Nuwe planne vir ’n positiewe wildbedryf

282

Omvattende planne word beraam om die positiewe beeld van die wildbedryf en wildboerdery te verstewig. Dit behels stelsels om die wildboer se taak te vergemaklik, die pilare waarop die bedryf rus te verstewig, noodhulp in ramptye, ’n plan om selfregulering van die bedryf te bevorder en om transformasie sinvol te bewerkstellig.

Richard York, die nuwe hoof uitvoerende beampte van WRSA, saam met sy vrou, Bianca, en hul kinders Ronan en Elizabeth.

Einde van verlede jaar is ’n nuwe voorsitter, ondervoorsitter en nuwe raadslede vir Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) verkies en ’n nuwe uitvoerende hoof is aangestel. Die organisasie, die amptelike mondstuk van die plaaslike wildbedryf, sê dié nuwe leiers sal met hul uiteenlopende kundigheid en ondervinding in die bedryf, waardevolle bydraes lewer tot die implementering van WRSA se strategieë vir ’n volhoubare wildbedryf in die land.

Nuwe raad van die WRSA

Die voorsitter, Gerhard Heyneke, boer sedert 2008 met wild en het wye ondervinding van die bedryf. Hy word bygestaan deur die ondervoorsitter, Colin Engelbrecht, wat al 25 jaar lank met wild boer en op verskeie vlakke in die bestuur van die organisasie gedien het. Die nuwe raadslede is Tebogo Mogashoa, ’n voormalige voorsitter van WRSA, Malan Davey, Louis van der Watt, Kgomotso Maphai, Thinus Jurgens, dr Peter Oberem, Nonkqubela Mayatula, Charl du Toit, Pieter Ernst (jr), Rouan Nel en dr Tlalane Lesoli.

Richard York, die nuwe hoof uitvoerende beampte, is as’t ware in die wildbedryf en tussen wild gebore. Hy is baie opgewonde oor die geleentheid om sy kundigheid in te span om die uitdagings in die bedryf in geleenthede vir lede te omskep.

Uitdagings is egter nie vir hom iets nuuts nie, want sy gesin het al die pad geloop. Sy pa, Barry, het in die 1980’s uit Zimbabwe gekom en ’n wildboerdery langs die Limpopo naby Ellisras gevestig. Ná grondonteienings hom verplig het om te verskuif, het hy uiteindelik in die omgewing van Alma in Limpopo nes geskop, waar hy deesdae saam met sy seuns, Richard en Chris, die bekende York Safari’s bedryf.

Richard sê, net soos vir sy gesin, is mislukking nie vir hom ’n opsie nie. Met die uitstekende wildpryse wat vir ’n paar dekades min druk op die bedryf geplaas het, het talle wildboere in ’n gemaksone beland. Pryse wat skielik baie laer realiseer, die uitdagings van bek-en-klouseer en die COVID-19-pandemie wat alles tot stilstand geruk het, dwing wildboere egter nou om na ander strategieë te kyk om volhoubaar te kan oorleef.

Planne om die wildbedryf te bevorder

In die laaste dekade het die aanbod van goeie teelmateriaal en jagdiere van die meeste spesies meer as verdubbel. Dit is ironies dat die wildboere se vermoë om uitsonderlike diere te vermeerder en te verbeter, juis die oorsaak is dat die bedryf van sy beleggingsaantreklikheid verloor het. Die uitdaging is om ’n gesonde bedryf in stand te hou wat weer beleggings sal lok.

Daarom was die fokuspunte van die bedryf verlede jaar om ’n gesonde finansiële model te skep deur wetgewing wat die bedryf knel te beïnvloed, groei te stimuleer en vraag aan te wakker deur jag, teling, toerisme en wildprodukte te bevorder, transformasie sinvol te steun en internasionaal en plaaslik beter te kommunikeer.

WRSA se nuwe kantoor is in Centurion.

Richard sê hy is geseën met ’n toegewyde bestuur en saam kan hulle die bedryf bevorder. Om te begin was dit egter noodsaaklik om te bepaal hoe hulle lede sake sien. ’n Opname, waaraan 198 respondente deelgeneem het en waarvan 81% lede van WRSA is, is gedoen. Altesaam 76% het aangedui dat hulle gelukkig tot baie gelukkig is met die diens wat die organisasie lewer.

Die rol van jag en wildprodukte

Op die vraag oor wat die belangrikste pilare is waarop die bedryf behoort te fokus, het die meerderheid internasionale en plaaslike jag as die vernaamste uitgesonder. Dit is veral in die grendeltydperk, toe internasionale jagters nie die land kon besoek nie, dat dit duidelik geword het watter enorme rol hulle in die welvaart van die bedryf speel. Waar moontlik het plaaslike jagters wildboere steeds ondersteun en het verskeie innoverende nuwe trekpleisters wat mense na wildplase lok, die lig gesien.

Wildprodukte soos wildsvleis en verwerkte goedere word as die tweede belangrikste punt gesien waarop gefokus moet word. Wildsvleis is een van die goedkoopste en gesondste bronne van proteïen wat vir Suid-Afrikaners beskikbaar is, maar die regte bemarkingskanale ontbreek. Suksesvolle kanale moet geskep word en verbruikers wat ál verder van die natuur verwyder raak, moet opgelei word. Velle, leerprodukte, taksidermie en produkte van horings, tande en ander wildprodukte verdien ook groter aandag.

Alle vorme van toerisme het vir feitlik sewe maande heeltemal tot stilstand gekom en die bemarking van toeristebestemmings en ekotoerisme sal nou ’n besondere poging verg. WRSA se lede beskou toerisme as die derde belangrikste pilaar van die wildbedryf wat aandag nodig het. Dit word gevolg deur wildteling. ’n Vyfde pilaar, naamlik gemengde boerdery, is bygevoeg.

Wildteling

Tot ongeveer 2016 was teling die belangrikste bedrywigheid vir wildboere, omdat hulle nie net besig was om wildspesies se getalle te vermeerder nie, maar ook die gehalte van die teeldiere te verbeter omrede jagters die uitsoek- en gesogte diere oor baie dekades uitgeskiet het.

Teling gaan weliswaar nog altyd ’n belangrike rol speel om die genetiese gehalte van teel- en trofeediere verder te verbeter. Die meeste wildspesies se getalle is egter nou so opgebou dat die vraag na teeldiere gedaal het en net werklik uitstekende diere nog uitstaande pryse behaal.

’n Interessante verwikkeling is dat die laer pryse, uitdagings van die droogte, bek-en-klouseer en COVID-19 veroorsaak het dat verskeie teelprogramme gestaak en die teeldiere op oop plase uitgesit is. Die moontlike gevolg hiervan is dat die aanbod van teeldiere oor vyf tot sewe jaar kan daal en dat daar ’n nuwe golf van groter vraag kan ontstaan.

Die inperkingstyd het baie wildboere se kontantvloei dermate geknou dat hulle weer beeste, skape en ander boerderyvertakkings begin benut het, en daarom voel van die lede dat dit ook ’n nuwe ontwikkeling is waaraan WRSA aandag behoort te gee.

Selfregulering van die wildbedryf

Altesaam 96% van die wildboere wat aan die opname deelgeneem het, voel dat die bedryf self gereguleer en bestuur behoort te word. Richard meen dit sal waarskynlik ’n langsame proses wees waarin die staat stelselmatig oortuig moet word dat die bedryf toegerus is om dit self te doen. Die wildbedryf moet bewys hy groei, bewaar, dra by tot die ekonomie en is verantwoordelik genoeg om na homself om te sien.

Om dít reg te kry sal die bedryf betroubare inligting moet insamel en dit deurdag moet aanwend om dié doel te bereik, sonder om die staat te antagoniseer. Dit behels dat WRSA aanlynplatforms sal moet skep om die insameling, verwerking en berging van inligting te vergemaklik. Om wildboere egter só ver te kry om werklik aanlyn betrokke te raak, is volgens hom ’n verdere uitdaging.

As ’n lidmaatskapsgedrewe organisasie is dit belangrik dat WRSA op die behoeftes van sy lede fokus om nuwe en innoverende stelsels te identifiseer, wat dit makliker sal maak en boere beter in staat sal stel om welslae met hul ondernemings te behaal. Uit die reaksie op die opname is dit duidelik dat daar beslis sulke behoeftes bestaan.

Aanlynstelsels en -veilings

Van die stelsels wat ondersoek en geïmplementeer kan word, is ’n aanlynstelsel waarop lede kan aansoek doen vir permitte. Baie produsente moet ver ry om vir permitte aansoek te doen en weer om dit te gaan haal, wat die koste van ’n permit maklik met R2 000 kan opjaag.

’n Aanlynprofielstelsel, wat lede verbind en hulle gereeld aan vervaldatums van sertifikate en ander wetlike verpligtinge herinner, is ook as ’n behoefte geïdentifiseer.

Daar is ook ’n duidelike behoefte aan ’n aanlynplatform vir bemarking en verkope. Wildboere het bewys hulle is uitstekende telers, maar die meeste kom nie die mas op as dit by bemarking kom nie. Daarby kan die aanbieding van aanlynveilings ook ’n groot hulpmiddel wees.

Richard sê ander stelsels wat hy glo van baie waarde kan wees en wat hy ondersoek, is om ’n stigting op die been te bring wat wildboere in ramptye kan help om te oorleef, deur wild aan die boer in nood te ‘leen’, wat hy ná ’n tyd teruggee en waarvan hy ’n deel van die aanteel kan hou om hom weer op die been te help.

Transformasie moet ook sinvol aan die gang gekry en volhoubaar gemaak word. Die wiele van die wildbedryf het om verskeie redes tot stilstand geknars. Dit moet nou weer aan die rol kom, sê Richard. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Richard York by 083 564 1839 of ceo@wrsa.co.za.