Nuwe president vir Bloemskou

1211

Nuwe leierskap is verkies tydens die algemene ledevergadering van die Sentrale Landbougenootskap, wat die jaarlikse Bloemskou hanteer.

Coen van Tonder is aangewys as die nuwe president van die Sentrale Landbougenootskap en Bloemskou, Alda Fourie is aangewys as vise-president van handel en nywerheid en John Melville as vise-president van landbou.

Len Davies het na sewe jaar as president, van 2011 tot 2018, uitgetree. Hy het sy dank uitgespreek teenoor sy mede-raadslede, personeel en alle betrokkenes by die jaarlikse Bloemskou. Hy sê hy is trots op die wyse waarop die skou die afgelope paar jaar gegroei en verbeter het.

Van Tonder was sedert 2006 die voorsitter van die beestekomitee by die Bloemskou en sedert 2010 die vise-president van landbou by die Bloemskou. Hy is ’n bekende Dexter-boer van die omgewing. Melville is ’n senior tegniese veldbeampte by CMW en was sedert 2010 die voorsitter van die kleinveekomitee by die Bloemskou. Fourie is die verkoopsbestuurder by OFM en is sedert 2008 by die Bloemskou betrokke as raadslid en komiteelid.

Bloemskou 2019

Die skou het ook sy 2019-datums bekendgemaak. Die Bloemskou sal in 2019 van 26 April tot 4 Mei plaasvind. Besprekings vir uitstalruimtes het reeds geopen. Besoek www.bloemskou.co.za vir meer inligting. – Persverklaring