kan produsente nou uit twee praktiese sessies kies wat op hul plaas aangebied kan word.

Winteropleiding:

  • Basiese snoeibeginsels (kort-, halflangdraer- en Guyot-stelsels)
  • Onderhoud van snoeiskêre
  • Voorkoming van stamsiektes
  • Korrekte planttegniek van jongstokkies

 Someropleiding:

  • Basiese werking van die wingerdstok
  • Doel van lowerbestuur
  • Verskillende lowerbestuurstegnieke
  • Jongstokontwikkeling
  • Algemene siektes en plae

Implementering van basiese gesondheidsmaatreëls

Elke persoon wat die opleiding bywoon ontvang ʼn gratis veiligheidsmasker, terwyl die basiese gesondheidsmaatreëls geld, onder meer temperatuurmeting, die was en ontsmet van hande, asook die handhawing van sosiale afstande gedurende die sessies.

Te danke aan die finansiële ondersteuning van die Vinpro Stigting, het Vinpro verlede jaar meer as 1 000 persone touwys gemaak in die beste wyndruifverbouingstegnieke. Vanjaar is Columbit ook as ’n waardevolle vennoot by die opleiding betrokke.

Die koste beloop R210 per persoon. Bespreek nou ʼn praktiese opleidingsessie deur die Vinpro-opleidingskantoor te kontak by 021 276 0429 of training@vinpro.co.za. – Persverklaring, Vinpro