Suid-Afrikaanse appel- en peerprodusente, asook die uitvoerders van die produkte, moet kennis neem van veranderinge wat in die vernaamste markte plaasvind. Hulle moet ook by die veranderde tendense aanpas en nuwe geleenthede benut, sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit Marketing.

Hy het pas teruggekeer na ’n besoek aan Fruit Logistica, ’n varsprodukte-skou in Berlyn. Die skou spog met sowat 70 000 besoekers oor drie dae en meer as 3 200 maatskappye wat uitstal.

Pienaar sê die voordeel wat Fruit Logistica inhou, is dat dit die hele spektrum van die bedryf en die hele waardeketting dek, met die jongste innovasie ten opsigte van verpakking, produksie, logistiek en bemarking.

“Dit is belangrik om die skou by te woon. Vir Tru-Cape is die grootste trekpleister na die skou die feit dat dit die begin is van ons bemarkingsvenster.

“Al ons kliënte uit Europa en die Verenigde Koninkryk woon die skou by. Die skou gee ons dus die geleentheid om in drie dae presies te verstaan wat in die Noordelike Halfrond aangaan ten opsigte van appels en pere. Hoe lyk hul appel- en peervoorraadvlakke, waarteen verkoop die produk, en hoe lyk die bemarkingsgeleenthede in die nuwe seisoen. Ons kry, as maatskappy, ’n baie goeie idee hoe die mark lyk.”

Pienaar sê hy kon vanjaar nuwe tendense waarneem. Van ’n produksiekant kon hy duidelik sien dat die mark verander.

“Ons bemarkingsvenster in sekere markte, veral in Europa en selfs in die Verenigde Koninkryk, raak kleiner as gevolg van groter produksie in die Noordelike Halfrond, asook nuwe tegnologie wat meebring dat hul seisoen langer strek. Die venster wat kleiner raak, bring nuwe geleenthede in ander markte.”

Pienaar sê ander tendense wat hy opgetel het, is dat kleur en grootte ’n belangriker rol in die mark speel. “As produsente sal ons moet leer om te produseer wat die mark wil hê.

“Uit ’n bemarkingsperspektief speel jy volgens ’n stel reëls. Aan die een kant het jy wat die mark wil hê, of wat ’n sekere kettinggroep wil hê, maar aan die ander kant het jy politieke faktore, soos Brexit en Trump se standpunt ten opsigte van invoerheffings, wat jou mark beïnvloed.”

Suid-Afrika se grootste uitvoerder

Pienaar sê Tru-Cape is Suid-Afrika se grootste uitvoerder van appels en pere. Die maatskappy voer na 104 lande uit en verkoop meer as 16 miljoen kartonne elke jaar. Die maatskappy bemark in Amerika, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Europa, die Midde en Verre Ooste en ook in Afrika.

Pienaar sê iets wat hom baie trots maak, is dat byna die helfte van Tru-Cape se produkmandjie in Afrika verkoop word.

“Die lande waarheen ons uitvoer is baie kultivarspesifiek. Meer as ’n derde van ons pere word na Europa uitgevoer. ’n Paar jaar gelede was dit amper die helfte. Oor tyd moes ons ander markte gaan soek het vir pere. Daar is veral gefokus op die Ooste en Rusland, wat weer nuwe risiko’s gebring het. Meer as 80% van ons Golden Delicious word in Wes-Afrika verkoop.

“As jy na die totale mandjie kyk, moet jy die halfmiljoen kratte wat ons elke jaar van ons produsente ontvang in verskillende lande gaan neersit. Party lande soek groter vrugte. Ander kleiner vrugte en jy moet die verskillende permutasies bestuur.”

Verskeie goeie geleenthede

Pienaar verwag dat China binnekort gaan oopmaak vir Suid-Afrika se pere. Hy reken daar gaan redelik geleenthede in die Verre Ooste wees en as hy na die nuwe kultivars kyk wat Tru-Cape se produsente nou plant, is hy opgewonde oor wat voorlê.

Afrika, met ’n bevolking van meer as ’n biljoen mense, het nog groot potensiaal. Daar is sekere markte in Afrika waar Tru-Cape nog glad nie besigheid doen nie.

Pienaar is optimisties dat 2019 ’n goeie volume jaar met goeie gehalte en kleur gaan wees en dat Suid-Afrika se appel- en peerproduksie weer ’n opwaartse trajek sal toon. – Hugo Lochner, AgriOrbit

AgriOrbit het ook met Pienaar gesels oor sy verwagtinge vir die 2019 appel- en peer-oes. Kyk die video nou: