Die jaarlikse Business of Wine & Food Tourism Conference, tans in sy vierde jaar en sedert 2019 bekend as die Wine & Food Tourism Conference, het die Wine & Food Tourism Awards bekend gestel.

“Die doel van hierdie nuwe toekennings is om erkenning te gee aan daardie individue en spanne wat uitsonderlike bydraes tot die ontwikkeling en promosie van die Suid-Afrikaanse wyn- en kostoerismebedryf gemaak het,” sê Margi Biggs, ’n spesialis in wyn- en kostoerisme en sameroeper van die Wine & Food Tourism Conference.

“Daar is so baie wat in ons guns tel in Suid-Afrika. Ons het natuurskoon en veelbekroonde wyne wat reeds die aandag van kenners regoor die wêreld aangegryp het. Ons restaurante en gastronomie is alombekend. Weer eens is ons op die lys van die wêreld se 50 beste restaurante, hierdie keer vir 2018. Ons bestanddele is vars, heerlik en naspeurbaar. Ons kosmarkte is dikwels die sterre op sosiale media. Ons word wêreldwyd erken vir ons vriendelike gasvryheid. Dit alles is allemintige trekpleisters.

“Gelukkig is toerisme in die Wes-Kaap die streek se vinnigste groeiende sektor met meer as 200 000 mense in diens en ’n jaarlikse bydrae van R17 miljard tot die ekonomie. Ons glo die potensiaal is daar om die werkgeleenthede te laat groei tot 300 000. Almal van ons kan help om dit te verwesenlik. My mening is dat die nuwe Wine & Food Tourism Awards ’n besliste rol hierin kan speel.

“Ons is bly om te kan aankondig dat Jean-Pierre Rossouw sal dien as die toekenningsprogram se voorsitter en ’n ogie sal hou oor die beoordelingspaneel. Rossouw, die uitgewer van die Platter’s South African Wine Guide, die land se gesaghebbendste gids oor plaaslike wyne, en Rossouw’s Restaurant Guide, ’n onafhanklike gids van die Suid-Afrikaanse koslandskap, is ’n bekende en gerespekteerde persoonlikheid in die land se wyn- en kosbedryf,” verduidelik Biggs.

Beoordelingskategorieë vir 2019

Die beoordelingskategorieë vir die Wine & Food Tourism Awards 2019 is:

  • Innovasie: Om erkenning te gee aan uitstekende en oorspronklike vernuwing in konsepte, produkte en/of dienste wat ’n waardevolle bydrae maak, unieke ervarings bied en/of kos- en/of wyntoerisme in Suid-Afrika bevorder.
  • Uitsonderlike diens: Om die kollig te laat val op daardie mense in die Suid-Afrikaanse wyn- en kosbedrywe wat uitblink in dienslewering en sodoende voortdurend ’n onvergeetlike kliënte-ervaring bied.
  • ’n Eg Suid-Afrikaanse ervaring: Om erkenning te gee aan inisiatiewe wat ervarings skep wat getrou is aan die Suid-Afrikaanse kultuur waarin verbruikers hul ten volle kan uitleef, en terselfdertyd die land se ryk kulturele erfenis deur wyn en kos bevorder.

Die innovasie-kategorie sal beoordeel word deur die bemarkingskenner, Steve Massey, die strategiese bemarkingskenner, Mac Mabidilala, en Sheryl Ozinsky, ’n toerismekenner en die mede-stigter van die Oranjezicht City Farm.

Die kategorie vir uitsonderlike diens sal beoordeel word deur die toerisme- en gasvryheidskenner, Horst Frehse, die konferensiespesialis, Gwynneth Matthews, en die bekende sommelier, Higgo Jacobs.

Die stigter en eienaar van Wine.co.za, Judy Brower, die gasvryheidsentrepreneur, Janet Pillai, en die wynbedryfbemarkings- en kommunikasiekonsultant, André Morgenthal, sal as beoordelaars optree vir die eg Suid-Afrikaanse ervaring-kategorie.

’n Maksimum van drie vereerdes per kategorie sal gehuldig word en elkeen sal die geleentheid kry om die Wine & Food Tourism Awards 2019-logo op al hul bemarkingsmateriaal te gebruik vir die volgende jaar. Individue of spanne wat drie jaar agtereenvolgens vereer word, sal lidmaatskap van die Wine & Food Tourism Honourees Club ontvang.  Daarna sal hulle egter nie weer vir dieselfde kategorieë benoem kan word nie.

Nominasies

Deelnemers mag soveel moontlik wyn- en/of kosplekke nomineer, en in elke of alle kategorieë. ’n Afsonderlike vorm word benodig vir elke nominasie. ’n Administrasiefooi van R600 is van toepassing op elke nominasie.

Nominasies kan van 2 April af via die webblad www.wineandfood.co.za gedoen word. Die sluitingsdatum vir nominasies is 10 Junie 2019.

Die name van die vereerdes per kategorie in vanjaar se Wine & Food Tourism Awards sal bekend gemaak word op die Wine & Food Tourism Conference 2019 wat op 18 September 2019 op Spier buite Stellenbosch aangebied word.

Die 2019-konferensie, met die tema The Future of Wine & Food Tourism, sal, nes vorige jare, ’n waardevolle platform voorsien vir deelnemers om te netwerk en op hoogte te bly van wat gewild is en tans in Suid-Afrika se wyn- en kostoerismesektor gebeur. Die lys plaaslike en internasionale kenners wat op die konferensie sal optree, sal in die komende weke bekend gemaak word. Registrasie vir die konferensie het op 2 April begin.